ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (9)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Terug na Duitsland

Tydens die Olimpiese Spele het ek navraag gedoen na 'n inrigting waar ek 'n kursus in liggaamsopvoeding kon volg. By my aankoms in Louden het ek my soektog voortgesit. Uiteindelik het ek besluit om na Duitsland terug te keer en 'n studie te maak van die Hitler-jeugbeweging. Op Waterloo-spoorweg­stasie het ek van die Springbokspan afskeid geneem en my teruggehaas na die vasteland van Europa. Toe ek weer in Duitsland kom, was daar reuse-voorbereidings aan die gang vir die Rykspartyfees wat in Neurenberg gehou sou word. Deur bemiddeling van dr. Georg Leibbrandt, 'n bloedverwant van my en Ryksampleier onder dr. Rosenberg, het ek 'n uitnodiging ontvang om as gas van die Duitse staat die grootse verrigting by te woon.

 

Die feestoneel was in alle opsigte onoortreflik. Om die besoekende diploma­te te huisves, is 'n hele klein dorpie op spore saamgestel uit luukse-passasierswaens. Die bediening en versorging in hierdie dorpie het niks te wense oorge­laat nie. Luidsprekers is aangebring sodat die besoekers gedurig op hoogte ge­hou kon word van alles.

Vroeg die oggend van die openingsdag het die opmarse begin. Die een regiment na die ander het in die stadion by die Führer verbymarsjeer. Daarna het die militêr-politieke en volksdienseenhede gevolg. In een stadium het sowat honderd vliegtuie hulle verskyning bo die kolossale stadion gemaak. Die wit vliegtuig van Hermann Goring was aan die spits. Soos vallende blare het hulle op die arena afgeduik en na links en regs weggeswenk. Dit was 'n fees vir die oog.

Een oggend het ek vergesel van 'n SS-offisier die verrigtinge bygewoon. Die opspraakwekkende SS-troepe sou daardie dag hulle verskyning maak. Ons is plekke aangewys digby die podium waar Adolf Hitler gestaan het. Met uitgestrekte regterarms en oorverdowende krete van "Sieg Heil!" is hierdie puik troepe van die Führer begroet. Ek het doodstil op aandag gestaan en hierdie onvergeetlike parade betrag. Toe ons weer gaan sit, is verskillende briefies en notas aan my SS-metgesel oorhandig. Hy het hulle almal aan my voorgelees. Die vuurvreters het hulle skerp uitgedruk omdat ek nie die Nasionaal-sosialis­tiese saluut gegee het nie.

"Laat hulle maar in hulle onkunde protesteer en brom," het ek my verdedig. "Ek weet nie eens wat Nazi in werklikheid beteken nie."

Die saluut was gegrond op 'n historiese Germaanse vredegroet wat wel nog deur sommige naturellekapteins in Suid-Afrika gebruik word. Vir my as Suid­Afrikaner was dit egter heeltemal vreemd.

Die SS-offisier het reeds by dr. Leibbrandt gehoor wie ek was en het gevolg­lik net geknik en geglimlag.

Enkele dae na afloop van die manjifieke Rykspartyfees het ek 'n onderhoud gehad met prof. dr. Carel Krummel, hoof van die akademiese fakulteit van liggaamsopvoeding in Duitsland. Hy het my aansoek goedgekeur om aan die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding in Berlyn te studeer. Studente uit alle dele van die wêreld het die kursus gevolg. Die studiegeld was uiters billik. Die koste vir losies, onderrig en sportdrag het R10 per maand beloop. Die voedsel was uitstekend en die onderrig, soos ek later self ervaar het, die beste in die wêreld.

