LEERLINGE IS NIE 'LEERDERS' NIE!

Leonard van der Dussen

Onderwys in Suid-Afrika val rond. Staatsonderwys misluk klaaglik, terwyl dieselfde staatsbestel kommunistiese beheer uitoefen oor alle onderwys met wetgewing, eensydige toepassing van wetgewing en deur Kurrikulum 2005 allerweë af te dwing en die outonomiteit en daarmee akademiese integriteit van tersiêre opleiding te ontneem.

Pogings in Afrikanergeledere om beter onderwys aan te bied, en om kinders uit die staat se kloue te hou, maak dikwels gebruik van aansprake op gereformeerde onderwys, calvinistiese grondslae en soortgelyke terminologie. Dit kan net volhoubaar wees as dit werklik doen en is wat dit sê.

Woordeskat en taalgebruik is in tye van rewolusie en gedurige verandering besonder belangrik. Jou woordeskat en die uitdrukkings wat jy gebruik en watter jy juis nie gebruik nie, sê aan watter kant jy staan. In rewolusietyd is daar verskeie kampe en standpunte, nie net twee netjies teenoorgestelde kante van vriend en vyand nie, en is dit des te belangriker om jou baie duidelik te onderskei wie en wat jy presies is en glo.

Dis jammer dat Latyn as vak so skaars geword het, en dat die aanleer van Europese derde tale dikwels as nutteloos afgemaak word: taalkennis maak mens geestelik weerbaarder teen die subtiele propaganda wat ons omring as jy taalstruktuur verstaan; tot en met die agtervoegsels.

Die relatiwisme van ons tyd (alles is maar so bietjie reg), en die vermyding van sterk beginsels om ‘n gemaklike sosiale lewe te kan hê, dra by tot luiheid in korrekte en doelgerigte taalgebruik.

Die woorde “leerling” en “leerder” mag nie as blote sinonieme hanteer word nie: die rewolusie hou van die woord “leerder” en die woord is gevaarlik vir christelike onderwys.

 

WOORDEBOEK

Die naslaan van die woorde “leerling” en “leerder” het ‘n resultaat opgelewer in die eenvoudige waarneming dat “leerder” ‘n 21ste eeuse woord is: effens ouer woordeboeke ken hierdie woord nie. In die vyfde uitgawe (2005) van die HAT, word “leerder” soos volg verklaar:

leer’der s.nw (-s) Persoon, student wat leer; veral aan ‘n skool; skolier, leerling.

In ‘n geskakeerde blokkie daaronder word die volgende aantekening gemaak: “Die vorm leerder word tans algemeen deur die onderwysdepartemente verkies bo leerling en skolier”.

Dieselfde woordeboek verklaar “leerling” soos volg:

leer’ling s.nw (-s) 1 Persoon wat van ‘n leermeester onderwys kry; vroeër veral gebruik om na skoliere te verwys; skolier; leerder. 2 Volgeling, aanhanger van iemand se leer: ‘n Leerling van Confucius, Gamaliël. 3 Iemand wat een of ander vak leer; vakleerling: Vroeër het ‘n skilder of beeldhouer se leerlinge saam met hom aan ‘n kunswerk gewerk.

Die kort definisie van “leerder” teenoor die ryker begripsveld van “leerling” beklemtoon eersgenoemde se beperktheid.

Volgens Van Schaik se verklarende Afrikaanse woordeboek (Kritzinger en Labuschagne, sewende uitgawe,
1980) beteken “leerling” die volgende:

leer-ling, -e, iem. wat onderwys ontvang, skolier, kind wat leer; aanhanger, volgeling; iem. wat hom vir ‘n bepaalde vak of beroep voorberei; –skap.

Die Tweetalige Woordeboek van Bosman, Van der Merwe en Hiemstra (agste uitgawe, 1984, sesde druk 1999, Pharos) ken nie die woord “leerder” nie, maar vertaal beide “learner” en “pupil” onder andere met “leerling”. Sy vertaling van “leerling”, is “pupil, scholar, student; disciple; learner; trainee; probationer”. Die vertalings van “pupil” het nog ‘n paar woorde in wat die gedagtes oor hoe mens ‘n kind in onderwys sien, stimuleer:

pup’il leerling, skolier; opvoedeling; onmondige, minderjarige; pleegkind, ….

Let veral op die byhaal van die begrip van onmondigheid.

Die woordspoor lei onder andere na “dissipel”, en die woordeboeke bring dit dadelik by volgelinge van Jesus. Van Schaik se verklarende Afrikaanse woordeboek is kort en duidelik daaroor:

dissi’pel, -s, leerling van Jesus; volgeling; –skap.

