ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (10)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Ek word beroepsbokser

Ek het nie lank gesloer om 'n bokskontrak met die "Union Sporting Club" te sluit nie. Die promotorsliggaam het my 'n bedrag van R2 400 binne agttien maande gewaarborg. Vir geen geveg sou ek minder as R250 ontvang nie. Onder die opskrif: "Leibbrandt Hipnotiseer Promotors", het 'n Engelse koe­rant van Johannesburg lang kommentaar gelewer oor die fantastiese kontrak.

In Maart 1937 het ek vir die eerste maal sonder 'n bokshempie ('n professio­nele bokser boks met 'n kaal bolyf) in die kryt getree. Die "Union Sporting Club" was 'n jong liggaam en hulle het alles in die stryd gewerp om van my 'n trekpleister te maak. Reeds in my eerste geveg is ek as hoofdis aangebied. Daar is egter 'n hemelsbreë verskil tussen amateur- en beroepsboks. Dave Carstens het as amateurbokser die Olimpiese titel verower, maar as beroeps­bokser het hy nooit enige noemenswaardige sukses behaal nie.

Dit was derhalwe ietwat vergesog om te verwag dat die publiek sommer uit die staanspoor in groot getalle sou opdaag om my in aksie te sien. Die ver­wagtinge wat die "Union Sporting Club" van my gekoester het, was so gewel­dig hoog dat ek nagte aaneen nooit geslaap het nie. Die hoofkwelling was nie my vermoë om te wen nie, maar wel om so op te tree dat ek die verbeelding van die skare sou beetpak. Vir die eerste keer sedert my kinderjare was ek verbouereerd en senuagtig in die kryt. Die groot ligte bo die kryt het fel op my neergebrand. Ek het gewens ek het nooit tot die beroepskryt toegetree nie. Ek het gevoel of al die oë net op my gevestig was. Die benoudheid het gedreig om my te versmoor. Ek kon skaars asemhaal.

My teenstander was Tom Porter van die brandweer. Ek het hom goed geken en geweet dat hy 'n moedige vegter was, maar sy vernuf as bokser het my nie juis geïmponeer nie. Die knellende bekommernis en slapelose nagte het my geestelik uitgemergel en my kragte uitgeput. Ek het slap en pap gevoel. Ek het gevolglik uiters swak vertoon en moes gedurig 'n beroep op my wilskrag doen. Die ses rondtes het vir my soos ses uur geduur. Ek het wel die geveg gewen, maar swaar onder die bokskritici deurgeloop.

Met die volgende twee gevegte het dit ietwat beter gegaan en het ek albei met uitklophoue gewen. Van my vierde geveg het ek self as promotor opge­tree. Die twee Finse boksers, Salie en Ahlberg, het in twee van die voor­gevegte deelgeneem. My teenstander was "Tiny" de Swart, die Goliat van Transvaal. Die stadsaal van Potchefstroom, my ou geboortedorp, was van hoek tot kant vol. Net voor die geveg 'n aanvang sou neem, het ek twee jong seuns na "Tiny" de Swart se kleedkamer gestuur. Hulle moes gaan luister wat die afrigter, Joe Rosella, aan sy bokser sê. Die luistervinke het hulle knap van hulle taak gekwyt en waardevolle inligting bekom. Rosella het "Tiny" beveel om die publiek waarde vir hulle geld te gee en my nie te gou uit te slaan nie. Hierdie opdrag het so reg in my kraal gepas.

Toe die klok vir die eerste rondte lui, het ek my opponent vinnig storm­geloop. "Tiny" was skaars uit sy hoek toe ek 'n regter-blufhou na hom gooi. Met die harmoniese swaai van die beweging, stuur ek gelyktydig 'n geweldige linkerhaakhou van stapel. Die hou tref hom op die punt van sy kakebeen. Soos 'n uitgegroeide sipresboom het hy uit die hoogte van sy volle lengte neergestort. Die hele geveg, met telling inkluis het uiters dertien sekondes geduur.

Die skeidsregter van die geveg het op 'n wêreldrekord aanspraak gemaak, en dit is ook as sodanig aanvaar.

In my vyfde geveg het ek weer teen Tom Porter geboks. Vroeg in die geveg het ek Tom met daardie linkeropstopper in die broodtrommel getref. Onder die opskrifte: "Going ... Going ... Gone!" het drie foto's in die Engelse dagbladpers verskyn. Dit het duidelik getoon hoe 'n treffer in die maag die senu­stelsel en liggaam verlam en die kans om gou te herstel, tot 'n minimum beperk.