Ek het pas met die kursus begin, toe ek 'n brief van my moeder ontvang waarin sy my meedeel dat die twee kollegas wat saam met my as instrukteurs aan die Spoorwegpolisie verbonde was, 'n offisierskursus volg. Ek wou baie graag die bevorderingseksamen aflê en het die owerheid per lugpos in kennis gestel dat ek te eniger tyd sou terugkeer om eksamen te doen. Volgens die regulasies wat toe van krag was, kon 'n polisiebeampte eers na drie jaar dienstyd enige promosie-eksamen aflê. Aangesien nóg ek nóg my twee kollegas aan daardie vereiste voldoen het, het ek getwyfel of die inligting wat ek ontvang het, outentiek kon wees. Die feit dat ek geen antwoord op my brief ontvang het nie, het my vermoede versterk dat dit maar 'n hoorsê-storie was. Later toe ek in Suid-Afrika tereggestaan het weens bedrywighede teen die Staat, is daar van Staatskant aangevoer dat my optrede 'n poging was om wraak te neem teen die onreg wat my toentertyd aangedoen. In die hof het dit aan die lig gekom dat my brief wel hier ontvang is. Die owerheid het dit egter geïgnoreer.

Met die afskeidsfunksie aan die einde van 1936, het ek met gemengde gevoelens die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding verlaat. My beste maat onder die studente was 'n jong Amerikaner, Greider, van Ohio. Prof. Carel Krummel het my 'n beurs aangebied om my studies in Duitsland te voltooi. Hy het selfs voorgestel om met min. Oswald Pirow in verbinding te tree om die nodige toestemming te verkry. Die Ryksakademie het een van hulle sport-uniforms as aandenking aan my geskenk. In my afskeidsboodskap het ek die Duitsers lof toegeswaai vir alles wat hulle gedoen het om my verblyf so aangenaam moontlik te maak.

"Binne enkele jare sal ek weer na Duitsland terugkeer," het ek ten slotte gesê.

Die boot van Engeland na Suid-Afrika het oudergewoonte by Madeira anker gelaat. Op 'n uitdaging van 'n paar ouerige dames het ek vanaf die boonste dek in die see geduik. Hulle het verbaas gestaan en toekyk hoe ek sonder begeleiding na die eiland swem.

Uit die dynserige verte het ou Tafelberg soos 'n getroue wag op sy pos aan die horison verskyn. Die newel het soos 'n sluier om sy kruin gehang. Uitge­dos in Arabiese drag het hierdie swyende getuie van Stormkaap ons aan sy voet welkom geheet .. .

Toe ek die oggend op Potchefstroom afklim, het ek net dertig sent in my sak gehad. Die nuus dat my twee kollegas in die Spoorwegpolisie intussen tot luitenante bevorder is, het my nog armer laat voel as wat ek werklik was. Die onreg het soos 'n kool vuur diep in my siel gebrand. Ek het na my kamerade in Duitsland terugverlang.

Ek bedank uit die Spoorwegpolisie

Die dag toe ek weer as instrukteur my diens aanvaar het, het ek gevoel soos 'n dobberende bootjie op 'n onherbergsame oseaan. Die woeste branders van beplande onreg het meëdoenloos oor my kop gespoel. Daar was geen reddingsgordel om my eergevoel te red nie. Die grootste bron van gedurige kwel­ling was dat ek die verpersoonliking van die onreg my aangedoen nog boonop sou moes salueer.

My protes het verskillende vorms aangeneem. Woorde en skrif word op die wind gesaai en lewer geen oes op nie. Alleen die ewiggeldende daad dra die stempel van die ware innerlike van die mens sowel as van 'n volk. Ongelukkig kon ek die verantwoordelike owerheid nie verpletter nie. Ek kon hulle alleen kasty.

Een oggend was ek besig om aan die rekrute liggaamsoefeninge te gee. Na afloop van die periode het ek vir longoefeninge die rekrute laat sing terwyl hulle marsjeer. Skielik het die venster in die hoek op die eerste vloer van ons polisiekwartiere oopgeswaai. Met ongeskeerde baard en hare wat soos 'n droë Boesmanlandse graspol gelyk het, het 'n majoor daar uitgekyk.

"Wat gaan hier aan?" wou by nors weet.

"Ons sing die Transvaalse Volkslied," het ek geroep.

"Staak daardie singery. Ek kan glad nie slaap nie. Dit is net 'n helse lawaai," het hy kwaai gebulder.

