AFRIKANER- NASIONALISME (9)

T B Floyd

Lees reeks by Afrikaner-nasionalisme

Taal- en Kultuurorganisasies

Hierdie organisasies is daar om as fronte van nasionalisme in sy stryd te dien. Hulle moet onafhanklik optree in die belang van nasionalisme en kan dikwels as ’n bindende faktor hul rol speel. In die verlede het hulle soms wel aktief opgetree en toe op ander tye verflou, maar nooit het hulle afgewyk van die pad van nasionalisme nie. Van hulle het wel verdwyn as diens nie meer nodig was nie, maar as die nood weer ontstaan het, het nuwe organisasies ontstaan soos byvoorbeeld in die geval van die taalfront. Dit is nie in die belang van nasionalisme dat daar jaloesie of vyandigheid teenoor mekaar onder hierdie organisasies ont­staan nie. Dit geld ook vir die kultuurorganisasies en die politieke organisasie. So iets werk teen nasionalisme en sy strewe. Dit het wel tussen die Nasionale Party en die O.B. plaasgevind. Die Party, d.w.s. die poli­tieke front, wou die kultuurfront domineer. So iets vind ook vandag plaas. Eienaardig dat dit plaasvind terwyl die politieke front swak is.

 ’n Sterk stel kultuurorganisasies kan niks anders as die politieke front versterk nie, mits die politieke front suiwer in sy nasionalisme is. Ondervinding het geleer dat ’n sterk en bedrywige politieke front alleen ont­staan na ’n rebellie en die geestelike toestand wat daarop volg, of as die kultuur-, geestelike en taal-organisasies aktief en suiwer in hul nasio­nalisme is. Toe nasionalisme tot ’n laagtepunt in lerland geval het weens die verwaarlosing van die taal- en kultuurfronte en die verwatering en verbrokkeling van die politieke front, het die stigting van die Gaelic League in die begin van die twintigste eeu nuwe lewe en ’n opvlamming van nasionalisme gebring. Dit het persone in lerland laat beweer dat die stigting van hierdie kultuurorganisasie die mees rewolusionêre gebeurtenis vir baie jare was. So het later ’n sterk vloedgolf van nasionalisme na die 1916-opstand opgewel.

Die politieke front moet nooit die ander fronte, soos tans, domineer nie, maar moet liewer deur hulle gelei word en krag uit hulle put. In verband met hierdie verhouding het dr. N.J. van der Merwe op 14 Oktober 1930 in die Volksblad, die Calvinistiese Bond verdedig en soos volg geskrywe: „Ek glo dat sulke volksvereenigings baie gesond is om ook politieke partye op die regte koers te hou. By ’n politieke party is daar altyd gevaar dat daar te veel gelet word op die werwing van stemme . . . Derglike volksvereenigings help om jou politieke aksie in voeling te hou met die diepere strominge van die volkslewe wat anders deur die mammon van opportunisme in die partypolitiek maklik oorskadu kan word.”[1]

Om Afrikanereenheid alleen in ’n partyeenheid te sien is totaal foutief. Partyeenheid kan van groot waarde wees, maar ’n partyeenheid wat net daarop uit is om ’n party in getalle sterk te maak, is iets wat steriel is.

’n Groot leemte in die stryd van Afrikanernasionalisme wat organisasies betref, is ’n sportorganisasie. Die Gaelic Games Association het ’n belangrike rol in Ierland gespeel om die nasionale gees wakker te hou. So ’n front kan uiters waardevol wees om die naam van die Afrikanernasie, die Boerenasie, oorsee uit te dra. Dit kan sport en spele saamvat; nie alleen jukskei, boeresport en volkspele nie, maar ook rugby, atletiek, tennis, boks en ander sportsoorte. Dit kan reël dat Afrikanerspanne vir rugby, boks of atletiek en ander soorte sport of spele oorsee toer. So kan die naam en taal van die Afrikanernasie oorsee bekend word. Al die organisasies sal dan organisatories onafhanklik van mekaar, tog diensknegte en draers van nasionalisme wees. Almal sal weet en besef dat die eise van Christelik-nasionalisme die van verdieping, vereniging en verbondenheid aan die nasionale ideale is en nie lê op die meer oppervlakkige terrein van uitbreiding en verbreiding nie. So sal hierdie or­ganisasies die nasionalisme steeds voed en sterker maak.