In Junie 1937 is ek 'n geveg teen Jim Pentz om die swaargewigtitel van Suid­Afrika aangebied. Wyle Ben Foord was weliswaar nog nasionale kampioen, maar het op versoek van die Transvaalse Boksbeheerraad afstand gedoen van die swaargewigkroon. Die Amerikaanse houer van die wêreld se veergewig­titel, Pete Sarron, sou in dieselfde program teen Laurie Stevens veg. Stevens was 'n liggewig en Sarron se titel was nie op die spel nie.

Hierdie aanloklike opelug-toernooi is op die ou Wanderers-sportterein ge­hou. My afrigter, Dolf du Plessis, was 'n lekker kêrel om mee saam te werk. Sy geradbraakte Afrikaans wat miskien alleen deur Mike Holt geëwenaar kan word, het my in 'n luimige stemming gehou. Ek het meer vir sy koddige taal as vir sy kwinkslae gelag. In die vierde rondte van ons titelgeveg het Jim Pentz tydens'n binnegeveg my linkeroogbank tot op die been oopgesny. Hy het dieselfde hou gebruik waarmee hy Don McCorkindale in 1933 in die gimnasium so lelik opgekeil het. Die ervare Dolf het met 'n soort bloedsement die wond toegesmeer en dit met 'n handdoek styf vasgedruk. Toe die mediese dokter wat digby die kryt gesit het, die sny wou ondersoek, het ek hom die versekering gegee dat dit niks ernstig was nie en dat ek graag wou aangaan met die geveg.

"As hy jou weer `attack', dan sink jy daardie `left hook' in sy `belly'," het Dolf in my oor gefluister.

Toe die klok vir die vyfde ronde lui, het ek vinnig uit my hoek beweeg. "Onthou my `advice'," het Dolf du Plessis geskree. Ek het nie lank gewag op Pentz om sy lang reguitlinker na my uit te skiet nie. Blitsvinnig het ek onder die hou inbeweeg en die advies van Dolf in letter en gees tot uitvoering ge­bring. Weer was dit 'n geval van "Going ... Going ... Gone!" en Jim Pentz is op die vloer uitgetel.

Binne drie maande, met vyf gevegte op die telbord, het ek die gesogte swaargewigtitel van Suid-Afrika in die beroepskryt verower. Ek wou sommer dadelik na Engeland vertrek, maar kon dit ongelukkig nie doen nie. Jim Pentz, sowel as die koerante, het beweer dat my oorwinning net 'n gelukskoot was. Enkele weke later is weer 'n bokstoernooi op dieselfde terrein georgani­seer.

Om 'n bokser van Jim se kaliber die tweede keer met dieselfde hou uit te knikker, is wensdenkery. Ek moes dus noodgedwonge 'n ander hou teen die slaansak uittoets.

"Daardie `right hook' van jou, behoort hom te `finish'. Sorg net dat jy mooi `connect', dan sal die koerante weer 'n `short tale in a long way' beskrywe," het Dolf opgemerk terwyl ek besig was om die slaansak met regterswaaihoue te peper.

In die tweede geveg het dit my geluk om die wakker en opgeruimde Jim Pentz in die sesde ronde harpuis te laat ruik met 'n regterhaakhou wat ek weke lank onder die bekwame toesig van Dolf du Plessis op visier gestel het. My plek op die boot na Engeland was reeds bespreek. Die kapokgewigbokser, Jimmy Webster, het saam met my oor die Atlantiese Oseaan gereis. Vir hier­die doel het ek R400 aan hom voorgeskiet. Hoe minder ek van hierdie toer en my gevegte in Engeland skrywe, hoe beter is dit vir die bokssport in die geheel. Om sport en politiek in 'n bredie saam te roer, is alleen voedsel vir agitators en nie vir regdenkende mense nie.

Ek sê vaarwel aan boks

Ná my eerste twee gevegte het ek alle belangstelling in boks verloor. Beroepsboks was egter nie alleen my nering nie, maar ook 'n middel tot 'n doel. Ek het kapitaal nodig gehad om my in die een of ander rigting te bekwaam. Ek wou en moes teruggaan Duitsland toe. Enkele maande lank het ek 'n kursus in masseerwerk en heilgimnastiek in Brittanje gevolg. Ek is later na die "London College of Physical Education". Ons was 'n gesellige klomp bymekaar en ek het die kursus terdeë geniet. Ek is vir praktiese ondervinding na 'n skool in een van die minder gegoede buurtes van Londen gestuur. Algaande het ek die Engelsman in sy eie land onder verskillende omstandighede leer ken. Ongelukkig was ek maar altesaam ietwat meer as 'n jaar in Engeland en kon ek alleen 'n vae begrip vorm van die diepere sielelewe van die Britse volk. In alle opregtheid en regverdigheid teenoor myself wens ek hier te konstateer dat ek 'n besondere hoë dunk het van die Britse volk in geheel. Ek haas my egter om by te voeg dat ek nog nooit 'n pleitbesorger vir die verderflike Britse politiek was nie.

