ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (15)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Van Frankryk na Suid-Afrika met 'n seilboot

Sowat tienuur die oggend van 1 April 1941 het twee kusvaarders die Kyloe op sleeptou geneem. Ek het op die agterdek gestaan en die vasteland gegroet. Met 'n rein gewete het ek die lang tog begin. Ek vaar die dood tegemoet. Niemand weet wat my planne is nie, nie eens ek self nie. Die daad en die daad alleen gaan my selfopgelegde missie vertolk. Ek is alleen aan God ver­antwoording verskuldig en aan niemand anders nie.

Laat dieselfde middag het 'n vliegtuig sonder enige kentekens laag oor ons begin sirkel. Om vas te stel of dit 'n vyandelike vliegtuig was al dan nie, het die voorste kusvaarder die geheime Duitse kode vir vliegtuie uitgesein. Die vliegtuig het nie daarop gereageer nie en reguit op die agterste kusvaarder af­gepyl. Meteens bars 'n sarsie los. Die voorste kusvaarder het met sy masjien­geweer op die vliegtuig losgebrand. Hulle het ligpatrone gebruik. Duidelik sien ons hoe die koeëls die vliegtuig agter die skroef tref. Die vlieënde vyand laat sy lading bomme in die see plops en kies die hasepad. Dit was duidelik dat hy swaar getref is en so spoedig moontlik na sy basis wou terugkeer. Hy het laag oor die water in die skemerte verdwyn.

Die kusvaarders het verwag dat die vliegtuig versterkings sou stuur en het dadelik voorbereidings teen 'n lugaanval begin tref en vinniger gevaar. Maar toe niks verder gebeur nie, het ons vermoed dat die vliegtuig nie sy basis bereik het nie.

Die volgende oggend het die kusvaarders ons nog 'n ent tot in die ope see gesleep. Die weer was gunstig en soos 'n reuseswaan het ons op die wieke van die wind alleen verder geseil.

Hoewel ek reeds vyf maal oor die Atlantiese Oseaan gevaar het, kan ek nie onthou dat ek ooit seesiek geword het nie. Ek is egter geen seeman nie en die Kyloe was buitendien heeltemal iets anders. Na enkele dae op die seiljag het ek erg seesiek geword. Geen een van die manne aan boord het siek geword nie en luitenant Nissen het daarin behae geskep om my te terg. Hy het geweet dat ek nie van die marconis hou nie en om my uit te tart, het hy na die mar­conis verwys as 'n dapper man wat die skommelinge van die boot ridderlik kan verdra.

Ek het die priem gevoel en bitsig geantwoord: "Jou opvatting van dapper­heid en ridderlikheid is net so skeef soos jou skedel."

Die vyandskap tussen my en Nissen het geleidelik toegeneem en het later amper op bloedvergieting uitgeloop. Die rein met die stadige seiljag het ons gedurig bewus gemaak van die gevaar dat 'n vyandelike vliegtuig of skip op ons kon afkom en ons gevange kon neem. Om agterdog of te weer, het ons dikwels kronkelend gevaar sodat dit moes lyk asof ons vissers was. Indien ons bootjie gevisenteer sou word, was dit klaarpraat. Ons het te veel inkrimine­rende ware aan boord gehad.

Ek was veral bekommerd oor die geld en ander belangrike dokumente wat ek in my besit gehad het. Een van die bemanningslede was net besig om my te help om 'n plank aan die binnekant van die boot los te skroef om die geld daar te versteek, toe Nissen sy verskyning maak en eis dat ek die geld aan hom moes oorhandig vir veilige bewaring.

"Indien ons vasgekeer of gevange geneem word, sal ek beter weet wat om daarmee te doen," het hy gesê.

Hierdie voorstel van Nissen het my woede laat ontvlam.

"Moenie my net so dom skat as wat jy self onnosel is nie. Hierdie geld is myne. Dit het niks met jou of die Duitse staat te doen nie. Hou jou hande tuis. Ek waarsku jou!"

"Oorhandig die dollars aan my of ek draai om," het hy geblaf.

"Draai terug as jy wil, maar die dollars sal jy waaragtig nie kry nie en wat meer is, by jou aankoms in Duitsland sal jy 'n kop korter gemaak word," het ek teruggekap.

"Ek sal jou drie dae tyd gee om te besluit of jy die dollars aan my gaan oor­handig of nie. Indien nie, vaar ek terug Duitsland toe," het Nissen sy betoog afgesluit.

