ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (8)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Met die boksspan op toer

Teen die einde van die Spele is die Suid-Afrikaanse boksspan uitgenooi om in Duitsland en Switserland te boks. Aangesien geen passasiers in die span toegelaat sou word nie, was ek outomaties uitgeskakel. My versoek om Jim Fennesy as helper in die kryt by te staan, is deur die bestuurder van die hand gewys. Dave Carstens, wat net 'n gas was en geen lid van die span nie, is aangewys om daardie vakante pos te vul. Die begeerte om Switserland te besoek, het vinnig in my opgelaai.

"Ek gaan saam met die Span, al boks ek net met die een hand," het ek later gesê.

Ek is in kennis gestel dat die bokser teen wie ek sou optree, van internasionale gehalte was. Tydens die Duitse Olimpiese proefwedstryde het hy nael­skraap in die finaal met punte verloor. Of dit gebruik is as afskrikmiddel, weet ek nie, maar daardie soort doepa het nog nooit met my gewerk nie.

Die Duitse kampioen het verloor teen Michelot. Hy het derhalwe nie veel beter gevaar as ek met die een hand nie. Om my nou te kom vertel dat die tweede beste Duitser van internasionale gehalte is, het net daarop gesinspeel dat ek van geen gehalte was nie.

Die aand in die kryt het ek, voor die geveg sou begin, oor die luidsprekers laat afkondig dat ek my hand ernstig beseer het en gevolglik nie by magte sal weer om my beste te lewer nie. Hierdie stukkie oorlogstaktiek het uitstekend gewerk.

Die lang, frisgeboude Duitser het my sommer uit die staanspoor met linker-en regterhoue gepeper. Wetende dat ek nie sou waag om met die regtervuis te slaan nie, het hy al roekeloser geword. Sonder enige verdediging hoegenaamd het hy op die aanval gebly. Sy ken was so oop soos 'n waenhuisdeur. Hy het my geniepsig hard gemoker. Ek het my vervies vir hierdie onsportiewe uitbuitery. Die eerste rondte was skaars sestig sekondes oud of ek besluit om my beseerde regterhand met vakansie te stuur. Sy blootgestelde kakebeen het vir my na 'n aanloklike vakansie-oord gelyk. Ek het met my beseerde hand geslaan. Die pyn in my hand het saam met die telling begin, maar nie saam daarmee opgehou nie. Die geveg het vir hom op die vloer geëindig, maar vir my het die lyding toe eers begin. Sy kakebeen was beslis seer, maar my hand het aanhoudend gepyn.

Die rit na Switserland was besonder aangenaam en interessant. Die oggend voor die gevegte in Basel sou plaasvind, het Jim Fennesy soos 'n vader met my gepraat. "Jy is mal om dit met daardie hand in die bokskryt te waag. Jou hele toekoms lê nog voor. Jy is mos nou in Switserland, wat verlang jy nou meer?"

"Ek het in Berlyn gesê ek gaan boks en my belofte gaan ek gestand doen," het ek my driftig verweer.

Kort voor die gevegte sou begin, het albei boksspanne saam in die kryt ver­skyn. Aan Jim Fennesy, ons breier, is volgens Switserse gebruik, 'n pragtige ruiker oorhandig.

My teenstander, Von Buren, was 'n kort, stewige kêrel. Sy ken het agter sy linkerskouer geboer en hy het gou getoon dat hy hom in geen strik sou laat vang nie. Hy het hom toegespits op binnegevegte. Met linkerhaakhoue het hy twee keer my beseerde hand getref en dit het gevoel of ek kon skree van pyn. Toe ek na die tweede rondte in my hoek gaan sit, het Jim uitstekende raad vir my gehad: Ek moes met my regter slaan!

Toe ek na die geveg Von Buren gelukwens met sy oorwinning, het trane van blydskap oor sy wange gerol. Hy het nie beledig gevoel omdat ek dit gewaag het om teen hom, die kampioen van Switserland, met een hand op te tree nie. Jim het aandagtig gestaan en luister na Von Buren se lofbetuiging. Aan die slot het Jim hom hartlik bedank vir die mooi woorde. Ek het geweet dat Jim geen enkele woord Duits verstaan nie, en hoewel ek dik van die lag was, het ek geen woord gerep nie.

Van Switserland is ons met die luukse-trein, die "Motropa", al langs die Ryn of na Holland. Die natuurtonele was asembenemend. Van Holland is ons na Brittanje.

Vervolg...