Ná die Tweede Vryheidsoorlog het die politieke front in die Oranjerivier-Kolonie en later in die begin jare van die Nasionale Party ook die taal- en kultuurfronte gedek en hulle krag gegee. Dit was ook die vrugbaarste jare van die Nasionale Party. Na 1926 het die Nasionale Partyleiding begin afkoel wat die kultuur- en taalstryd van die Afrikanerdom betref. Dit het dan gebeur dat Afrikaners ’n kultuurfront met die stigting van die F.A.K. op 18-19 Desember 1929 geskep het. Die gedagte het gekom van I.M. Lombard en die leiding het op N.J. van der Merwe geval. Op ’n Kongres op 2 Julie 1930 is die beginsels van die Calvinistiese Bond goedgekeur en het hierdie vereniging die leemte op die geestelike front gevul. Die gedagte het ook in hierdie tyd onstaan dat ’n jeugbeweging gestig moet word. Hierin het N.J. van der Merwe en Visser die voortou geneem maar generaal Hertzog was daarteen. Dit het sake nie gekeer nie en die Voortrekkerbeweging is in 1931 gestig.

In die politieke of konstitusionele stryd van die Afrikaner na 1902 tot Republiekwording was die taalstryd altyd deel van die stryd op die politieke front. Soms was die party baie aktief en het die leiding in die taalstryd geneem. Soms was daar verslapping soos in die tydperk van 1926 tot 1933. Na Republiekwording het die Nasionale Party op hierdie gebied so verslap en stilgestaan dat Afrikaans agteruitgang gegaan het. Om daardie leemte te vul, is Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans onder leiding van dr. Hennie Terblanche gestig.

Met die verslapping op geestelik-kultuurgebied in die laaste jare het nog ’n vereniging op hierdie front ontstaan, nl. die Christelike Kultuur- aksie onder leiding van prof. P.F.D. Weiss en ds. J.H. Jooste.

Die stigting van derglike verenigings om of bestaande organisasies weer te aktiveer of om bepaalde leemtes te vul, is die duidelikste simptoom dat daar op geestelik-kulturele vlak binne die Afrikanernasie ’n verslapping van nasionale gevoel en strewe was. Kenmerkend was dat die politieke party wat die front van nasionalisme was, juis die stigting van die nasionalisties-georiënteerde verenigings teengestaan het. Dit kan tekenend wees van die verslapping van nasionalisme wat juis daar in die sestigerjare sterker na vore getree het.

Al die Afrikaanse kultuur- en geestelike verenigings is belangrike fronte van Christelik-nasionalisme. Almal behoort dit te besef en mekaar te help en waar verslapping ingetree het, behoort daar weer aksie te kom. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Rapportryers, die F.A.K., die A.T.K.V., die Christelike Kultuuraksie, die G.H.A. en al die ander kultuurverenigings het almal ’n front om Christelik-nasionalisme te verdedig. Maar nie net te verdedig nie, daar moet ook aanvallende aksie wees. Geen stryd word gewen deur net te verdedig nie. Hulle verdien almal die volle ondersteuning van die Afrikaner.

N.J. van der Merwe het met sy openingsrede op die F.A.K. Kongres in 1934 ter afsluiting gesê: ,,’n Volk soos ’n individu, vind sy hoogste roeping in ’n geestelike koninkryk en is nie net bestem om ’n antwoord te vind op die vraag wat sal ons eet en wat sal ons drink nie.”6 2 Dr. Scholtz sê met reg: „Op kultuurgebied kan geen kompromie gesluit word nie. Enige kompromie sal die einde van ’n jong kultuur wees.”

Vervolg...

 


[1]    Die Republikeinse Strewe deur N.G.S. van der Walt, p. 138.