Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.
Die Tweede Wêreldoorlog
Die donker, onheilspellende oorlogswolke het op 3 September 1939 in 'n onvergeetlike storm losgebars. Die vurige hoop dat my vaderland neutraal sou bly, is die volgende dag verydel. As burger van 'n vyandelike land kon ek net soos baie uitlanders in Duitsland aangekeer en geïnterneer word. Van vlug was daar geen sprake nie. Duitsland het sy vinger op elkeen binne sy grense gehad. Die geld waaroor ek beskik het, was reeds in 'n bank in Londen bevries. Dae en nagte lank het ek ernstig oor my posisie nagedink. Ek wou en moes terug na my eie land. Die vraag was egter, hoe? Meteens het 'n gedagte my te binne geskiet. Ek sou die Duitse owerheid vra om my toe te laat om na Suid-Afrika terug te keer. Al my kamerade het geweet dat ek 'n beproefde vriend en geen vyand van Nasionaal-Sosialistiese Duitsland is nie.
Gelukkig het ek 'n hele paar invloedryke persone geken. Een van hulle was prof. dr. Krummel wat verbonde was aan die ministerie en seer sekerlik vir my 'n lansie sou kon breek. Met hierdie gedagte het ek my na sy kantoor gehaas. Krummel het my vriendelik en simpatiek aangehoor. Hy het voorgestel dat ek my versoek aan die Minister van Buitelandse Sake moet rig. Die hoop dat Krummel my wel sou help, het plotseling in duie gestort. Toe ek van hom afskeid neem, het hy weer gevra waarom ek dan so graag na Suid-Afrika wou terugkeer.
"Nie my volk nie, maar 'n vyandige politieke party het teen Duitsland oorlog verklaar. My plek is derhalwe daar by my eie mense wat beslis weier om deur 'n toevallige parlementêre meerderheid in 'n onsinnige oorlog gesleep te word. Ons is geen Britse agterryers nie en nog minder sal ons toelaat dat ons as Britse kanonvoer gebruik word," het ek uitdagend skerp gesê.
"Bly liewer by ons, Robey. In Suid-Afrika sal genl. Smuts jou net laat doodskiet," het die liefdevolle professor my probeer troos. Voordat ek nog 'n woord kon sê, het hy sag bygevoeg: "Skryf maar aan die Minister en ek sal sien wat ek vir jou kan doen."
By my terugkeer van prof. Krummel het ek 'n lang brief aan die Duitse Minister van Buitelandse Sake geskryf. Dit was die begin van 'n negentien maande lange stryd om die nodige toestemming te ontvang om na my vaderland terug te keer. Een oggend het dr. Stoker, die Olimpiese spiesgooikampioen van 1936, saam met my die badkamer van die Ryksakademie betree.
"Waarom loop jy nog vry hier rond?" wou hy van my weet. "Jy is mos 'n vyand van Duitsland. Hier is so baie spioene in Duitsland op vrye voet dat 'n mens heel versigtig moet wees met wie jy praat," het hy geskimp.
"Jy skuil met jou lafhartigheid agter 'n sogenaamde sleutelposisie. Gaan liewer na die oorlogsfront en leer wat die verskil is tussen 'n man en 'n kind. Jy moet net versigtig wees dat jou brein nie ontplof nie; dit kan miskien die stof uit jou ore uitskiet," het ek kwaai geantwoord.
Die noodlot het dit so beskik dat ek en hierdie Olimpiese reus later weer sou bots. Toe het ek hom geantwoord in 'n taal wat hy seker vir die eerste keer deeglik geleer verstaan het.
Een keer per week het ek professor Krummel gaan spreek om te hoor of hy nog niks uitgevind het in verband met my aansoek om na Suid-Afrika terug te keer nie. Elke keer moes ek teleurgesteld omdraai. Intussen het ek geen inkomste gehad nie en was ek verplig om R60 van my landgenoot M.J. Pienaar te leen. Hierdie geld het ek eers later in Pretoria aan hom terugbesorg. Pienaar het 'n goeie betrekking by die Duitse uitsaaikorporasie bekom. Ek het ook later enkele stukke geskryf wat ek oor Zeesen, die Duitse radio-omroep, uitgesaai het. Ongelukkig het ek en dr. Erik Holm nie langs dieselfde vuur gesit nie en het ek dit beter geag om my uitsendings liewer te staak.
Prof. Carel Krummel, wat gelukkig bewus was van my stryd om 'n bestaan te maak, het my 'n pos aan die Universiteit vir Liggaamsopvoeding in Berlyn aangebied. Hierdie aanstelling het my vermoede versterk dat dr. Krummel nie gretig was om my na Suid-Afrika te laat gaan nie.
"Beteken hierdie aanstelling dat ek moet afsien van my begeerte om na my vaderland terug te keer?" wou ek van "Onkel" Carel weet.
