AFRIKANER- NASIONALISME (15)

T B Floyd

Lees reeks by Afrikaner-nasionalisme

Wankeling en verwarring op die politieke front

Generaals Hertzog en Smuts het die nuwe Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party gestig. Die woord nasionaal het wel in die naam van die nuwe party verskyn, maar daar was min nasionalisme in die nuwe party se strewe of ideale. Dit het of neutraal of vyandig teenoor Afrikaner-nasionalisme opgetree. Onder die lede was wel mense wat deur nasionalisme beïnvloed was, maar meer wat heftig daarteen gekant was.

Die grootste deel van die Nasionale Party het generaal Hertzog na die nuwe party gevolg. Wat oorgebly het in die Nasionale Party, moes gereorganiseer word en het weer na herstigting as die politieke front van die Afrikanerdom opgetree.

Wat getalle betref, was die herstigte party in Kaapland onder dr. Malan verreweg die sterkste. In die Vrystaat en Transvaal was die ge­talle wat by die Nasionale Party gebly het, min maar hulle was mense uit die republikeinse geledere en lede wat sterk met Afrikaner-nasionalisme besiel was.

 

Na samesmelting het negentien Volksraadslede in die Nasionale Party oorgebly en van dié was veertien uit Kaapland, vier uit die Vrystaat en een uit Transvaal. Dit wys duidelik die oormag van Kaapland en sy leier D.F. Malan. As hy destyds duidelik sy Suid-Afrikaanse nasiegedagte gestel het soos dit later in sy boek aan die lig gekom het, sou sy invloed sekerlik verdwyn het en sou hy gedwing gewees het om uit die politiek te tree.

Dadelik het die republikeinse elemente van Transvaal en die Vry­staat die Nasionale Party in die rigting van hervorming en terug na die Afrikanerpad gedwing.

N.J. van der Merwe het leier van die Vrystaatse Nasionale Party geword.[1] Op hulle kongres in 1934 het hulle ten gunste van die republi­keinse ideaal beslis. Die Transvaalse kongres van die Nasionale Party het in 1935 hom ook duidelik oor die Republikeinse strewe uitgelaat. Hierdie party het na reorganisasie onder leiding van ’n driemanskap gestaan. Die drie was mev. M.M. Jansen, C.J.H. de Wet en Hans Strijdom. Almal van hulle was vurige voorstaanders van Afrikaner- nasionalisme.

C.J.H. de Wet het reeds van 1927 af die Afrikaner in briewe aan die koerant gewaarsku met die woorde, „Afrikaners, ons moet ontwaak, dinge loop verkeerd!” Onder sy leiding is ’n waaksaamheidskomitee in die lewe geroep om te stry teen die koalisiepolitiek.

Dit het na samesmelting oorgegaan tot die herstigting van die Nasionale Party in Transvaal. Die kongres van 1935 het tekens getoon dat die Republikanisme en suiwere nasionalisme gaan seevier. Die program van beginsels wat deur die kongres aangeneem is, was duidelik Christelik-republikeins maar dit het die Malan-nasionaliste geskok. ’n Stryd het toe ontstaan tussen dr. Malan en die suiwere element wat tot ’n kompromie van Malan gelei het. In 1936 het die Federale Raad ’n program van beginsels voorgestel wat wel in ’n nuwe artikel 7 die Nasionale Party bind om hom vir die verkryging van ’n Republiek te beywer.05

Op die Transvaalse Kongres het daar ’n stryd losgebars oor die aanvaarding van die Federale Raad se program van beginsels. C.J.H. de Wet en die Steyn Vorstergroep het geveg vir suiwerder en duideliker beginsels van Christelik-nasionalisme en republikanisme. Hulle was teen die hele kompromie-politiek wat weer in die voorgestelde program van beginsels hul verskyning gemaak het. Die program van beginsels van die Federale Raad is aangeneem. Dit het gelei tot die bedanking van sewe persone op die Hoofbestuur van Transvaal en ’n groep het die Vierkleur afgeruk en die kongres verlaat. C.J.H. de Wet het nog in die party gebly en die reg om die program van die Federale Raad te beveg, voorbehou.

C.J.H. de Wet het die volgende jaar voorstelle by die Hoofbestuur van Transvaal (Strijdom was destyds alleen leier) ingedien maar weer het De Wet misluk. Die Nasionale Party het die suiwer beginsels van Kruger en suiwer nasionalisme ter wille van vaagheid en kompromie verwerp. Wat dr. Malan bymekaar gebring het, het nie bymekaar behoort nie. In ’n nasionale stryd kan leiers wat suiwer en sterk in na­sionalisme is, niks bereik as hulle saam in een party werk met ’n hoofleier wat onsuiwer, verwaterd en bereid is om kompromieë te maak nie.

