WAT IS DIE GEVAARLIKSTE: OORLOË OF FOPNUUS?

Dr Willem Jordaan

In die VSA was daar vir meer as 2 jaar lank ‘n ondersoek aan die gaan om vas te stel of die Russe nie die presidentsverkiesing van 2016 gemanipuleer het nie. Mense wat nie geïndoktrineer is nie, het geweet dit is ‘n klomp leuens, maar die groot meerderheid het vas geglo dit was die geval – nog voor die uitslag bekend gemaak is. Nou is inderdaad bevind dit was nie so nie. Die media het vir almal gelieg –die geldmagte se media.

In 2003 is met hoëpriesterlike erns deur die massamedia verkondig dat Saddam Hoessein “wapens van massavernietiging” het. Ek het geweet dit is weer ‘n leuen. Irak is verwoes en sy president gehang. Toe moes ons hoor daar was geen wapens van massavernietiging nie.

In 2011 was dit Libië se beurt. Gaddafi het blykbaar “oorlog” teen sy eie mense gevoer. Sommer so skielik. Ek het geweet dis ook ‘n leuen. Libië is vernietig en Gaddafi is op brutale wyse vermoor. Hillary Clinton het die gebeure met passie gade geslaan en tot in haar tone lekker gekry. Dit is nooit bewys dat Gaddafi oorlog teen sy eie mense gevoer het nie.

Oor Joegoeslawië is vertel dat Slobodan Milosevic minderheidsgroepe en volkere se regte hul ontneem. Die werklike rede was dat hy nie die IMF se verslawing wou aanvaar nie. Die land is meedoënloos gebombardeer en Milosevic van “oorlogsmisdade” aangekla. Ek het geweet hy is onskuldig. Hy is dood voor die Internasionale Strafhof uitspraak kon gee – in raaiselagtige omstandighede. Die waarheid hieroor is nooit bekend gemaak nie en die hele aangeleentheid sommer onder die mat ingevee.

Die berugte 9/11 – gebeure is voor die deur van Osama bin Laden gelê. Hy is glo later doodgeskiet terwyl hy inderwaarheid aan natuurlike oorsake dood is. Die waarheid oor 9/11 kan dalk eersdaags aan die lig kom aangesien ‘n kuberkraker nou die VSA afpers dat hy die inliging bekend gaan maak tensy hulle hom betaal. Wees verseker: Osama bin Laden het met daardie aanval heeltemal niks te make gehad nie.

Toe die VSA die ISIS-terroriste bewapen om Sirië in te val, is vertel dat Bashar al Assad ‘n brutale diktator is wat geen mens in sy land ontsien nie. “Weens Assad” het honderde duisende gevlug, baie na Europa en daar ‘n reuse krisis veroorsaak – immigrante!

Dramaties wat egter die Russiese toetrede ten behoewe van Assad en die prentjie totaal verander het. Nou het Assad die oorlog teen die VSA se huursoldate met behulp van Rusland gewen. En wat gebeur nou? Die vlugtelinge stroom terug na hulle ‘brutale diktator”! Vriende van my se monde het oopgehang toe ek hulle vertel het dis nogeens Amerikaanse leuens. Nou is ek en baie ander weer eens reg bewys.

Dit gaan nie daaroor dat mens “reg” bewys word nie. Waaroor dit gaan is dat mense hulle ore uitleen aan die hoofstroom-media se “nuus”. Jare gelede is die opmerking al gemaak: “ the news that fits”.   Net die “nuus” wat die geldmagte se agenda pas word uitgesaai. Enige ander nuus word onderdruk, geïgnoreer en veral verdraai.

My raad? As Sky News of die BBC of RSG sê “A” het pas gebeur, wees onmiddellik op jou hoede en gaan lees die alternatiewe media (daar is baie!) en u gaan tien teen een die ware storie daar kry.

Fopnuus lei tot oorlog en ongeregverdigde oorloë (waaruit gewoonlik baie geld gemaak word). Kyk maar na Sirië. Dit gaan jare neem om die skade te herstel. Mense is ontwortel en derduisende het gesterf! En dit oor leuens in die nuus!

Die groot magte (en veral die VSA) gebruik fopnuus (leuens) om ‘n situasie aan mense voor te stel en dan publieke “steun” te kry vir hulle oorloë. So, fopnuus is minstens net so gevaarlik soos oorloë want hulle is onafskeidbaar van mekaar.