"0 nee," het hy geantwoord. "So iets kan nie binne 'n dag of twee gereël word nie. Buitendien is die pos net tydelik. Die vakature het ontstaan deurdat die instrukteur vir militêre oefening opgeroep is. Aanvaar die pos totdat by terugkeer. Teen daardie tyd sal ons moontlik iets kan doen in verband met jou versoek."
Ek het die pos aanvaar.
Drie maande het verbygegaan. Die instrukteur in wie se plek ek tydelik gedien het, het teruggekeer en nog het ek geen antwoord op my versoek ontvang nie.
Weer het ek professor Krummel gaan spreek en selfs versoekbriewe gerig aan invloedryke persone wat ek geken het. Enkele dae later het professor Krummel my ontbied en my meegedeel dat ek na Holland kon gaan op voorwendsel dat ek daar gaan studeer.
"Ek het reëlings getref met 'n universiteit in Amsterdam. As jy eers daar is, sal jy wel 'n plan kan maak om verder te kom," het hy in opgewekte stemming meegedeel.
Ek het gevoel of ek in die wolke sweef. By die Nederlandse konsulaat in Berlyn het 'n nuwe teleurstelling op my gewag. Die konsul het geweier om 'n visum aan my uit te reik. Soos 'n donderslag het die mededeling my getref.
"Wat is die rede? Wat het julle Kaaskoppe teen my?" het ek vererg gevra. Die bleek klerkie met sy pienk wange het my verdwaas aangekyk. Hy het geen woord gerep nie, maar net sy skouers opgetrek.
Soos 'n slaapwandelaar het ek my weg tussen die mense deur gebaan. Diep in sy eie gedagtes versonke, het ek professor Krummel in sy kantoor aangetref. Hy het half geskrik toe ek binnekom. Hy het sag gegroet en my gevra om te sit. Beide hande het sy hoof gestut. Sy oë het stip voor hom op die tafel gekyk. Stadig het by sy vingers inmekaar gevleg en met sy ken in die mik wat sy duime vorm, gerus. Die ander vingers het sy mond bedek.
"U weet seker reeds wat met my gebeur het?" het ek dit gewaag.
"Ja, Robey. Die Duitse geheime diens bewaak elke konsulaat. Ek het so pas teruggekeer van 'n sitting waar buitelandse aangeleenthede bespreek is. Jy sal miskien verbaas wees om te weet dat Nederland ons Duitsers glad nie goedgesind is nie. Ons weet dat hulle besig is om voorsorgmaatreüls te tref sodat Engeland Duitsland in die flank kan aanval. Die skilderye van hulle groot meesters word in spelonke in België gebere. Nederland is besig om met vuur te speel. Die Führer sal dit beslis nie duld nie." Daar het 'n doodse stilte gevolg. Ons het mekaar stilswyend aangekyk. Toe vervolg by sag: "Luister, Robey, omdat ek jou ken, hou ek van jou. Uit daardie kennis spruit ook my vertroue in jou. Dit is derhalwe onnodig dat ek jou vra om ons gesprek hier vanoggend as vertroulik te beskou."
"Baie dankie vir die vertroue in my gestel, `Onkel' Carel. Ek glo egter nie dis nodig dat ek aan u vertel dat ek ook weet waarom Duitsland 'n nie-aanvalsverdrag met Rusland gesluit het nie," het ek trots gese.
"Ek is bly jy weet dit, Robey. Dit is net die onnoseles wat nog moet begryp dat Kommunistiese Rusland nie alleen Duitsland se grootste vyand is nie, maar ook die vyand van die hele beskaafde wêreld. Op die regte tyd sal die Duitse soldaat die Kommunistiese monster aan die keel gryp. Dit is so seker as wat die son more in die ooste sal opkom," het die professor vasberade gesê en vervolg:
"Om egter terug te kom na waar ons begin het: Maak jou gereed om more na Neustrelitz te vertrek. Ek sal die kommandant van die leierskool meedeel van jou koms. Jy sal daar as leerkrag gebruik word. Intussen sal jy genoeg vrye tyd tot jou beskikking hê om daardie boekie oor jou metode van boksonderrig te skryf. Die hoof van die Universiteit vir Liggaamsopvoeding het my reeds verwittig van die militêr-politieke grondslag van jou onderrigmetodes. Dit behoort groot byval te vind hier in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland. Ek sal sorg dat dit aan die universiteite en skole voorgeskryf word. Dit sal jou bankrekening 'n paar sent opskuiwe."
"Ek is nie by magte om enige boek in enige taal te skrywe nie en ek wil nie hier in Duitsland bly nie. U het blykbaar vergeet dat ek nooit sal afsien van my plan om na my vaderland terug te keer nie. As u my nie meer wil help nie, sal ek wel 'n weg vind om daar te kom. Maar gaan sal ek," het ek beslis gesê.
