ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (2)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ is, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Voorwoord 1966

Om 'n lesenswaardige boek te skrywe, is beslis 'n kuns. Ongelukkig is ek geen kunstenaar nie en is Geen Genade bloot 'n aaneenskakeling van onverbloemde feite soos ek dit gesien en belewe het.

Ek is ontsaglik veel dank verskuldig aan die redaksie van Die Brandwag, die ridderlike wyse waarop hulle my behandel het na my vrylating uit die Sentrale Gevangenis. Vir die reeks artikels wat in 1948 oor my avonture in hierdie puik Afrikaanse tydskrif verskyn het, is ek besonder goed beloon. Hoe oneindig veel hierdie geldelike bydrae vir my beteken het, kan alleen diegene besef wat net soos ek brandarm uit die tronk gekom het.

Ongelukkig is hierdie boek in die eerste persoon geskrywe, nie om die ek te bewierook nie, maar om dit 'n persoonlike en outentieke kleur te gee. Ooreenkomstig my politieke geloofsbelydenis bestaan die eie ek glad nie voorop nie en word dit vervang deur die gemeenskaplike ons. Dit is trouens ook onder ewiggeldende leuse: Ek is niks, my volk is alles, dat ek gestry en gely het en bereid was om te sterwe. Slegs 'n minderwaardige misgewas sal my beskuldig dat hierdie boek 'n poging is om my self aan die wêreld op te vysel. Dit is immers nie nodig nie, want dade en nie woorde nie, getuig wie en wat ek is.

Hierdie boek durf onder geen omstandighede vertolk te word as 'n propagandastuk vir die Nasionaal-sosialistiese idee en wêreldbeskouing nie. In hierdie stormagtige tye is daar geen plek of tyd vir 'n nuwe ideologiese stryd nie. Daar is ook geen plek of tyd vir verdere verdeeldheid, twis en tweedrag nie. Dit is nou die tyd om mekaar die hand te reik en die toekoms vierkantig in die oë te kyk. Dit is nou die tyd om saam te staan, saam te veg en, indien nodig, saam te sterwe tot lof en eer van ons gemeenskaplike vaderland ... ons geliefde Suid-Afrika!

Robey Leibbrandt

1. Die Leibbrandts

In 1911 was die Leibbrandts reeds gevestigde inwoners van die ou Transvaalse hoofstad, Potchefstroom. Die hoof van hierdie tipiese Afrikaanssprekende gesin was Meyder Johannes Leibbrandt. Hy was 'n Vrystater. As plaasseun het hy selfstandig en taai grootgeword. Hoewel hy stil van geaardheid was, was hy 'n baasbakleier en kon hy in die beste geselskap sy man staan. Hy het vir niks gestuit nie.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het hierdie lang, blonde jongman na die wapen gegryp. As offisier en veldtelegrafis het hy sy volk en vaderland getrou op die slagveld gedien. Sy enigste broer het, soos duisende ander manne, vroue en kinders, die hoogste offer op die volksaltaar gelê.

Tog het oom John — soos M.J. Leibbrandt later alom bekend was — geen wrok teen die Britte gekoester nie. Sy lang kunstenaarshande het egter snel in beweging gekom as hy met afsku gepraat het van die lafaards en verraaiers in die geledere van sy eie volk.

"Hulle, en nie die moedige Britse soldate nie, was die hoofoorsaak van die gruweldade teenoor ons vroue en kinders. Hulle was die gespuis wat ons meer skade berokken het as die hele Britse mag," het hy altyd met veragting uitgeroep.

Tydens die parlementsitting in 1948 het niemand anders nie as veldmaar­skalk J.C. Smuts — die Boeregeneraal van weleer — na sy oud-strydmakker en mede-bittereinder uit die Tweede Vryheidsoorlog verwys as een van die dapperste manne wat hy op die slagveld leer ken het.

