ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (5)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ is, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Hoe ek myself gebrei het

Die kangaroe-episode was gou vergete. Boks kon die besoeker uit Australië beslis nie. Ek het dit derhalwe ook nie as 'n prestasie beskou nie. Die lewe het maar weer sy normale gang gegaan. Of die tergende pyn wat ek later in my sy gevoel het, te wyte was aan die skop van die kangaroe, kon ek nie met sekerheid vasstel nie. Ek was egter genoodsaak om na 'n kuur te soek. Om 'n geneesheer te gaan raadpleeg, was toentertyd benede my opvatting van forse manlikheid. Ek het naarstiglik begin delf na kennis van natuurgenesing. Toevallig ontdek ek 'n skrif oor die voordele van vas. Die skrywer was die beroemde Tromp van Diggelen. Alles is noukeurig daarin uiteengesit. Om die ingewande te reinig en skoon te hou, moes suiwer gebakte dryfsand gebruik word. Om die maaggasse te absorbeer moes klein stukkies houtskool heel gesluk word. Die daaglikse gebruik van 'n lawement om die opgegaarde gif­stowwe te verwyder, is as 'n noodsaaklike vereiste voorgeskrywe.

Ek het besluit om agttien dae lank te vas. Dit het beteken agttien dae sonder enige voedsel hoegenaamd, hetsy in vaste of vloeibare vorm. Aan die ander talle voorskrifte van die vastydperk kon ek natuurlik nie voldoen nie. Ek moes skoolgaan, voetbal speel en boks. Om alles te kroon, het die trap van my fiets ook nog gebreek. Alles kos egter geld en dié het ek nie gehad nie. Die gevolg was dat ek elke oggend die drie myl na die Grey-Kollegeskool met dapper en stapper moes aflê. Met dieselfde vervoermiddel het ek in die namiddag teruggekeer. As ek ylhoofdig en swak voel, het ek 'n glas warm water gedrink. Die stap in die warm middagson met 'n swaar boeksak op die rug, het hoë eise aan my gestel. Om my vader te nader vir die aankoop van 'n trap vir my fiets was buite die kwessie. Nooit het ek my probleme met my vader bespreek nie. Ek het altyd my eie besluite geneem en self die verant­woordelikheid gedra vir die resultate van daardie besluite.

Dat ek nie gedurende die vasperiode 'n geweldige knou gekry het nie, is vir my bykans onverklaarbaar. Juis die teendeel het gebeur. Ek het wonderlik ge­voel. Ek was 'n nuwe mens. Die geskeurde maagspiertjie het heeltemal herstel en die pyn het verdwyn. Die vas op sigself was nie die swaarste nie, maar wel die eerste sewe tot tien dae daarna. Stadig, baie stadig moes ek weer begin om voedsel in te neem. My selfbeheersing is tot die uiterste beproef. Selfkas­tyding was vir my geen nuwigheid nie.

Sedert my vroegste jeug het ek baie belang gestel in liggaamsoefeninge en gesondheidsleer. Die strewe na 'n gesonde en goed ontwikkelde liggaam, was by my 'n obsessie. Alle geskrifte oor hierdie vakke het ek met oorgawe be­studeer. Ek het 'n spartaanse lewe gevoer. In stede van op 'n matras of 'n katelmat, het ek op planke geslaap. Klapperhaar het die vere in my kussing vervang. Hierdie russtuk vir my kop was skaars twee duim hoog. Geen vleis, geen soetgebak en geen lekkers het oor my lippe gegaan nie. Ek het ook geen tee of koffie gebruik nie. Van 1929 tot 1937 het ek sonder onderbreking by hierdie resep gehou. Hierdie fanatieke leefwyse van my het ongelukkig baie mense verskriklik veel ongerief aangedoen. Van my het dit onnoemlike op­offeringe geëis. Ek het egter ongesteurd volgehou.