Prof. Carel Krummel het my aandagtig aangehoor. Ek kon duidelik sien dat my woorde hom swaarmoedig maak. Vir my was by soos 'n vader. Vir my was hy die liewe "Onkel" Carel. Ek sal hom nooit vergeet nie.
Terwyl ek aan die leierskool in Neustrelitz was, het ek van die geleentheid gebruik gemaak om as loods in die sweefkuns opgelei te word. Dit het deel uitgemaak van die kursus vir leiers wat uit die hele Duitsland by die leierskool saamgetrek was.
Met vier vlugte het ek daarin geslaag om die A-, B- en C-sweefproewe suksesvol af te lê.
Intussen het ek geen steen onaangeroer gelaat om my wil deur te voer nie. Gedurende 'n besoek aan Berlyn het 'n vooraanstaande kennis my aangeraai om konsul-generaal Rudolf Karlowa te gaan spreek. Karlowa was vroeër Duitse konsul in Suidwes-Afrika en aan die hoof van die Duitse diplomatieke korps in Afrika.
Nog dieselfde dag het ek 'n onderhoud met die konsul-generaal gehad. Hy was 'n saggeaarde persoon en 'n gebore diplomaat. Hoewel hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog in Suid-Afrika geïnterneer was, het hy 'n besonder hoë dunk van die Suid-Afrikaner gehad. Net soos baie hooggeplaaste Duitsers, het ook hy gent. Smuts as leier bewonder. Dat hulle almal egter skerp gekant was teen die politieke rigting wat generaal Smuts ingeslaan het, is verstaanbaar.
Konsul-generaal Rudolf Karlowa het intens belang gestel in my versoek: "Met watter doel wil jy na Suid-Afrika gaan?" Voordat ek kon antwoord, het hy sy tweede vraag gevra: "Het jy 'n vrou of 'n nooi in Suid-Afrika?"
"Nie een van die twee nie," het ek gesê. Die kruisverhoor wat daarop gevolg het, het my baie laat dink dat by sy roeping gemis het. Hy moes 'n advokaat gewees het.
"Watter vorm sal jou stryd in Suid-Afrika aanneem?" het hy later gevra. "Dit kan nie vooraf bepaal word nie. Ek sal eers moet uitvind wat die oorlogstoestand in Suid-Afrika is, alvorens ek oor my optrede besluit. Hoewel ek groot vertroue in die durf en slaankrag van my volk het, moet ek eers sien watter soort mensemateriaal ek tot my beskikking het. U weet natuurlik dat van ons beste manne en vroue die oorlogspoging van generaal Smuts ondersteun, maar ek is oortuig dat daar onder dié wat oorgebly het, net sulke goeies en nog beteres is as die wat vandag ongelukkig saam met Haile Selassi veg."
Die konsul-generaal het instemmend geknik, maar daardie dag nie veel kommentaar gelewer nie. Ek kon duidelik voel dat hy geensins twyfel aan die opregtheid van my voorgenome optrede in my onrusgeteisterde vaderland nie. Dit was die eerste van 'n hele reeks samesprekings. Een oggend het by my onverwags na sy kantoor ontbied.
"Om aan jou netelige versoek te voldoen, sal die toestemming van 'n hoër gesag verkry moet word. Ek het egter reeds vasgestel dat die onderneming nie onmoontlik is nie," het die konsul-generaal vriendelik gesê.
Hierdie woorde het vir my soeter geklink as die strelendste musiek wat ek nog ooit gehoor het. My hart het van trots en blydskap geswel.
"Maar," het die konsul vervolg, "voordat ons na die hoër gesag durf gaan, sal die onderneming eers noukeurig beplan moet word. Daar bestaan moontlikhede en sekere dinge sal van jou verwag word."
"Ek is bereid om enigiets te doen," het ek opgewonde geantwoord.
"Die enigste moontlikheid is dat jy per vliegtuig reis en dat jy sal moet uitspring. Jy sal dus eers 'n valskermkursus moet deurloop."
Die saak is deeglik bespreek. Al die moontlike landingsplekke is op die kaart aan my uitgewys en al die gevare is realisties aan my voorgeskilder. Die konsul-generaal het oor en oor beklemtoon dat die dood op my wag in Suid-Afrika.
Ook dit sal ek trotseer. Om in diens van jou volk en vaderland die hoogste offer te bring, is trouens die grootste ideaal wat 'n Nasionaal-Sosialis kan nastrewe. Bring my tot by enige plek op die vasteland van Afrika en ek sal my pad alleen verder deurveg," het ek vol selfvertroue gesê.
Die onderhoud is beëindig sonder dat enige definitiewe reëlings getref is oor hoe en wanneer die onderneming sou plaasvind.
Vervolg...