Suid-Afrika is vandag in 2019 weer gedompel in‘n ekonomiese krisis. Ons volksgenote staan die hoeke van strate vol en bedel vir aalmoesies om van te leef. Die omvang van armoede is selfs groter as voorheen toe ons Afrikanervolk ná oorloë en lang droogtes in ellendige armoede verkeer het en daar spesiale welsyn- en opheffingswerk nodig was om te herstel. Min mense weet van die groot werk wat dr H. F. Verwoerd in die dertiger jare as welsynbeplanner gedoen het. Vandag kan ons dalk ‘n ding of twee daaruit leer om onsself uit die huidige penarie te help.
Met die heengaan van dr. H. F. Verwoerd is by talle geleenthede gepraat en geskryf oor sy groot rol as politikus en staatsman. Ná een tydperk van sy lewe, naamlik toe hy as professor aan die hoof gestaan het van die nuwe Departement van Sosiologie en Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Stellenbosch, word soms wel verwys, maar die belangrike baanbrekers- en bouwerk deur hom verrig in die kort tydperk van vyf jaar tussen 1932 en 1936 toe hy dié betrekking beklee het, is nog nooit behoorlik beskryf nie.
Dr Erika Theron het in 1969 ‘n publikasie die lig laat sien wat handel oor hierdie tydperk in dr Verwoerd se loopbaan. Die bestryding van armoede en die herinstelling van welvaartswerk wat hierin behandel word kan vir ons wat vandag onder ‘n korrupte en onvermoënde swart regime geen daarvan meer tot ons beskikking het nie, van veel waarde wees. Ander dokumentêre bronne waaruit ons vandag ’n idee kan kry van die bydrae van dr. Verwoerd in daardie jare, is skraal. Behalwe vir twee referate wat in druk verskyn het, bestaan daar net ’n klompie koerantberigte en -artikels, getikte memoranda en die ongelukkig onvolledige notule en korrespondensie van die destydse Voortsettingskomitee van die Volkskongres van 1934.
Verder bly daar slegs die onuitwisbare herinneringe van diegene wat die voorreg gehad het om met dr. Verwoerd op Stellenbosch saam te werk en op wie daar dan ook ’n dure verpligting gerus het om daardie tydperk van die maatskaplike sorg in ons land te boek te stel omdat dr. Verwoerd se belangrike aandeel nie vergeet mag word nie omdat sy bydrae nog steeds aktueel is, want ook wat sy denke op hierdie gebied betref, was hy sy tyd vooruit. Daarby is ons volk vandag weer eens in armoede gedompel en kan hierdie reeks ‘n bydrae lewer tot die opheffing van die Afrikaner.
Mag die lees van hierdie publikasie almal in die maatskaplike werk inspireer om voort te bou op die pad wat dr. Hendrik Verwoerd op die gebied van welsynbeplanning gebaan het. Vir almal wat die maatskaplike werk as beroep beoefen, het hy ’n hoë voorbeeld nagelaat.