Toe vrede op 31 Mei 1902 gesluit is, was oom John rasend van woede. In stede van sy wapen neer te lê, het by dit teen die naaste klip te pletter geslaan.

Ongelukkig was hierdie ou stryder 'n eienaardige swygsame tipe. Hy het nie oor sy prestasies gepraat nie. Aan my het hy nooit iets vertel nie. Hy het 'n ewige renons in grootpratery gehad. Vleitaal het hy nie geken nie, nie eens teenoor sy eie vrou en kinders nie.

Wat wel gekonstateer kan word, is dat oom John in later jare transportryer was in die toentertydse Duitse kolonie, Suidwes-Afrika. Hoewel hy van Duitse herkoms was, kon hy geen woord Duits praat nie. Hy het wel 'n besondere hoë dunk van die Duitsers gehad, maar verseg om onder hulle te dien. Hy was 'n gebore militaris en kon die drang om soldaat te wees, nie weerstaan nie. In 1912 het hy by die Suid-Afrikaanse Staande Mag in Potchefstroom aangesluit.

Vroeg in 1914 is hy na Graaff-Reinet verplaas. Hier was hy mede-stigter van die nuutgevonde Nasionale Party onder leiding van een van die grootste Afrikaners wat Suid-Afrika opgelewer het, James Barry Munnik Hertzog.

Oom John was 'n Nasionalis in die regte sin van die woord. Vir hom was nasionalisme die simbool van vrywillige en onbaatsugtige opoffering van alles wat vir die mens skoon, edel, heilig en waardevol is in diens van daardie een vlammende ideaal, jou volk en vaderland. Hy het nie geglo in die ekstremistiese nie wat gedurig sing: "Ek sal lewe, ek sal STERWE, Ek vir jou Suid-Afrika," maar dit terselfdertyd negeer deur aan hulle self te fluister: "Nie rerig nie." Die gevolg was dat hy later geen aktiewe aandeel gehad het aan die partypolitiek nie.

Hy was wel 'n bewonderaar van genl. Smuts, maar het nooit aan sy party behoort nie.

Met die uitbreek van die Rebellie in 1914 is sersant-majoor M.J. Leibbrandt deur genl. Smuts 'n hoë offisiersrang aangebied. Die voorwaardes was dat hy die Unie-troepe moes vergesel met hulle inval in Duits-Suidwes. Meyder Johannes Leibbrandt het geweier. Hy was 'n sersant-majoor-instrukteur en nie 'n rooftog-aanvoerder nie. Hy was lid van 'n verdedigingsmag, nie van 'n veroweringsmag nie. Dat aanval die beste vorm van verdediging was wou hy om spesifieke redes nie aanvaar nie. Sersant-majoor Leibbrandt is die dag dat sy dienstermyn in 1930 verstryk het, nooit bevorder nie. Hy was desnieteenstaande 'n besondere knap instrukteur en taktikus. Hy was 'n kundige op die gebied van militêre wet. M.J. Leibbrandt was bowenal geen kruiper, geen hensopper, geen baantjiesoeker en geen klakous nie. Hy was ‘n trotse en edelmoedige vegter, eggenoot en vader. Toe hy in Junie 1954 op sterfbed lê, het die dokter hom gevra hoe dit met hom gaan. Sy antwoord was: "Baie beter, dankie."

Vandag lê hy begrawe in 'n eenvoudige graf in Pretoria. Hy is weer deel van sy vaderland wat hy so liefgehad en waarvoor hy soveel opgeoffer het. Digby oom John se graf het 'n vrou gestaan. Die oorledene was haar man, die vader van haar agt kinders. Sy was 'n nooi Susan Marguerite Joyce. Haar vader het uit Ierland gekom. Haar moeder is hier gebore. Sy was die oudste dogter van die Joyce-gesin. 'n Aantal jare gelede is die goue volksmoeder-knoop aan haar toegeken. Meer as dertigjaar lank het sy die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie met al sy vertakkinge getrou gedien.