 

HOEKOM WAS ‘N NUWE WOORD NODIG?

Die woorde “leerder” en “leerling” word vandag uitruilbaar in Afrikaanse onderwys gebruik, terwyl “leerder” die oorhand oor “leerling” kry, omdat dit die onderwysdepartement se term is wat orals gebruik word en meestal klakkeloos gevolg word. Diegene wat dit as blote woordgebruik sonder verdere betekenis wil afmaak, moet die vraag antwoord hoekom daar dan ‘n nuwe woord in werking gestel is, en baie duidelik ten koste van ‘n bestaande, goed-gebruikte, bekende woord wat moeilik van een of ander politieke bagasie verdink kon word.

Die antwoord is dat dit deel is van die rewolusie. Dit is nie maar ‘n toevallige woordgebruik nie, maar ‘n bewustelike keuse wat pas by die kind-gesentreerdheid van Kurrikulum 2005, wat op sy beurt weer ‘n logiese inpas in die menseregte-vertrekpunt is; en uiteindelik die demokratiese manipuleerbare massaburger vorm uit wat ‘n individuele, gelowige kind moes gewees het.

Die humanis se onderwys moet die onderwys van die mens, uit die mens, vir die mens wees, en veronderstel ‘n mens wat uit homself goed is: hy wil leer, hy is van nature ‘n leerder, so word in valse dwaasheid veronderstel.

Die inbring van die woord “leerder” is ‘n wesentlike deel van die aanslag teen Christelike Afrikaneronderwys, in die rewolusie in Suid-Afrika om die spore van Christelikheid en die ware godsdiens wat God as Skepper bely en vandaar die wetenskap beoefen, uit te wis en te vervang met ‘n mens wat uit die niksheid sy eie begrip van die wetenskap probeer vorm. So mens wat verleë rondploeter in die niksheid, kan beheer word. So mens is nie vry in Christus nie.

 

BELYDENIS OOR DIE MENSLIKE NATUUR

Die Christen se onderwys moet die onderwysing in die weë van die HERE wees, vanuit die belydenis van Sondag 2 van die Heidelbergse Kategismus dat die mens alleen geneig is tot die kwaad: daarom moet hy geleer word, onderrig ontvang en ‘n volgeling wees, van sy ouers, van sy onderwyser, en natuurlik bo alles van Christus.

Die aanvaarding en gebruik van die nuwe woord “leerder”, het gevolge vir belydenis. Dit hou ‘n keuse in om te kies tussen humanisme en Christus. Daarby raak dit die roeping van volwassenes teenoor kinders, die benadering tot kinderopvoeding en die roeping van elke mens.

‘n Leerling is ‘n dissipel of volgeling en erken dus sy afhanklikheid van sy meerdere. Hy volg sy ouers, hy leer van sy onderwysers, hy word geleer om Christus te volg. Sy onderwys sien die kind se nood raak, naamlik dat hy onmondig is, en geleer moet word, dat as hy nie opgevoed en beteuel word nie, hy in sy onmondigheid sal bly.

Die betekenis van die woord leerling word beklemtoon in begrippe soos vakleerlingskap, waarin die leerling as onderhorige saam met die leermeester werk om die vak te bemeester. Dit geld ewe duidelik vir die leer van abstrakte vaardighede.

Een van die basiese besluite oor uitgangspunte waarvolgens kurrikulums en onderrigmetodes bepaal word, is of dit kind-gesentreerd moet wees, of vakgesentreerd. Die besinning hieroor word ongelukkig dikwels belemmer deur spitsvondighede wat die begrip “kind-gesentreerd” verwar met die vlakke en bevatlikheid waarop vakleerstof aangebied moet word. Met “kind-gesentreerd” word bedoel dat die onderwys volgens die kind se wil en regte aangebied word, teenoor ‘n aanbieding wat begin by watter kennis en vaardighede nodig is en dit dan struktureer met die noodsaak dat dit geleer moet word as primêre uitgangspunt, en nie die kind se gerief op die voorpunt nie.

Leerder-gesentreerde onderwys is menseregte gesentreerde onderwys. Kurrikulum 2005 is ‘n voorbeeld daarvan, waar die grondslae en doelwitte van die kurrikulum uitdruklik menseregte nastreef en opdwing ten koste van ‘n ootmoedige aanskouing van wat God geskep het, en om dit in eerbied te bestudeer en aan te leer. Die verder ironie is dat selfs net uit ekonomiese oogpunt, onderwys wat heeltyd net oor menseregte wil handel, die samelewing se wetenskaplike kennis en werksvermoë rampspoedig aftakel.