Na afsluiting van die kursus aan die "London College of Physical Education" is 'n spesiale diploma aan my toegeken. Van alle kante is my lof toegeswaai vir hierdie prestasie. Ek het dit egter in 'n heeltemal ander lig betrag. As Suid-Afrikaner het ek beslis trots gevoel, maar nie as liggaamsopvoeding­instrukteur nie. Die kursus aan die "London College of Physical Education" was kinderspeletjies in vergelyking met die instrukteurskursus aan die Suid­Afrikaanse Polisiekollege.

In Londen het ek by die gesantskappe van verskillende lande navraag gedoen om te verneem waar ek 'n kursus in liggaamsopvoeding kon volg. Niels Buch, die toonaangewende liggaamsopvoedingsdeskundige in Denemarke, was toevallig net besig met 'n internasionale kursus vir dames, en ek het besluit om daarheen te gaan en 'n studie van die metodiek van die Buch-stelsel te maak.

Met my reis van Engeland na Denemarke in 1938 moes ek tot my ontstelte­nis ontdek dat 'n jong Sjinese student van die Oxford-universiteit in dieselfde kajuit as ek geplaas is. Met 'n diep Oosterse buiging het my reisgenoot hom aan my bekendgestel. Ewe beleefd het ek sy naam herhaal en myself bekendgestel as Baas Robey van Suid-Afrika. Die volgende dag het ek die Sjinees meegedeel dat dit in my vaderland die gebruik is om 'n persoon die dag na die eerste ontmoeting op sy voornaam te noem. Hy het geredelik met hierdie voorstel akkoord gegaan en my gevolglik met Baas voor en Baas agter aange­spreek! In werklikheid is die Westerling geensins die baas en meester van die Sjinese nie. Toe die voorsate van die Westerse volke nog in bome rondgeklou­ter het, kon die Sjinese volk reeds gespog met 'n gevestigde kultuur en eeue-oue beskawing.

In die helder strale van die son het Denemarke in al sy prag en praal soos 'n sprokiesland voor ons uitgestrek gelê. Dit is trouens hier waar Hans Ander­sen, in die dynsige atmosfeer van die digbegroeide woude, al sy feeverhale opgetower het.

Niels Buch se Kollege vir Liggaamsopvoeding was op die eiland Fühn geleë. Die kollege was pragtig ingerig en het aan al die nodige vereistes voldoen. Die opleiding in swem en gimnastiek was van besonder hoë gehalte. Die beoordeling van die bevoegdheid van studente was streng, dog uiters regverdig. Hoe­wel die liggaamsoefeninge gedateer het uit die vorige eeu, het Niels dit op knaphandige wyse gemoderniseer en op ritmiese drilmaat gestel. Hierdie soort oefening gaan wel mank aan totaliteit van beweging, maar leen hom uitste­kend vir demonstrasiedoeleindes. In Suid-Afrika is die Polisiekollege die uit­blinkers op hierdie gebied en kan selfs die Dene by hulle kom kers opsteek.

Van Denemarke is ek na Swede om in Lund te studeer. Die twee lande is maar 'n hanetreetjie van mekaar en tog is daar 'n reuse-verskil tussen hierdie twee Skandinawiese volke. Die Swede is beslis meer vooruitstrewend en ge­hard as die toegeeflike en vredeliewende Dene. Waar die Swede bereid sal wees om te veg, sal die Dene liefs poog om die moeilikheid weg te redeneer en te vergeet. Dat Ling, die vader en skepper van die wereldberoemde Sweed­se gimnastiek, hiertoe bygedra het, glo ek wel. Hy word vandag nog in Swede vereer as die grootste genie op die gebied van gimnastiek wat Swede opge­lewer het. Die Lingiade of Sweedse sportfees wat jaarliks gehou word, is na hierdie kolos vernoem. Ling het geglo en bewys dat die mooi regop houding van die liggaam sekere karaktereienskappe openbaar.

Hoe volkome reg by was, kan baie maklik in die daaglikse lewe vasgestel word. In die Duitsland van Adolf Hitler was 'n persoon se fiere houding die deurslaggewende faktor in die beoordeling van die mens as geheel. Die voorkoms van 'n persoon word deur sy liggaamshouding en nie soseer deur sy ge­laat geaksentueer nie. Die trotse houding van die liggaam dui daarop dat die persoon geen lamlendige drilvis is nie.

