ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (25)

Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Johannes van der Walt sluit by my aan

Op 'n dag in Desember 1941 het ek en Suid-Afrika se wonderstoeier op 'n plek in Johannesburg ontmoet waar ons lank alleen gesels het. Daardie ont­moeting het my teruggevoer na 'n hawestad in Engeland waar ek Johannes van der Walt in Desember 1938 laas gesien het.

Ek en die Duitse dame wat saam met Johannes van Amerika na Engeland gereis het, was toevallig op dieselfde boot wat daardie oggend na Hamburg sou vertrek. Die eerste vraag wat die dame na ons bekendstelling aan my ge­stel het, was of ek van dieselfde nasionaliteit as Johannes van der Walt is.

"Waarom vra u?" wou ek verbaas weet.

"Omdat Herr van der Walt my meegedeel het dat hy so trots is om 'n Boer te wees."

Hierdie trots om die edelnaam Boer te dra, het wyle Johannes van der Walt tot aan sy sterwensuur behou. In ons gesprek daardie oggend in Johannesburg het Johannes se besorgdheid oor die lot van die Afrikanervolk as geheel en die Ossewabrandwag in die besonder, duidelik tot openbaring gekom. Hy was veral gebelg oor die idee dat dr. Hans van Rensburg, wat nie alleen niks byge­dra het tot die stigting van die Ossewabrandwag nie, maar ook voorheen sou gesê het dat die Ossewabrandwag in 'n koelkas gesit moes word, nou skielik die hoogste rang beklee. Johannes van der Walt kon eenvoudig nie met die beleid van die O.B. saamstem nie.

Sy misnoeë met die beleid van die Ossewabrandwag het so reg in my kraam gepas, en ek het nie versuim om hierdie misnoeë hoër aan te blaas nie. Hoewel Johannes van der Walt 'n generaal in die Ossewabrandwag was, het hy hom bereid verklaar om as gewone manskap by die Nasionaal-Sosialistiese Rebelle aan te sluit.

Kort na hierdie ontmoeting het Johannes en drie ander persone my na die plaas van mev. Erna Eggert vergesel. Ek wou graag gaan kennis maak met 'n sekere kaptein Taillard wat ook in daardie omgewing geboer het. Volgens Erna Eggert was kaptein Taillard 'n gedugte vyand van genl. Smuts se oorlogsbeleid en moes hy as gevolg daarvan ontsaglik veel van die Regering verduur.

Terwyl die ander drie manne buite die huis wag gehou het, het ek en Johannes met Taillard gesels. Hy was baie vriendelik en openhartig in sy ge­sprek met ons. Vandag glo ek nog dat hy dit aan die begin eerlik bedoel het met my en dat hy eers later besluit het om teen my te draai. Die inligting wat hy oor dr. Hans van Rensburg en ander sake aan my verstrek het, was nie eintlik nodig om my vertroue te wen nie. Erna Eggert was toe reeds 'n be­proefde kameradin. Sy het hom geken en haar aanbeveling sou trouens ge­noeg gewees het om enige agterdog uit te wis.

Met die terugreis na Erna se opstal, het ek eienaardig genoeg skielik begin twyfel aan Taillard se opregtheid. Mevrou Eggert het aan my vertel dat Taillard verplig was om sy ontslag uit die SA. Polisie te neem en hoe goed die Taillards vir haar was na haar hulp en bystand met die begrafnis van Taillards se liefling-dogtertjie. Indien ek geweet het dat hy familie van Louis Esselen was, sou ek hom vanselfsprekend nooit vertrou het nie. Soos almal weet, was Esselen en genl. Smuts boesemvriende.

Dieselfde nag is ek en my gevolg terug na Johannesburg. Johannes van Walt was 'n liewe, goeie mens en ek kon natuurlik nie peil trek op wat hy van Taillard gedink het nie. Ongelukkig was dit sy tere liefde vir sy medemens wat ook sy doodsklok gelui het.