Ek kon nie help om hard te lag nie. "Ek het geen tyd nodig om van besluit te verander nie. Jy ken my blykbaar nog nie. Die drie dae is vir jou om van jou dwase besluit af te sien en beslis nie vir my nie. Die valbyl is vir jou soort gemaak en nie vir my nie," het ek triomfantlik gesê.

Nissen het dit gerade geag om nie weer die dollarstorie op te haal nie. Om so ver moontlik van die gevaar weg te bly, het ons van die Franse kus tussen Engeland en die kus van Noord-Afrika verby na die Asore gevaar, daarvandaan suidweswaarts in die rigting van Suid-Amerika en toe weer met 'n boog na die Weskus van Afrika.

By die Noord-Afrikaanse kus het 'n vliegtuig een dag laag oor ons koppe gesirkel. Ons kon duidelik sien hoe die masjiengeweer op ons gerig word. As antwoord op hierdie dreigende houding het ons net vir die twee persone in die vliegtuig gewaai en gemaak of ons onskuldige vissers was.

Die eerste keer wat ons land gesien het, was toe die Asore soos 'n donker gevaarte links van ons aan die horison verskyn het. Die eiland het gelyk soos 'n swart donderwolk wat stil en afwagtend op die golwende waters rus.

Die reis het maar stadig gegaan. Soms was die wind swak en eenkeer het ons twee dae aaneen windstilte ondervind sodat ons verplig was om die hulp­motor te gebruik om weer in die passaatwind te kom. Die kaart wat ons aan boord gehad het, het die allerfynste besonderhede bevat. Die twee dae wat ons noodgedwonge moes stil lê, het ons deurgebring deur jag te maak op die waterskilpaaie wat doodluiters aan die oppervlakte van die spieëlgladde see gelê en bak het. Dit was geen kuns om hulle met 'n skepnet op die boot te tel nie. Daardie twee dae het ons heerlik gesmul aan skilpadsop. Ons het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die boot te bevry van die skulpe wat aan die kante vasgeklou en die boot se vaart belemmer het. Uit pure nuus­kierigheid het ek my rubberbootjie opgepomp en daarmee geoefen terwyl die ander geswem het.

Tot my ontsteltenis moes ek ontdek dat die marconis glad nie kon swem nie. Hieroor was ek sommer kwaad.

"Wat sal gebeur as ons op die bootjie is en die golwe kantel ons om? Moet ek dan met hom sowel as met die boot uitswem?" wou ek van Nissen weet. Met verloop van tyd het ek meer omtrent die marconis uitgevind. Hy was verloof aan 'n Italiaanse meisie en in al die jare wat Adolf Hitler aan bewind was, was hy nie een keer in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland nie.

Een nag terwyl ek op dek aan diens was, het ek meteens gehoor hoe iemand luid om hulp roep. Tot my ontsteltenis moes ek ontdek dat die marconis met nagmerries deurmekaar was. Wie vir wie gery het, weet ek vandag nog nie. Dit was die eerste keer dat ek 'n gesonde man in sy slaap om hulp hoor roep het. Vir my was dit die hoogtepunt van papbroekigheid.

Hoe meer ek oor die marconis gedink het, hoe vaster was my besluit dat ek nooit so 'n ruggraatlose drilvis sal toelaat om saam met my Suid-Afrikaanse bodem te betree nie.

Een oggend het ek, Nissen en een van die bemanningslede in die eetkamer­tjie gesit. Die marconis en 'n ander matroos was aan die stuur op dek. Die ander twee het geslaap. Ons was reeds sewe weke op see en die hele tyd het ek geworstel met die gedagte hoe om van die marconis ontslae te raak. Plot­seling het ek besluit om Nissen van my planne te verwittig.

"Ek wil ernstig met jou praat," het ek aan Nissen gesê.

Hy het my aangegluur. "Praat maar," het hy met 'n skor stem gesê.

"Ek het die saak lank oorweeg en nou finaal besluit om die marconis nie saam met my aan wal te neem nie. Ek vertrou die marconis nie en ook nie die Duitse agent wat in Lambertsbaai op ons wag nie. Ek gaan alleen land en dit sal beslis nie Lambertsbaai wees nie."

"Ek het bevele ontvang om jou en die marconis by Lambertsbaai of te laai. Dis 'n bevel. Verstaan jy my? Ek sal geen weerstand duld nie," het hy woedend geskree.