In so ’n geval van eenheid is die gevolg nooit krag nie maar liewer swakheid.

Die nuwe Nasionale Party het bekend gestaan as die Gesuiwerde Nasionale Party, maar ongelukkig vir die Afrikanerdom was dit nie totaal of selfs grootliks in sy Christelike en nasionale beginsels gesuiwer nie.

Generaal Smuts het altyd die vryheid wat generaal Hertzog in 1926 verkry het, betwis en baie vurige ondersteuners van nasionalisme het ook nie daarin geglo nie. As die leiers in plaas van op die wet te staan en redeneer, liewer praktiese stappe gedoen het om te bewys dal die deure nou oop is vir die herwinning van die Afrikaner se verlore regte.

So het baie Afrikaners in ’n republiek geglo as die verkryging van staatskundige vryheid in plaas van ’n verandering van regering. Natuurlik, vryheid in die algemene sin kon daar nie wees voor ’n nasie sy eie regeringsvorm het nie. Hieruit ontstaan die verwarring en juis hieroor het Hans Strijdom en dr. Malan verskil. Malan was reg in sy mening dat staatkundige vryheid reeds bestaan en Strijdom het dit later toegegee. Hierdie stryd is weer ’n les vir die Afrikaner. As N.J. van der Merwe vroeër weggebreek het, sou ’n nuwe politieke front met suiwerder nasionale beginsels voor koalisie tot stand gekom het en al die twis en verbrokkeling van die oorlogsjare sou dalk onder sterker nasionale leiding vermy kon gewees het.

Die republikeinse beweging binne die Nasionale Party het dr. Malan gedwing om saam te gaan maar nie ten volle nie. Die waarheid is dat daar ’n kompromie bereik is wat Malan geleidelik verwater het.

1938 was ’n besondere jaar in die geskiedenis van Afrikaner-nasionalisme. Dit het getoon tot watter hoogtes die Afrikaner in sy nasionale gevoel kom styg.

In hierdie jaar het die simboliese voortrek en die hoek-steenlegging van die Voortrekkermonument plaasgevind. Die geesdrif en nasionale gevoel onder Afrikaners het hoog geloop. Heelwat sprekers het uiting aan hul innerlike gevoelens gegee sonder om eers te dink aan die party en sy leiers. Die minderwaardigheidskompleks van ’n verowerde nasie het verdwyn en ’n nasietrots het uiting gevind. Geen Afri­kaner het geveg vir die regte of sogenaamde regte van vreemdes nie en niemand het omgegee wat die veroweraar, d.w.s. die Engelse, sou sê of dink nie. Dit was regtig ’n wonderlike tyd vir enige Afrikaner wat met nasionalisme besiel was. Dit was werklik die enigste tydperk na die Vryheidsoorlog dat die Afrikaner vrylik uiting aan sy innerlike gevoelens gegee het.

Die Afrikanernasie se belange en gevoel is op die voorgrond gestel en ’n trots om Afrikaner te wees het oorheers soos dit met nasionalisme behoort te wees. Georganiseerd deur die Eeufeeskommissie, was dit eintlik die werk van die kultuurfront. Nog nooit was daar iets wat so ’n groot eenheid van gevoel onder. die Afrikaner tot uiting gebring het. SAP, Smelter, Republikein en Nasionale Party-Afrikaners was almal verenig in hierdie sterk oplewering van Afrikaner-nasionalisme. Dit was die volkome antwoord op dr. Malan en andere wat geglo het dat partyeenheid nasie-eenheid is.

Op Kroonstad roep prof. S.P.E. Boshoff uit: „Dit is my land en in my land doen ek wat ek wil.”[2]

C.J.H. de Wet het toe hy die eis om ’n Afrikaanse volkstaat sterker beklemtoon het, verklaar: „Suid-Afrika behoort aan die Afrikanervolk”.[3] Hierdie twee verklarings asem ’n suiwer gees van nasiona­lisme. Te min Afrikaners beskou Suid-Afrika as die land van die Afri­kaner.

Op 7 November 1938 het nog ’n helder klank van suiwer nasionalisme van prof. L.J. du Plessis op Koppies opgeklink toe hy hom soos volg uitlaat: „Ons eerste plig is om die meerderheid van die Afrikanerdom in Suid-Afrika te handhaaf. Ons standpunt is dat die land aan die Afri­kanerdom behoort. Ons kan slegs ’n Christelik-Afrikaans samelewing hier toelaat. Die ander, Jode ingesluit, moet hiermee saamgaan. Dit is hulle plig. Laat hulle gasvryheid ontvang; dit is ons plig en tradisie, maar hulle mag nie die toon aangee nie.”[4]

Vervolg...

 


[1]    Die Republikeinse Strewe, p. 152.