Toe die April-skoolvakansie aanbreek, het ek werk gesoek. Robert Smith, my getroue vriend van Tempe, het my hiermee gehelp. Robert was messelaar van beroep. Ek kon werk kry by dieselfde bou-aannemer waar by vakleerling was. Sy amp was om boumateriaal na verlangde plekke aan te dra. Aangesien die werkplek naby Monumentweg was, moes ek en Robert elke oggend agt myl stap. Die beloning vir die week se arbeid was tien sjielings oftewel R1. Vir my was dit 'n reusebedrag. Ek kon 'n trap vir my fiets koop en die Kaap was weer Hollands.

Dieselfde jaar was daar 'n groot saamtrek in Bloemfontein. Skoolkadette van heinde en verre het hierdie kadetkamp bygewoon. Saam met my in die tent was weeshuiskinders. Ek het dit so gereël. Vir my het hulle altyd half ver­honger en verwaarloos daar uitgesien. Ek het hulle bitter jammer gekry. Gelukkig het ek die hoofkok by die veldkombuis goed geken. Van vroeg tot laat het ek vir die weeskinders kos aangedra.

Met die Vrystaatse senior bokskampioenskappe in 1929 het die geluksgodin my toegelag. Ek is saam met Len McLaughlin en Braam Maree gekies om die Vrystaat op die Suid-Afrikaanse bokskampioenskappe in Kaapstad to verteen­woordig. Ek sou om die liggewigtitel meeding. By die inweeg in Kaapstad moes ek tot my ontsteltenis ontdek dat ek 'n halfpond oor die gewigsgrens was. As weltergewig het ek as sestienjarige geen hoop teen die senior boksers gehad nie. Almal het my aangeraai om my liewer te onttrek. Ek het anders beslis. My geveg teen die Olimpiese bokser Ellis het ontaard in 'n eensydige fiasko. Dit is spoedig stopgesit. Ellis het die Suid-Afrikaanse titel daardie jaar maklik verower. Len McLaughlin het koning gekraai onder die veergewigte.

Op die rugbyveld het ek nogal heel goed gevaar. Sedert my twaalfde jaar was ek gereeld kaptein van een of ander span, totdat ek in 1930 die skool verlaat het.

Die lewensstryd

Einde 1930 het ek die matrikulasie-eksamen met welslae afgelê. My vader was behep met die idee dat ek offisier in die Suid-Afrikaanse Staande Mag moes word. Ek wou egter graag in die regte gaan studeer.

Ongelukkig het ek nie op skool Latyn geneem nie. My vader het hierdie argument as hefboom gebruik om my uit my wensrigting te lig. Ek moes offisier word. Die militêre owerheid het talle aansoeke ontvang vir die aangekondigde kursus op Voortrekkerhoogte, Pretoria. Twintig uitgekose matrikulante sou binne die bestek van agttien maande opgelei word tot die rang van tweede­luitenant. Hulle sou diens doen in die Suid-Afrikaanse Lugmag. Ek was een van die uitverkore twintig en saam met my was ook die latere generaal R.C. Hiemstra wat toe reeds uitgeblink het as 'n knap en skrander kadet. Aan die einde van 1931 is daar op bykans onverklaarbare wyse fout gevind met my aanleg vir die vliegkuns. Gedurende die oorlogsjare is die bevinding op tref­fende wyse geloënstraf.

Die dag toe ek die Militêre Kollege moes verlaat, het 'n donker wolk van teleurstelling en verwarring oor my toegesak. Ek was totaal ontwrig. Ver­strooid het die wrakke van my vroeëre ideale langs die pad van my wens­drome gelê. Ek was soos 'n blinde wat rondtas. Gelukkig is tyd 'n wonderlike heelmeester. Die sweepslae van die noodlot het my gekasty, gelouter en ge­brei. Vandag kan ek filosofies sê: "Ontneem die lewe sy ewige stryd en die daarmee gepaardgaande verantwoordelikheid en die lewe verloor sy dinamiese aantrekkingskrag, en word so immobiel soos die dood."