Om in sy doel te slaag, het Ling baie waarde aan balanseeroefeninge geheg. In teenstelling met die liggaamsoefeninge in Denemarke, is die totaliteit van elke beweging in die Sweedse gimnastiek beklemtoon.

Thulin, die hoof van die Kollege vir Liggaamsopvoeding in Lund, was 'n getroue dissipel van Ling. Vyftien verskillende lande was by sy kursus verteenwoordig. Die twee Suid-Afrikaanse dames wat later by my aangesluit het, was puik studente en het op die atletiekbaan sowel as in die gimnasium pragtig vertoon. Hulle het albei met lof geslaag. Aan my is 'n goue medaije toegeken.

Later is ek met die boot na Finland om 'n kursus in militêre liggaamsopvoeding in Vierumaki te volg. Hierdie spesiale vergunning is aan my toege­staan op voorspraak van dr. Oberholzer van die Fakulteit van Liggaamsop­voeding van die Universiteit Stellenbosch.

Die Finne is 'n besonder vriendelike en aangename volk. Hulle verbasende taaiheid en ontsaglike uithouvermoë dwing mens se bewondering af. Vanaf die vroegste tye hang die nimmereindigende bedreiging van Rusland soos die swaard van Damocles oor hulle. Hulle ken stryd en het geleer om die ergste te verduur sonder om op genade van groter volke te wag. In hulle stoom­baddens, wat sauna genoem word, word hulle so taai soos leer gebrei en so hard soos staal getemper.

Die sauna op Vierumaki is 'n klein vertrekkie met 'n vuurherd wat soos 'n oond toegebou is. Onder die rooster word vuur van buite gemaak. Groot, ronde vuurproefklippe word binne die geboutjie op die rooster gepak. Sodra die klippe gloeiend warm is, word water geleidelik daarop gegiet. Die waterdamp in die vorm van stoom vul algaande die hele vertrek. Meer en meer water word opgegiet totdat die vertrek binne stikkend warm is. Breë sitplanke is in terasse aangebring. Eers sit almal onder totdat die longe die hitte van die stoom gewoond raak en dan word al hoër na bo geskuiwe. Wanneer die liggame blink van die sweet, word die vel gekasty deur dit met 'n takkie van 'n denneboom te slaan. Dit word gedoen om die bloedsomloop te bevorder en die vel taai te maak. Na tien of vyftien minute in die hete sauna word die liggaam plotseling fel afgekoel deur onmiddellik in yskoue water te spring. Die proses word 'n paar keer herhaal. Om die dors te les, word 'n lepel room op­geklits in 'n glas warm water gedrink.

Die eerste aand in die sauna het die Finne hulle byna 'n papie gelag. Vir my het dit gevoel asof ek in 'n krematorium beland het. Soos 'n mak bobbejaan het ek op hande en knieë op die vloer van die sauna rondgekruip om koeler lug te soek.

In een stadium het die stoom my longe so gebrand dat ek daaraan gedink het om by die deur uit te bars. Net die gedagte dat my eergevoel en die naam van Suid-Afrika in die slag sou bly, het my van so 'n kinderagtige daad weer­hou. Later het dit veel beter gegaan en het ek selfs die kastydingsproses sonder 'n uiterlike teken van pyn deurworstel.

Die Finse soldaat is besiel met 'n wonderlike gees. Op parades is hy flink en goed gedissiplineerd, maar vriendelik en opgeruimd wanneer by die gimnasium en sportterrein betree.

Die liggaamsoefeninge van die Finse soldate was meestal daarop gemik om hulle fiks te kry vir maneuvers aan die oorlogsfront. Blitsvinnige beweging en die inname van stellings waar sigbaarheid tot 'n minimum beperk is, was 'n vereiste. Om hierdie oefening deeglik uit te voer, moet die soldate lang ente op die maag seil. Om in volle oorlogsmondering breë waterslote en hoe hindernisse te oorkom, verg ontsaglik veel energie, wilskrag en uithouvermoë. Die Finse soldaat is verbasend taai en hard. Dit is ook geen wonder dat Fin­land so baie atlete van wêreldgehalte oplewer nie.

