Skerp Waarnemer
Lees reeks by Wysheidstories
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
PERDE VERDWYN
'n Voorspoedige perdeboer se een perd het op 'n dag verdwyn. Hy en sy helpers het oral op die groot plaas in die klowe en bosse gesoek, maar hulle kon die perd nêrens kry nie. Die plaas was goed omhein en die grensdraad is oral nagegaan, maar daar was geen deurkomplek vir 'n perd nie.
'n Ruk later het 'n tweede perd sonder 'n spoor verdwyn omdat dit deur die nag gereën het. Van tyd tot tyd het nog 'n perd verdwyn totdat vyf perde weg was. Die boer was raadop omdat die verdwynings in groot geheimenis gehul was.
Op hierdie tydstip, laat een middag, kom 'n ietwat gehawende reisende ruiter op die plaas aan. Hy vra die perdeboer of hy 'n bietjie voer en water vir sy knolperd het, want hy het daardie dag ver gery en sy perd was moeg. Soos boeremense is, het die boer voer en water verskaf en die ruiter genooi om aandete saam met sy mense te geniet. Hy kon sy perd op stal sit. Ongelukkig het hy nie slaapplek vir die ruiter nie, tensy hy op 'n hoop strooi in die skuur sou slaap. Die ruiter bedank die boer hartlik vir sy vriendelikheid en gulhartigheid wat hy nie in so 'n groot mate verwag het nie.
Voordat hulle gaan slaap het, vertel die boer vir die ruiter van sy penarie met die vyf perde wat spoorloos uit sig verdwyn het. Tussen hulle kon hulle nie 'n oplossing vind nie.
Toe die perdeboer vroeg die volgende oggend opstaan, was die ruiter en sy perd weg. Bekommerd het die boer alles in die skuur en stalle nagegaan, maar niks is geneem nie. Die ruiter kon gerus net 'n paar minute gewag het om soos 'n ordentlike mens te groet, miskien was hy om die een of ander rede baie haastig.
Later in die dag keer die ruiter terug en bring saam met hom al vyf verdwene perde. Hy vertel toe dat hy deur die nag kort-kort aan die perde gedink het en gewonder het hoe hy die boer kon help. Vroeg wakker geword, het hy op die werf gestaan en die mooi natuurskoon ingeneem. Dit is waar hy aan die gedagte gekom het: "As ek 'n perd was, waarheen sou ek geloop het". Hy het sy perd opgesaal en soos 'n perd sy natuurlike instinkte gebruik om rigting in te slaan, en daar in 'n kloof in die boendoes vind hy al vyf perde.
Die les hieruit: Moenie soos 'n mens dink as jy 'n dier wil verstaan nie. Moenie soos jou eie volkgenote dink as jy iemand van 'n ander volk se redenasie wil verstaan nie. Moenie soos 'n verstandige dink as jy 'n onverstandige wil verstaan nie. Begryp eers 'n ander se denke voordat jy hom met wysheid kan reghelp.
STUKKENDE VIOOL
'n Gesin het 'n huis uit 'n boedel van ouer mense gekoop. Die huis het opknapping nodig gehad en hulle het eers in die woonvertrekke met herstelwerk begin. Laaste het hulle by die solder uitgekom waar hulle die met stofbedekte artikels eers buite gepak en bekyk het.
Tussen die ou goed het hulle 'n viool gevind wat, nadat dit skoongemaak is, op die oog af na 'n duursame viool gelyk het. Hulle het die viool na 'n musiekkenner geneem wat bevestig het dat dit 'n egte kosbare viool is. Hy het sy bes probeer, maar kon die viool nie ingestel kry nie, alhoewel hy geen ander fout daarmee kon vind nie. Verskeie ander musiekkenners het sonder sukses probeer help. Uiteindelik het hulle moed opgegee en die viool het eenkant in 'n buitevertrek beland.
Sowat 'n jaar later kom 'n uitgehongerde bedelaar by die huis aan en vra vir 'n stukkie brood. Die eienaars van die huis het neergesien op bedelaars wat te lui is om te werk, maar daardie laatmiddag was dit koud en reënerig sodat hulle die bedelaar jammer gekry het. Hulle het hom kos gegee en aangebied dat hy in die stoortjie kon slaap, maar net vir die een nag.
Laataand hoor hulle die pragtigste musiek uit die stoortjie kom. Dit het soos engelemusiek geklink. Nuuskierig gaan hulle kyk en vind die bedelaar waar hy die viool bespeel. Verstom het hulle gewag tot hy 'n stuk klaar gespeel het en vra hom hoe dat hy dit ingestel gekry het omdat verskeie musiekkenners dit nie kon regkry nie.
"Hulle het hierdie viool nie geken nie, sy 'siel' misgekyk", verklaar hy. "Ek het hierdie viool self gemaak en ek ken sy hart".
Gelukkige einde. Niemand kon daardie viool so uitmuntend bespeel nie, gevolglik is die bedelaar van die beste klere voorsien en het hy beroemd geword. Hy het versigtig en stadig met liefde nog 'n paar viole gemaak wat beter was as enige ander wat op daardie tydstip bestaan het.
Niks doen lewer niks. Doen sonder verstaan lewer weinig. Wanneer jy iets wil bereik, bestudeer die agtergrond. Gaan die geskiedenis na totdat jy die hart van die geskiedenismakers (volkleiers) ken. Doen dit nou, en sukses is jou voorland.