Later sou ek leer om sonder 'n gevoel van wrok en haat die verpletterendste terugslae te verduur. In 1931 was dit egter heeltemal anders. Nagte aaneen bet ek my lot gelê en betreur.

Op Potchefstroom het ek 'n betrekking gekry. Ek was nou wel 'n nonentiteit, maar my vader was stadsraadslid. Die verpestelike beleid van "baantjies vir boeties" is ook op my toegepas. Goddank, dit was die eerste en ook die laaste keer. Ek is aangestel as assistent-superintendent van die munisipale swembad op Potchefstroom. Hoewel ek later 'n pragtige getuigskrif van die stadsklerk ontvang het, was ek alles behalwe gelukkig in my werk. Die onregverdige aan­stelling van my as agttienjarige het soos 'n kanker aan my siel geknaag. Dit het regstreeks gebots met my ingebore trots.

Intussen het ek aansoek gedoen by die Suid-Afrikaanse Polisie. My ledige ure het ek aangevul deur boksonderrig te gee. Die parksaal is tot my beskik­king gestel. Ek het 'n groot aantal boksleerlinge getrek. Daardie jaar het my boksspan uitstekend presteer. Die Suid-Afrikaanse Weermag was met sy jaar­likse oefeninge bedrywig op Potchefstroom. Oudergewoonte is daar 'n boks­toernooi gereël. Hierdie keer sou my spannetjie die soldate aandurf. Dit was 'n aardigheid om die jong seuns teen geharde manne te sien optree. Die sol­date het die onderspit gedelf. Dit was trouens die eerste keer dat hulle 'n loesing op die lyf geloop het. Weke lank het ek die seuns ingeprent dat 'n uniform geen towerkleed is nie.

"Ons veg in elk geval nie teen die uniform nie, maar teen 'n mens. Val hom aan en hy moet keer. Slaan hom hard en hy kry seer," het ek hulle my rympie geleer.

Benewens boksonderrig het ek ook twee keer per week aan die dames liggaamsoefeninge gegee. Hoewel ek nooit 'n Don Juan was nie, het die dames tog toegestroom. Om skroomvalligheid teen te werk, het ek alle manlike per­sone toegang verbied. Later is hierdie bepaling opgehef en 'n gesonde gees het onder my leerlinge geheers.

Tydens die Olimpiese boksproefwedstryde van 1932 was ek nog steeds op Potchefstroom. Aangesien daar toe nog geen Wes-Transvaalse boksunie was nie, kon ek nie deelneem nie. Op 'n ingewing het ek aan die Vrystaatse boks­unie geskryf. Indien die Vrystaat my nomineer, sou ek bereid wees om my eie koste te dra. My voorstel is sonder teenstem aangeneem. Ek was in die wolke van opgewondenheid. In 1929 het ek reeds Vrystaatkleure verwerf. Nou wou ek graag die Springbok-kleurbaadjie dra. Op die trein na Durban het ek net gesit en droom. Op Parkstasie, Johannesburg, het die Transvaalse boksspan die trein gehaal. Dave Carstens was die enigste in my gewig in die span. Ek het hom goed bestudeer en verskeie vrae aan myself gestel. Ek kon niks merk wat hom onoorwinlik kon maak nie. Sy voete was wel groter as myne, maar die kangaroe het hom ver oortref. Ek het toe reeds geweet dat die grootte van ledemate geen aanduiding van boksvernuf is nie. Die wete dat hy die kam­pioen van Transvaal was, het my nie laat sidder nie. Sy Romeinse neus was ongeskonde. Vir my was dit 'n teken dat hy oor goeie verdediging beskik.

In Durban was ek heeltemal vreemd. Die koerante was vol bespiegelinge oor wie moontlik die Springbokspan sou haal. My naam het glad nie in die lys ver­skyn nie. "Wild Cat" Mandy, die kampioen van Natal, het die ereplek inge­neem. Ek het heimlik gehunker om hom in die kryt te ontmoet.