Om egter 'n goeie begrip van Finse gimnastiek te vorm, moes ek noodgedwonge na die Universiteit vir Liggaamsopvoeding in Helsingfors gaan. Hier het ek geleer dat die Finne hoofsaaklik konsentreer op die soepelheid van die liggaam. Om dit te bewerkstelling, het hulle 'n stokkie van nege-en-dertig duim gebruik. Vir die meeste oefeninge is die stok aan die punte vasgehou. Eers is die een been deurgesteek en dan agter die rug omgebring tot by die ander voet. Die een oefening skakel in by die ander totdat dit voel of jou rug­graat en hele liggaam van pynlike jellie vervaardig is. Die Finne het beweer dat die bekken die as is waarom elke totale beweging van die liggaam draai. Dit was derhalwe niks vreemds as 'n Finse atleet 'n uur of meer net sy bek­kenspiere staan en oefen nie.

In Finland het die begeerte by my ontstaan om Kommunistiese Rusland te besoek en 'n studie van hulle metode van liggaamsopvoeding te maak. Die Russe het verlang dat vier foto's my aansoek en paspoort moes vergesel. Dit mag foutief wees, maar ek het tog gevoel dat daar by die Russiese konsulaat­kantore in Helsingfors van my 'n foto geneem is. Ek is nie in die gebou toegelaat nie, maar moes by 'n bestellingsvenstertjie die doel van my besoek ver­duidelik. Die Russiese beampte het in vloeiende Engels met my gepraat en my streng formeel behandel. Na ongeveer veertien dae is my meegedeel dat my aansoek geweier is.

Later toe ek weer in Duitsland aanland, moes ek van dr. Georg Leibbrandt verneem dat twee Leibbrandts kort tevore in die Oekraïene tereggestel is weens hulle bedrywighede teen die Kommunistiese bewind. Hoe hierdie ongelukkige voorval my geraak het, sal die Russe alleen weet.

Intussen is aan my toestemming verleen om aan die Universiteit van Pil­sudski in Warskou te gaan studeer. Om Pole te bereik, moes ek met die trein en boot deur Litaue en Estland reis. Ongelukkig was dit mistige weer en kon ek nie veel van hierdie lande sien nie. In Riga het ek op onverklaarbare wyse R50 op die perron verloor. Ek het onmiddellik my verlies by die polisie aan­gemeld. Enkele dae later het ek van hulle berig ontvang dat my geld gevind is. In onomwonde taal is egter bygevoeg dat ek 'n derde van die bedrag aan die vinder sou moes afstaan. Ek het geredelik met hierdie bepaling in die wet akkoord gegaan en twee-derdes van my verlore geld terug ontvang.

Aan die Pilsudski-universiteit was daar gelukkig twee studente uit Amerika wat uitstekend Pools kon praat. Hulle het gedurig as tolke opgetree en ek kon darem 'n vae idee kry van alles wat aangaan. Pole was die enigste land waar ek niks kon leer wat my kennis van liggaamsopvoeding kon aanvul nie.

Moeilikheid het in Tsjeggo-Slowakye uitgebreek en ek was genoodsaak om met die vliegtuig na Hongarye te reis. Ek was op pad na Boedapest om daar 'n kursus in liggaamsopvoeding te volg. Tot my vreugde het ek daar vir Botha van Pretoria ontmoet. Hy was beslis 'n skrander student en het veel daartoe bygedra om my studies interessant en leersaam te maak. Die Hongare was by uitstek swemmers en hulle liggaamsoefeninge was merendeels op militêre lees geskoei.

Hulle het uitgegaan van die standpunt dat alleen 'n gesonde liggaam huisvesting bied aan 'n gesonde gees. Ek kan nie sê dat die Hongaarse metodes my werklik geïmponeer het nie. Dit doen egter geensins afbreuk aan my bewon­dering vir die Hongare as 'n dapper en standvastige volk nie.

Kort na my aankoms in Boedapest was ek een aand saam met 'n paar stu­dente in een van die talle nagtelike bierlokale. Toe die eienaar hoor dat ek 'n Boer uit Suid-Afrika is, het hy die nuus oor die luidspreker aangekondig. Die reaksie was dat ek oorval is met handdrukke van talle belangstellendes. Bykans elke Hongaar het geweet wie daardie dapper volkie aan die suidpunt van Afrika is.

Met 'n gevoel van toegeneentheid teenoor die Hongare het ek in Desember 1938 hulle pragtige land verlaat om my kursus aan die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding in Duitsland te voltooi. Aangesien dit reeds winter was en die waters van die Donou plek-plek verys was, moes ek my reis per trein voortsit. In Berlyn is ek met ope arms ontvang. Prof. dr. Carel Krummel het geweet van my koms en my hartlik welkom geheet. Sonder 'n sweem van terug­houdendheid het hy my vertel hoe bly hy was dat ek my woord gestand ge­doen het.

Vervolg...