Christelike onderwys moet laasgenoemde ook dophou, naamlik dat sentimentele onderrig waar die onderrig van aardse wetenskap en tegniek geminag word in ‘n onderwys wat weer net op die Bybel en geloofsake fokus, ook verkeerd kan wees.

Die nuwe woord “leerder” dra in hom die wese van die humanistiese onderwys wat die huidige regering afdwing. Dit wys dat die onderwys van die nuwe Suid-Afrika soveel van vorige onderwys verskil dat ‘n nuwe woordeskat daarvoor nodig is, wat meer is as net leerder bv leerarea, fasiliteerder, deurlopende evaluering, portefeuljes. Sommige van die woorde is nie nuutskeppinge, maar is met nuwe betekenisse en gewigswaardes in die onderwys ingebring.

 

MENSEREGTE BOTS MET WETENSKAP

Afrika dryf menseregte hard sodat alles en almal by hulle “regte” moet aanpas. Blade Nzimande, tans minister van hoër onderwys en geruime tyd al sekretaris van die Kommuniste Party, het die Afrikaweergawe van kindgesentreerdheid in onderwys uitgespreek by ‘n hoëronderwysberaad: “Ons moet onskurrikulums en onderrigstrategieë egter aanpas by die studentebevolking wat ons het. Ons kan nie die jeug wat ons het iewers heen uitvoer en ander kry nie en ons gaan nie binnekort ‘n radikaal ander soort student kry nie” (Beeld, “Verplig Afrika-taal hiér – Nzimande”, bl 4, 23 April 2010). Dieselfde berig gaan voort: “Hy meen die kurrikulum moet op die studente se behoeftes ingestel wees sonder om akademiese standaarde te verlaag”. As jy onderwys van die student se kant af benader, het jy inderdaad “leerders” nodig wat leer wat hulle kan en wat hulle wil, en nie “leerlinge”, wat opsien na die leermeester en leer wat die die wetenskap eis geleer moet word nie, en waarin daar noodwendig dan ongelykheid ontstaan in die mate waarin verskillende individue die onderskeie vakke bemeester.

Die gevaar van die kommunistiese Afrika-ingesteldheid, is dat dit behalwe vir on-Bybelse ingesteldhede wat die mens voorop stel, in die gewone aardse sin ekonomiese en sosiale rampspoed veroorsaak namate die gelykmaking intree en kwalifikasies – wat selfs universiteitsgrade insluit – sommer net uitgedeel word, pleks dat kennis en vaardigheid vermeerder.

 

OPTREDE

Ontledings of waarskuwings is een ding. Wat om daaromtrent te doen, is ‘n ander saak. Die woord “leerder” is taal van die rewolusie, van die die humanis, en is vreemd in die protestantse Afrikaner se Afrikaans. Dit is betreurenswaardig dat dit met enkele uitsonderings deur Afrikaners gewoon oorgeneem is, en Afrikaanse onderwysers in daardie begripsvorming opgelei word.

Dit is teken van papheid en verwardheid dat die taal van die rewolusie so min weerstand kry, en deur gelowiges maar opgeneem word. Die argument dat dit maar net ‘n ander woord vir leerling is, gaan nie op nie – nie in die konteks van die hele menseregte-beskouing waarmee saam die woord funksioneer nie. Dis onverstaanbaar dat selfs gereformeerdes wat baie moeite doen vir die daarstel van eie leermateriaal, die woord geabsorbeer het.

Die eerste stap daarteen verg nie baie moed of moeite nie: hou op om die woord te gebruik. Verwys in gesprekke, in omsendbriewe en in onderwyssake deurgaans na “leerling”.

Ons laat toe dat die taal Afrikaans, wat tot nog toe ‘n taal was wat gevorm het en gekoester is om veral die Bybel en gereformeerde belydenis te kan uitdruk, nou deur humaniste en kommuniste vervorm word as maar net nog ‘n taal van die wêreld en die mens.

Die weerstand teen uitkomsgebaseerde onderwys is oppervlakkig en ongeloofwaardig as woordeskat soos “leerder” aanvaar word, aangesien leerder ‘n regstreekse uitdrukking is van dit wat uitkomsgebaseerde onderwys beoog, naamlik ‘n kind-gesentreerde onderwysraamwerk, wat die kind se gerief en die veronderstelling dat die kind eintlik goed is en vanself wil leer, as uitgangspunt neem.

Christelike onderwys en “leerders” gaan nie saam nie. Kies jou woorde versigtig en wees bereid om aan jou woordeskat gemeet te word oor waar jy jou skaar: by die menseregte of by die erkenning dat mense nie gelyk is nie, nie goed is nie en die leermeesters as leerlinge moet volg.