Daar was net vier boksers in die ligswaargewigafdeling by die Olimpiese proefwedstryde. My wens is vervul. Die hoog aangeskrewe "Wild Cat" Mandy sou met die enigste Vrystater op die toernooi kragte meet. Toe ek die kryt betree en in die hoek gaan sit, was die opmerkings legio. Ek het my nie daar­aan gesteur nie.

Meteens het pandemonium losgebars. Die Natalse kampioen verskyn in die kryt. Die klok lui. Ek storm op Mandy af. Sy houe land hard en sekuur in my gesig. Die spanning is gebreek. Ek boks ietwat kalmer, maar nie sonder drif nie ... My reguitlinker boer in sy gesig. Hy peper my met regter- en linker­haakhoue. Hy slaan geweldig hard met beide hande. Die klok lui vir die derde en laaste ronde. Ek voel nog vars en vol vuur. Sy regtervuis tref my hard op die oog. Helder vonkel die sterretjies voor my oë. Ek volg met 'n regterhaak­hou met al my krag en gewig daaragter. Dit tref sy ontblote kakebeen. Hy slaan veer, lê plat op sy rug. Sy arms is wyd uitgestrek. Sy oë staar beweging­loos in die lug. Die skeidsregter tel. Dit is blote formaliteit. "Wild Cat" Mandy word na sy hoek gedra .. .

My regterduim het weer gebreek. Ek het die knellende pyn reeds in die kryt gevoel. Die spanning was egter te groot om daarvan kennis te neem. Daardie nag het ek my hand ure lank in koue water gehou.

Die Engelse pers het my bestempel as die ontdekking van die bokstoernooi. Die dokter het my duim ondersoek en my belet om verder te boks. Dave Carstens is as ligswaargewig saam met die Springbokspan na Los Angeles in Amerika gestuur... Hy en Laurie Stevens het elk 'n goue medalje verower.

Lid van die S.A. Polisie

In Maart 1932 sluit ek by die Suid-Afrikaanse Polisiemag aan. Ek is in Troep 51 van die berede afdeling opgeneem. My diensnommer was 15323. Enkele dae na my toetrede tot die Polisie, is ek as troepleier aangestel onder bevel van sersant Landman. Hy was 'n briljante instrukteur en daarby een van die ordentlikste manne in uniform wat ek ooit leer ken het. Later het hy tereg 'n hoë offisiersrang beklee.

Die opleiding wat ek aan die Militêre Kollege geniet het, het my 'n voor­sprong bo die ander rekrute besorg. As troepleier is verskillende pligte aan my opgedra. Ek was verantwoordelik vir die netheid van alles en almal in die groot slaapvertrek. Enige onreëlmatigheid moes ek onverwyld by die troepser­sant aanhangig maak. Dit het ek egter nooit gedoen nie. Ek het alles volgens my eie aard besleg. Enige persoonlike vete is nie tydelik met redenaarstalent opgelos nie, maar permanent met die vuis. Dit is trouens die enigste oplossing wat die natuur erken en verstaan. Ek het my op geen plek gelukkiger gevoel as daar waar streng dissipline geheers het nie. In Troep 51 het daar 'n aange­name gees van kameraderie bestaan.

Indien al die manewales van die rekrute in die Polisie-kollege te boek gestel word, sal dit interessante leesstof verskaf.

In Augustus 1932 het Troep 51 die nodige eksamens afgelê en voor die kommandant op die drilparade uitpasseer as opgeleide en gevolmagtigde konstabels. Ek is gekies om verder opgelei te word as drilinstrukteur aan die Polisie­kollege. Die rang van ondersersant is kort daarna aan my toegeken. Hoewel ek dissipline streng gehandhaaf het, kan niemand 'n vinger na my wys dat ek te eniger tyd 'n rekruut gevloek het nie.

Liggaamsoefening en sport speel 'n hoogs belangrike rol in die opleiding en instandhouding van 'n gesonde gees in die Suid-Afrikaanse Polisiemag. Lig­gaam, siel en gees vorm 'n eenheid. Verwaarloos die een en ook die ander ly skade.