Haar een broer is die bekende ds. William Robey Joyce. Later lees ons meer van hierdie onverskrokke dominee. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het 'n neef van die Joyces groot opspraak verwek. Hy was die veel sproke William Joyce, beter bekend as Lord Haw-Haw. Gedurende die oorlog het hy oor die Duitse Radio-omroep uitgesaai. Dit is moeilik om te sê wie hom of dr. Erik Holm die knapste was. Hoewel nie een van die twee Duitsers was nie, het hulle uit heilige oortuiging geglo dat hulle reg doen. Vandaar die skrif onherroeplik duidelik aan die muur. Selfs 'n blinde kon sien Nasionaal-sosialistiese Duitsland is verpletter. Slegs met Westerse hulp en Westerse wapens kon die Kommunistiese monster seevier. Nou kan ons ruiterlik erken: William Joyce en Erik Holm het vir ses lange jare dag en nag gewaarsku teen die Kommunistiese gevaar as Duitsland oorrompel sou word. Elke voorspelling was gegrond op louter logika en gesonde verstand. Daar is nie gedobbel met wensdenkery nie.

Na die oorlog is William Joyce ter dood veroordeel. Hy is in sir Winston Churchill se Engeland tereggestel. Sy niggie, Marguerite Joyce, daarenteen, het haar kinders selde indien ooit gewaarsku. Hulle moes leer om vanaf hulle vroegste kinderjare gevaar te trotseer. Sy het haar kinders geleer dat self­respek meer waarde het as rykdom. Sy was 'n gebore pedagoog en 'n fynbe­snaarde en welopgevoede dame. Sy was 'n wonderlike moeder vir haar kinders.

Die eerste kind uit haar huwelik met oom John was 'n dogter. Haar naam is eintlik Rachel, maar almal noem haar Ray. Sy was die oogappel en haar vader se liefling. Op skool was sy skrander. Tuis was sy hulpvaardig en 'n maatjie vir haar moeder. Sy is veral 'n taai en gedugte vegster. Hierdie bewonderenswaardige eienskappe tree later fel op die voorgrond. Sonder aansien des persoons het sy geveg om haar broer se lewe.

Vyf jaar later het mev. Leibbrandt 'n seun gebaar. Oom John was in ekstase. Die Leibbrandts is gered. Hulle sou nie meer uitsterwe nie. Benewens sy afgeleefde vader, was hy en die seuntjie tot in daardie stadium die enigste manlike spruite van die ou stamboom.

Onder die beskermende hand van sy vader het klein Meyder jnr grootgeword. Sy kinderjare was so ineengestrengel met myne dat dit moeilik apart behandel kan word. Vir hom was die lewe nog altyd net 'n grap. Skerts, lag, kwinkslae maak en byname uitdeel, was sy grootste pret.

Op 31 Januarie 1915 is Eben gebore. Met sy lang, slanke vingers kon hy oulik teken en modelleer. Hy is links gebore en staan vandag nog links van die familie. Hy was egter vredeliewend en gewild onder sy maats. Hy was 'n uithaler-bokser. In 1933 het hy die Suid-Afrikaanse middelgewigbokskampioen op Potchefstroom geklop.

Twee jaar ná Eben is Elzabè gebore. As kind was sy mooi, mollig en vrien­delik. Op Potchefstroom het sy later aan die Normaalkollege gestudeer. Met die Inter-normaal het sy haar span in die hoogspring verteenwoordig. Gedurende die oorlog was sy venynig skerp en uitgesproke. Saam met Eben is sy aangekla van sabotasie. Albei het in die tronk beland. Etlike maande voor haar dood in 1958 het daar 'n berig in die koerant verskyn oor hoe sy vinger­alleen in die nag 'n naturel agternagesit het wat 'n briewetas uit 'n geparkeer­de motor gesteel het en hoe sy die tas van hom afgeneem het. Haar kloeke daad is deur die koerante aangeprys.

