WYSHEIDSTORIES (15)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade

BAD  'N  OLIFANT

Die legende lui dat 'n pottebakker jaloers was op die voorspoed van 'n eenvoudige deeglike wasvrou. Sy het naderhand groot geld verdien deurdat sy ook die keiser se wasgoed gewas het. Ander hoëlui het haar ruim vergoed vir haar goeie diens. Die pottebakker het jaloers geword en wou haar goeie besigheid 'n knou gee. Aangesien die pottebakker vriende was met die keiser, het hy die dwase regeerder wysgemaak dat die vrou een van sy swart olifante kon was totdat hy spierwit is. Die pottebakker het in sy mou gelag, want in daardie dae kon iemand wat 'n bevel van die keiser nie uitvoer nie, summier doodgemaak word.

Die vrou kry toe die keiserlike bevel om die keiser se olifant letterlik silwerskoon te was totdat dit spierwit is. Die vrou was nie 'n dwaas nie, en het dadelik gesien waarop dit afstuur. Toe laat weet sy die keiser dat sy die badwerk sou doen volgens sy bevel, maar iemand moes 'n groot genoeg kleipot voorsien om die olifant in te was. Die keiser beveel toe die pottebakker om 'n groot genoeg kleipot te maak waarin sy swart olifant gebad kon word.

Die pottebakker het 'n reusepot gemaak en dit met groot moeite by die wasvrou afgelewer. Maar toe die olifant daarin klim, trap hy dit flenters. Die keiser se bevel het egter steeds bly staan en die man was verplig om 'n ander kleipot te maak. Elke keer te klein en swak vir die groot swaar en sterk olifant wat dit elke keer met sy ses ton gewig uitmekaargebreek het. Uiteindelik het die pottebakker geen klei meer oorgehad nie.

So is die pottebakker self uitgevang omdat hy slegte planne uitgedink het uit afguns om 'n ander te benadeel.

WÊRELD  SE  GROOTSTE  VIOOLSPELER

Na 'n uitvoering waaraan van die wêreld se beroemdste musikante deelgeneem het, het twee van die kunstenaars in 'n restourant gaan eet. Die kelner kom sit toe 'n koevert wat by die toonbank afgelewer is, op hulle tafel neer. Dit was geadresseer aan  "Die wêreld se grootste violis".

Albei vioolspelers het gedink dit is vir hulle bedoel, maar wou voorgee dat hulle nie grootdoenerig was nie en vra dat die ander een die koevert oopmaak. Na 'n rukkie se oor en weer aangee van die koevert, besluit die een dat dit tog hy is wat so beroemd is en hy maak die koevert oop.

In die brief staan toe dat die koevert vir 'n derde vioolspeler bedoel is. Nie een van hulle twee word as so beroemd beskou nie. Die twee het mekaar skaam in die oë gekyk met die wete dat hulle sogenaamde  "nederigheid"  nooit voorsiening gemaak het vir die moontlikheid dat iemand anders as hulle twee die beste violis ter wêreld sou wees nie. Hulle het geleer dat jy nooit jouself as beroemd moet beskou nie. Daar is altyd iemand beter as jy.

HAAN  SE  VERBEELDING

Daar was eendag 'n grootdoenerige haan op 'n plaas. Hy het elke oggend die son laat opkom. Of so het hy beweer. Elke oggend het hy vroeg opgestaan, na die dak van die opstal gevlieg; ge-koek-e-doedele-doe en dan gewag dat die son agter die horison moet opkom. Elke oggend het die ander diere hom gegroet met:  "Baie dankie dat jy weer die son laat opkom het vanoggend."  Of:  "Mȏre, meneer Haan!  Mooi so!  Jy het dit weer gedoen!"  Of:  "Moenie môre vergeet nie, meneer Haan!"

Die ander hoenders en diere dink reeds:  "Hoe gaan die boer se graan groei en die skoolkinders wakker word en die ryp smelt en die blomme oopgaan as Haan nie daar is om die son te laat opkom nie?  Wat gaan gebeur as die son nooit weer opkom nie?  Die wêreld sal koud en donker word. Die gras en die bome sal doodgaan. Later sal al die diere op die plaas ook doodgaan."

Haan het geweet hy flous die diere. "Ek het geen keuse nie. Om aansien te behou en gerespekteer te word, moet ek maar net sorg dat ek soggens vroeg op daardie dak is en kraai!"

Om die son elke dag te laat opkom, was 'n groot verantwoordelikheid wat die hoenderhaan self op sy skouers geplaas het. "Sê nou ek word siek?"  het hy dikwels gedink. 

En toe een aand word meneer Hoenderhaan na oom Bul se verjaardag uitgenooi. Dit het 'n laatnag geword en daar verslaap Haan hom toe die volgende oggend!  Die plaasdiere het vergeefs gewag dat Haan moet kraai om die son te laat opkom. Maar hy het nooit opgedaag nie.

Hulle wou net in paniek verval toe hulle 'n skynsel teen die horison sien ... en daar steek die son sy kop uit, sonder Haan.

Die diere was kwaad en verleë. Hulle gaan skud daar en dan vir Hoenderhaan wakker en snou:  "Jy het al die jare vir ons gejok, man!  Jy het ons vir die gek gehou. Dis toe nooit jy wat die son laat opkom nie. Kyk daar!  Hy sit al hoog teen die hemel. Skaam jy jou nie?"  Haan het ellendig gevoel. Verneder en teleurgesteld en verbaas en kwaad. Vandat hy kan onthou het hy met die leuen geleef dit is hy wat die son laat opkom. En nou is hy uitgevang.

Maar hy was aan die ander kant ook verskriklik verlig.  "Wat 'n las van my skouers af. Ek hoef nie, ek kan nie, die son laat opkom nie!  Die son het vanoggend, en elke ander oggend, self opgekom.

Moenie dink dat alles wat in die lewe gebeur van jou afhanklik is nie. Jy is nie so belangrik nie. Ander mense kan sonder jou klaarkom.