Een oggend het ek berig ontvang dat Johannes gearresteer is en in die die selle by Marshallplein aangehou word. Die klag teen hom was dat hy in besit van 'n ongelisensieerde pistool was. Min het ek verwag dat hy met behulp van 'n polisieman op waaghalsige wyse uit die selle sou ontsnap. Toe hy die kamer by mev. Maack binnekom, het ek byna op my rug geval. Onmiddellik na sy aankoms het ek sy weelderige en reeds beroemde baard afgeknip en net vir die aardigheid in 'n briefkoevert toegeplak. Later het die polisie baard in my kamer gevind en is in die hof beweer dat ek moontlik die baard gebruik het vir vermommingsdoeleindes.

Daardie aand het ek ernstig met Johannes gepraat en hom gewaarsku om nooit sy rug op die polisie te draai nie. Ek het hom haarfyn vertel van wat op 7 November by die pastorie gebeur het en van die fatale fout wat Hendrik Erasmus begaan het om 'n botsing met die polisie te probeer vermy. Johannes het my aandagtig gesit en aanluister en net sy kop laat sak. Toe ek uiteindelik weer begin praat, kon ek die droefheid in sy oë lees. Hy het 'n bewoë stem te velde getrek teen die leiers van die Ossewabrandwag. Veral die Assistent-Kommandant-generaal van Transvaal is skerp aangeval. Hy was meer teleurgesteld as verbitterd. Johannes van der Walt het sy volk liefgehad en hy kon homself net nie versoen met die O.B.-leiding nie.

Terwyl ek as verhoorafwagtende in die tronk in Pretoria gesit het, kon een nag glad nie slaap nie. Die volgende oggend toe ek deur die bewaarder uit my sel geneem is vir die gebruiklike halfuur-oefening, het ek eenkant teen die muur op my hurke gaan sit.

"Wat is vanoggend verkeerd met jou, Robey? So ken ons jou nie. Ander dae kla jy dat die halfuur te kort is vir ontspanning en nou sit jy daar asof die hele wêreld se gewig op jou rus," het een van die bewaarders my aangespreek.

"Ek weet self nie wat my oorgekom het nie. Verlede nag het ek gelê en rondrol en nie 'n oog toegemaak nie. Daar het iets vreesliks gebeur, maar kan net nie dink wat dit kan wees nie. Was my moeder nie miskien in 'n ongeluk betrokke nie?" wou ek weet. Hulle het my vraend en swygend aangekyk.

"Sê asseblief vir my wat gebeur het," het ek gesoebat.

"Niks wat jou so kan verontrus nie," het een gesê.

Daardie dag het ek net op my bed gelê en peins. Ek kon eenvoudig nie tot rus kom nie. Toe die nagwag, wat 'n goeie vriend van my was, sy pos voor my sel se deur inneem, het hy my die treurige nuus vertel. My boesemvriend, Johannes van der Walt, is die vorige aand in 'n plaaswoning naby Krugersdorp deur die polisie vasgekeer. Om 'n botsing met die polisie ten alle koste te vermy, het hy probeer om deur 'n venster te ontsnap. Johannes is van agter in die rug geskiet.

Hierdie nuus het vriend en vyand oor heel Suid-Afrika diep geskok. Die liefling van die stoeikryt het in die maande wat daarop gevolg het, weggekwyn totdat hy net vel en been was. Die lyding en pyn wat hierdie getroue Boer moes verduur, is onbeskryflik. Met uitgestrekte regterarm het hy sy besoekers en bewonderaars gegroet totdat hy later te swak was om selfs sy hand te lig, en net die woorde: "Die Vierkleur Hoog!" kon prewel.

Wyle dr. D.F. Malan het op 24 Februarie 1942 in die Parlement die Rege­ring besonder skerp aangeval oor wat met Johannes van der Walt gebeur het. Hy het onder andere gesê dat die Afrikaner nie bang is vir die Regering se terrorisme nie; hoe meer Afrikanerbloed vloei, hoe sterker sal die Afrikanervolk groei.

Johannes sou aan sy ouers gesê het dat hy nie geweld sou gebruik indien die polisie hom vaskeer nie.

Met die afsterwe van hierdie strydmakker was ek reeds in die dodesel en kon ek net 'n brief van innige deelneming aan sy naasbestaandes skrywe. Die grootste begrafnisstoet wat Johannesburg ooit geken het, het hierdie stoere Afrikanerseun na sy laaste rusplek gevolg... Vaarwel, getroue kame­raad!
Vervolg...