"Dis geen hotel hierdie nie, Majoor. Daar bestaan ook geen regulasies wat my verbied om die Transvaalse Volkslied te laat sing nie. Die singery is nood­saaklik. Dit is deel van die rekrute se opleiding. As daar enige klagte is, moet u dit by die kolonel indien en nie by my nie, Majoor." Ek het sonder 'n sweem van parmantigheid gepraat.

Dieselfde middag het ek 'n verfrissingsparade vir gekwalifiseerde konstabels van die Spoorwegpolisie gehad. Dit was verskriklik warm en ek het die manne beveel om na die leeskamer te gaan. Ek het hulle 'n lesing gegee oor die "Regte van Arrestasie". Net die dag tevore het een van die konstabels wat die lesing bygewoon het, 'n behoeftige ou vrou op die treinspoor gearresteer om­dat sy 'n paar kole opgetel het. Ek het heftig te velde getrek teen hierdie soort onoordeelkundigheid en die vervolgingswaansin waaraan sommige polisiebeamptes ly.

"Indien jy die arm ou vrou gewaarsku het, sou dit vir so 'n nietige oor­treding voldoende gewees het. Om haar egter voor die hof te sleep weens diefstal helder oordag, is verregaande vermetelheid. So word Kommunisme gekweek en nie bestry nie," het ek gesê.

Een konstabel het dit gewaag om aan my te vertel dat die soort inhegtenisname op bevel van die majoor geskied het.

"Vergeet die majoor! Hy weet nie eens hoe 'n mens iemand in hegtenis neem nie. Die kriminele onreg wat hier in die Spoorwegpolisie plaasvind, is veel erger as wat enige misdadiger kan pleeg. Indien julle my respekteer om­dat ek hierdie kroon op my mou dra, kan julle saam met die kroon na die duiwel vlieg." Met hierdie woorde het ek die metaalkroon van my geskeur en dit deur die oop venster gesmyt.

Enkele dae later het ek die majoor gaan spreek. Ek wou van hom weet wat die toekoms vir my in die Spoorwegpolisie inhou. Vir die eerste keer het hy ordentlik met my gepraat en my meegedeel dat ek binne drie maande luitenant sou wees.

"Watter waarborg het ek vir hierdie belofte, Majoor?" wou ek wantrouig weet.

"Binne drie maande is daar weer bevorderingseksamens. Op my aanbeveling sal jy toegelaat word om te skrywe en jy weet natuurlik wat dit beteken. Jy sal in jou eksamen slaag en tot luitenant bevorder word."

'n Doodse stilte het op hierdie woorde gevolg. In my was daar 'n aaklige vermoede dat my twee oud-kollegas op twyfelagtige wyse offisiersrang gekry het en dat dit my nou by voorbaat op dieselfde wyse aangebied word.

"Baie dankie, Majoor," het ek sarkasties gese. "Ek is eerder bereid om my liggaam aan die publiek te verkoop as beroepsbokser voor ek my siel op dié wyse hier verkoop." Ek het flunk gesalueer en die vertrek verlaat.

Met ope gemoed en hoë verwagtinge het ek tot die geledere van die Spoorwegpolisie toegetree. Diep teleurgesteld het ek nou vaarwel gesê. Weer is aan my die nodige R10 geleen om my uit te koop en weer het ek alleen in die storm van die lewensstryd gestaan.

Ek was egter vasbeslote om eerder 'n trotse verloorder te wees, as 'n eerlose kruiper wat niemand vierkantig in die oë kon kyk nie.

Op my ontslagsertifikaat is my gedrag as goed bestempel. Vir my het dit egter veel meer beteken. Goeie gedrag onder normale omstandighede is beslis geen kuns nie. Om onder sieltergende en uiters vernederende toestande mees­ter van jouself te bly, verg selfbeheersing van die hoogste orde. Ek het in daardie toets naelskraap geslaag, maar nog groter beproewings het my voor die deur gestaan.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die hoë offisier se seun ook sy ontslag uit die Spoorwegpolisie geneem. Hy was toe reeds luitenant-kolonel en moes uit dieselfde beker drink wat in 1937 daardie ediksmaak in my mond gelaat het. Daar is, volgens bewering, 'n junior offisier oor sy kop bevorder. So maal die meule stadig maar onverbiddelik en sekuur.

Vervolg...