Gedurende die oorlog het Elzabè met behulp van Martin Brink, haar broer Meyder uit die militêre hospitaal op Voortrekkerhoogte laat ontsnap. Meyder was toe sersant-instrukteur in die Suid-Afrikaanse Weermag. Toe hy aangesê is om na die Noorde te vertrek, het hy laat spat. Vir hierdie onbesonne daad is hy gestraf. In die detensiebarakke het sy been kamma skielik seer geword. Om hom by die eetsaal te kry, moes hy ge-abba word.

Later is Meyder na die militêre hospitaal gestuur. Terwyl hy hier was, het Elzabè begin planne beraam om 'n ontsnapping te bewerkstellig. Nie ver van die hospitaal nie het Elzabè en haar metgesel in 'n motor vir hom gesit en wag. Op die afgesproke oomblik het Meyder, tot groot verbasing van ander pasiënte, die 100-tree in rekordtyd afgelê. Later het hy op advies van sy vader hom weer by die militêre owerheid gaan aanmeld. Oom John was altyd Meyder se getroue raadgewer en rigtingbeplanner. Hy het sy ouste seun en naamgenoot selfs bygestaan deur 'n krygsverhoor. Meyder is twee maande tronkstraf opgelê. By sy ontslag uit die tronk is hy na die interneringskamp op Koffiefontein gestuur.

Hier het hy, soos wel te verwagte was, met die Ossewabrandwag se leier gebots. Hy is na die "Ramkamp" verskuiwe.

Die "Ramkamp" is spesiaal geskep vir die revolusionêre tipes onder geïnterneerdes. Van Suid-Afrika se beste mensemateriaal was hier te vind. Onder hulle was Meyder. Die veggees was uitstekend. Vir die grappies en pret het hy gesorg. Hoewel oom John sy seun vertroetel en verwen het was Meyder Johannes Leibbrandt 'n vegter soos min.

Behalwe die eerste gaping van vyf jaar, is die ander kinders almal twee jaar uitmekaar. Dulcie het net na Elzabè gevolg. Sy was uitstekend in sport. In swem en duik het sy uitgeblink. As verpleegster het sy besonder vinnig opgang gemaak. Sy was ‘n suster in verskillende hospitale. Uit haar huwelik met Herb Pentzhorn is 'n seuntjie gebore. Dulcie is in 1949 oorlede.

Regina is die jongste dogter. Sy was die liefling. As snelskriftikster was sy knap en skrander. Op sportgebied was sy die veelsydigste van die Leibbrandtkinders. Sy het jare vir Noord-Transvaal hokkie gespeel. Saam met Ray het sy gedurende die oorlogsjare onweerlegbaar getoon dat sy van rare kaliber is.

Oloff was die baba. Kort na sy geboorte het die outjie stuipe gekry. Een terugslag na die ander het hom getref. Hy het nooit van al die knoue herstel nie. Die mense op Potchefstroom het van hierdie joviale terggees gehou. Gedurende die oorlog het die mense hom baie lastig geval. Almal wou weet waar sy broer Robey is. Die kafee-eienaars was die grootste sondebokke in hierdie snuffelveldtog. Voordat hy vertel, moes hy eers sy verlangde kwota lekkers, roomys en koeldrank kry. Wanneer hy heeltemal klaar was met smul het hy sy mond ewe stadig afgevee. Manhaftig het hy dan gesê: "Luister Menere, ek het julle belowe ek sal julle vertel waar Robey hom bevind en ek gaan julle vertel. Ek vertel julle nou, ek weet nie."

Tog was hy 'n bedrewe snaarmusikant. Hy kon die Hawaiiese ghitaar pragtig bespeel. Daarby was hy 'n bekwame leermeester. Onder sy leerlinge het daar universiteitstudente getel. In 1952 is Oloff aan kanker oorlede.

Vervolg...