"Indien jy die marconis saam met my op die rubberbootjie afsit, sal by die strand nie bereik nie. Ek weier om 'n persoon van sy kaliber aan 'n twyfel­agtige agent te oorhandig."

"Het jy skielik mal geword, Walter Kempf?

"Mal of nie mal nie, ek weier om my bloot te stel aan waansinnige dwaas­heid. In sy boek Mein Kampf gee Adolf Hitler my die reg om onder hierdie omstandighede die verantwoordelikheid op my te neem en self te beslis wat die beste vir julle sowel as vir my is.

"Ek kan jou reeds waarborg dat die agent ons lankal verraai het. Nie alleen ek nie, maar ook julle sal in Suid-Afrika voor die vuurpeleton sterf."

"Ek gee nie 'n duiwel om wat jy sê nie. Ek vaar onverrigtersake terug na Duitsland," het Nissen gebulder. Hy het sy hande voor sy mond getuit en luid uitgeroep:

"Wissel die seile; Ons vaar terug!"

Ek het vinnig in my kajuit verdwyn, my pistool uit die laai gepluk en op Nis­sen afgestorm.

"Wissel daardie seile en julle sal Duitsland waaragtig nooit weer sien nie. Wat is jou antwoord, Nissen?" het ek driftig uitgeroep terwyl ek die oorge­haalde pistool op hom rig. In stede van te antwoord, het hy haastig na sy kajuit gevlug en die deur agter hom toegeslaan.

Die ander bemanningslede het geskrik en my vraend aangekyk. "Nie so haastig nie," het een van die matrose gepleit. "Ek sal met die luitenant gaan praat." Na veel gesukkel het Nissen die deur vir hom oopgemaak. Meer as 'n uur het hulle daar in die kajuit gebly. Toe Nissen weer sy verskyning maak, was hy 'n totaal ander mens.

Nissen het ingewillig om die marconis saam met hom terug te neem en te land waar dit vir my sowel as vir die bemanning die veiligste sou wees. Hy het die marconis beveel om die Amerikaanse dollars in sy besit aan my te oor­handig.

"Sy geld wil ek nie hê nie; tog sal ek bly wees as hy sy pistool aan my wil oorhandig," het ek beduie. Sonder om te talm, bet die marconis sy pistool gaan haal en aan my oorhandig. Ek kon duidelik sien dat die marconis oor­stelp was van vreugde. Hy het beter in 'n Franse casino met 'n karig geklede nooi in sy arms gepas as met 'n pistool in sy pap handjie.

Nissen was ongetwyfeld 'n knap en bekwame seevaarder, maar 'n swakke­ling. Enkele dae voor hierdie gebeure het ons een dag ploteseling op 'n passa­siersboot afgekom. Nissen het gebewe van angs. "Maak gereed om alle inkri­minerende goedere oorboord te gooi," was sy vreesbevange bevel.

"Laat hulle maar aan boord kom," het ek teëgewerp. "Ek sal hulle saam met ons en die seiljag die ewigheid instuur." Ek het uitdagend na Nissen ge­kyk en vervolg: "Kry julle wapens, kamerade. Die Führer het gesê ons kapitu­leer nie."

Gelukkig het die passasiersboot geen teken van belangstelling in die Kyloe getoon nie en ons het ongehinderd verder geseil.

Ek het later 'n lang brief aan konsul-generaal Rudolf Karlowa geskryf waar­in ek volledige beweegredes aangevoer het vir my optrede aan boord die Kyloe.

Op 15 Junie 1941 het ek saam met Nissen die landkaart bestudeer. Ons was regoor die kus van Namakwaland wat as 'n dorre woestynagtige landstreek op die kaart aangedui was. Vir my was dit 'n heeltemal onbekende wêreld en ek moes my maar verlaat op die gegewens wat op die kaart aangedui is. Die vol­gende dag was dit mistige weer en gevolglik was daar geen son om met be­hulp van instrumente ons posisie op die kaart presies vas te stel nie.

"Hoe lank sal dit neem om die kus te bereik?" wou ek van Nissen weet. "Die wind is nie gunstig nie, maar met behulp van die jag se motor kan ons teen middernag binne bereik wees," was sy antwoord.

"Uitstekend," het ek opgewonde uitgeroep. "In die mistige weer sal geen vliegtuig of kuswag ons gewaar nie. Ek land vannag."

"Soos jy verkies," het Nissen gelate gesê

Vervolg...