STRYD IS LEWE (5)

JA Marais

Lees volledig by Stryd is lewe

Die helde van ‘n volk

Die helde van ‘n volk kom altyd uit stryd. ‘n Volk se helde kom nooit uit die geledere van die vredemakers, uit die paaiers, uit die swigters, uit die mooipraters, uit die soebatters, uit die verskoningmakers nie. ‘n Volk se helde kom altyd uit die kringe van daardie mense wat bereid is om te veg vir wat hulle glo reg is.

Die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners was ‘n daad van groot betekenis in die Afrikaner se geskiedenis. Dit was ‘n daad wat klein was in sy onmiddellikheid, maar wat met die loop van jare tot een van die magtigste werklikhede van ons tyd gegroei het. In dankbare terugskouing staan ‘n mens verbaas oor die omvang van die resultate van hierdie klein daad in Augustus 1875, maar terselfdertyd dring die gebeurtenis ook vrae aan jou op wat beantwoord moet word om daardie geskiedenis sinvol te begryp en daaruit vorentoe te kyk.

Een van die vrae wat onmiddellik ontstaan, is waarom die GRA gestig met die hoofklem op taal, maar naas taal, ook op nasie en land. Hulle leuse was: “Ons staan vir ons taal, ons nasie en ons land.” Waarom is taal eerste geplaas en nie nasie of land nie? Waarskynlik kom ‘n mens by benadering by ‘n antwoord as jy kyk na die omstandighede van daardie tyd. Kaapland was reeds sowat sewentig jaar lank onder Engelse bewind. Nadat die Afrikanervolk reeds sy beslag gekry het met sy eie taal, is hy onder die heerskappy van ‘n vreemde mag geplaas en het die heerser alles in sy vermoë gedoen om Afrikaans dood te maak en in sy plek Engels ingestel te kry.

Nou is dit so, soos dit seker ook vandag in hoë mate is, dat die ekonomiese waarde van die Engelse taal in daardie tyd al groter geword het en dié van Hollands steeds minder na gelang die Afrikaner al meer tweetalig geword het. Uit oorweginge van eie belang,, materieel en maatskaplik, het baie Afrikaners hulle daartoe gedwing om hulle te skik na die wil van die destydse heersende mag, en hulle af te keer van en neer te sien op hulle eie mense. Dit is een van die noodwendighede waarmee ‘n mens in so ‘n toestand te doen kry.

Die belangrikste hindernis vir baie Afrikaners, wat andersins, sonder enige beswaar, heeltemal los sou geraak het van hulle volksgebondenheid, was hulle lidmaatskap van hulle kerk, nie net uit suiwer godsdienstige oorweginge nie, maar omdat die Hollandse Kerk nog in daardie tyd ‘n besondere status in die samelewing versinnebeeld het.

Toe het gebeur wat eintlik vanselfsprekend was. Dit sou nie lank duur nie voordat hierdie Afrikaners vanuit hulle verengelsde posisie ook daarop sou begin aandring dat die kerk moet verengels. En saam daarmee het, net soos vandag, die pleidooi begin opklink dat die kerk moet verander, want as die kerk nie verander nie, sou hy die jeug verloor. In Die Kerkbode van daardie tyd het iemand in 1856 geskryf: “Die jong mense begin oorloop na die Engelse kerk. Die posisie kan gered word deur minstens een keer elke Sondag in Engels te preek. Dit is tevergeefs om teen die stroom te probeer roei.” Hierdie woorde klink vandag nie heeltemal onbekend aan ons nie.

Naas hierdie toestand is ook begin met die verengelsingsproses op die gebied van die onderwys. ‘n Al groter getal onderwysers is in die skole ingevoer en omdat die ekonomiese waarde van Engels al hoër gestyg het, was dit maklik om die ouers wys te maak dat dit beter sou wees om hulle kinders in Engels te laat onderrig.

Oor een feit kan geen twyfel bestaan nie: teen 1875 was Hollands as kultuurtaal in Suid-Afrika reddeloos verlore. Dit was op hierdie tydstip dat die manne van die GRA teruggegryp het na Hollands om die reddeloosheid van die toestand te probeer verander. Hulle het die taal uitgekies as uitgangspunt om dit te gebruik as middel tot ander doelstellings. En daarom was dit dan ook dat die GRA uit die staanspoor veel meer as net ‘n taalbeweging was. In sy wydste omvang het dit ‘n herlewing van ‘n hele Afrikaans-nasionale beweging geword.

Vervolg...