Van 1932 tot 1935 het ek elke jaar deelgeneem aan die S.A. Polisie se bokskampioenskappe. Geen opponent het ooit meer as twee rondes teen my op sy voete gebly nie. Vier jaar agtereenvolgens het ek die wisseltrofee verower, maar, eienaardig genoeg, dit nooit ontvang nie.

Aan die Polisie-Kollege het ek as bokser baie voorregte geniet. Kapt. Rood-man, wat toe nog hoofkonstabel was, het onder andere verbied dat ek op stal­wag geplaas word. Hy was in bevel van die afdeling vir liggaamsopvoeding en het alles in sy vermoë gedoen om die naam van die Polisie te laat glinster op sportgebied. Dat hy in sy doel geslaag het, kan nie betwis word nie. Vir hom het 'n man se waarde in sy sporttalent gesetel.

In al die jare wat ek uniform gedra het, is daar nooit 'n klag onder die dissiplinêre kode teen my ingebring nie. Een oggend het sersant Landman my wel gewaarsku dat my baard ietwat aan die lang kant was. Die vermaning het my ontsaglik diep getref.

Die geriewe tot my beskikking gestel, het ek terdeë benut om gedurig in 'n goeie staat van afrigting te verkeer. Ongelukkig het ek in die nastrewe van 'n doel om my in die bokswêreld te laat geld, te hoë eise aan my fisiese kragte gestel. Ek was gedurig ooroefen. Wanneer ek die kryt vir 'n geveg betree, het al my energie in die gimnasium in sweetdruppels opgedroog gelê.

In 1933 is die geveg van die eeu in Johannesburg aangekondig. Die beroem­de Suid-Afrikaanse swaargewigbokser, Don McCorkindale sou spesiaal vanaf Engeland kom om Young Stribling van Amerika aan te druf. Stribling was 'n bokser van wêreldformaat. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy Don so pap soos 'n oorryp papaja sou slaan nie.

Die Kommissaris van polisie, kol. I.P. de Villiers, was 'n groot sportman met 'n karaktervaste persoonlikheid. Hy het Don tegemoet gekom en vier polisie­boksers as oefenmaats tot sy beskikking gestel. Ek, Meyder, Thys en Lewis van Natal is gekies vir hierdie ondervindingryke taak. Ons is in die sentrale polisiebarakke gehuisves en het elke dag saam met McCorkindale gehardloop, geoefen en geboks. Don se beste wapen was 'n venynige reguitlinker. Hy was kalm en 'n netjiese bokser. As sodanig was hy 'n eksponent van die ou Britse styl. Stribling daarenteen was meer 'n vegter en veral sy linkeropstopper na die maag het my geïmponeer. Ek het hom noukeurig dopgehou en later so ge­konfyt geraak in die gebruik van daardie spesifieke tegniek dat ek menige opponent harpuis laat ruik het.

Die beste oefenmaat in die McCorkindale-kamp was Jim Pentz van die brandweer. Hy het Don kort-kort in 'n binnegeveg met 'n onortodokse opstopper onder die ken getref. Ek het Pentz goed bestudeer en sou geen enkele sent verwed op my kanse teen hom in 'n geveg nie. Weinig het ek geweet dat ek vier jaar later onder daardie selfde opstoppers sou deurloop. Ek het die swak plekke in sy verdediging opgemerk en dit later in ons gevegte ten volle uitgebuit. Die ondervinding wat ek as skermmaat teen Don opgedoen het, was 'n bron van krag en selfvertroue, wat onontbeerlik in die bokskryt is.

Die geveg tussen Don McCorkindale en Young Stribling was uiters teleur­stellend. Don was oorversigtig en die Amerikaner is deur die Randse hoogte­spook aan bande gelê. Nóg Don nóg enige ander bokser kon en kan 'n doel­treffende verdediging ontwerp teen daardie dodelike linkeropstopper na die maag. Dit was ook die hoofoorsaak waarom Don nie meer aanvallend opge­tree het nie en ek neem hom dit nie kwalik nie.

Vervolg...