ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (29)

Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Ek word in die tronk verhoor

Net soos ek die oorlogtydse bondgenote van Kommunistiese Rusland uitdaag om my vandag tereg te wys, het die naturellenagwag agter my sel in die tronk ook alles wat hy gehoor en gesien het, uitgedaag. Elke halfuur was dit foutlose herhaling van die vorige dialoog.

"Halt! Hoe ghouse der?"

Die hoofbewaarder se antwoord: "Friend!"

"Ettewanse, vrent!" (Advance Friend) het die naturel beveel. En dan, as die hoofbewaarder by hom kom, was dit weer "0lls-wel-l-l!"

Dit was "Alles is wel", van vroeg tot laat, totdat "0lls-Wel-l-l" van die dril gegaan het.

Een oggend het ek weer oudergewoonte my nekspiere gestaan en oefen toe die tronk se opperbewaarder sy opwagting daar maak. "Waarom oefen jy jou nekspiere so baie?" wou hy met 'n breë glimlag weet.

"Om die galgtoue van die galgkamer te breek," het ek onmiddellik geantwoord. Die opperbewaarder het so lekker gekry by die gedagte dat ek opgehang sou word dat hy met 'n vermakerige laggie oral aan sy liggaam lekker gekry het. Die gevolg was dat ek gereeld wanneer ek hom sien, my nekspiere begin oefen het.

 

In die tronk is twee werkswinkels ontruim ... een vir die hofsitting en die ander vir die snelskriftiksters.

Intussen is verskeie uitkenningsparades gehou. Ek het aan die polisie-offisiere in bevel duidelik laat verstaan dat ek beslis weier om toe te laat dat 'n naturel aan my vat. Die gevolg was dat een jong naturel van Soutpansberg, wat bewus was van my houding teenoor die nie-blanke staatsgetuies, by een geleentheid 'n geweldige sprong agteruit gegee, sy vinger na my gewys en uitgeskree het: "Hier's djy."

Ek wou eers kwaad word vir die astrante wyse waarop hy my aangespreek het, maar kon darem ook nie my lag bedwing nie.

Tien gewapende berede polisiemanne het ons, die aangeklaagdes, by die hek agter die tronkmure bewaak. Gewapende magte is buite om die tronk opgestel vir enige gebeurlikheid.

Op 20 April — Adolf Hitler se geboortedag — is 'n poskaart, met 'n smerige karikatuur van die Führer en met beledigende woorde daarop, aan my oorhandig. Dit is vanaf Port Elizabeth aan my gestuur en was trouens ook die eerste pos wat ek ontvang het.

Die volgende oggend het ek die poskaart saam met my na die hof geneem om dit onder die aandag van die landdros te bring. Die koerante het natuurlik nie versuim om 'n groot ophef van hierdie insident te maak nie. Die tronkowerheid het hierop gereageer deur al die aangeklaagdes elke oggend te deursoek voordat ons tot die binneterrein toegelaat is.

Een van die bewaarders het taamlik hardhandig my sakke deurvoel.

"Wat soek jy? Indien jy probeer snaaks wees, wil ek net hê jy moet goed verstaan dat indien julle weer 'n beledigende skrif van watter aard ook al aan my oorhandig, ek dit by die hof aanhangig sal maak en julle bewaarders sal my waaragtig nie keer nie," het ek briesend gesê.

Op daardie oomblik het die opperbewaarder op die toneel verskyn. "Wat gaan nou hier aan?" wou hy uit die hoogte weet.

"Gaan bars jy," het ek hom toegesnou.

Hierdie woorde het my 'n aanklag op die hals gehaal en ek is tot tien dae verminderde rantsoen gevonnis. Dit het beteken dat ek twee uit elke drie dae net 'n bietjie pap sonder melk of suiker, 'n snytjie droë brood en 'n pint water ontvang het. Die sop wat ek gekry het, was so sout dat ek dit nie kon inkry nie. Die doel was klaarblyklik om my so dors te maak dat ek om water moes smeek. Hoewel ek verskriklik dors geword het, het ek niks laat merk nie en die bewaarders elke keer bedank vir die heerlike sop wat 'n bietjie te vars na my sin was.

Gedurende die tien dae was ek gedwing om op die koue sementvloer te slaap. Dit het veroorsaak dat ek rumatiekpyne in my gebreekte regterelmboog gekry het. Die volgende dag het die tronkgeneesheer gelas dat ek op 'n bed moes slaap.

Hierdie toegewing het die bullebak van 'n bestuurder glad nie aangestaan nie en by sy volgende besoek het hy nors en uitdagend my sel binnegekom. Gretig het ek gewag dat hy iets moes sê. Sy snorkgeluid was vir my genoeg. "Het jy miskien gedink ek moet vir jou opstaan?" wou ek sarkasties weet. 'n Hewige woordewisseling het gevolg.

"Shut up," het hy vir my geskree toe hy uitstap.

"Shut up yourself," het ek agterna geroep.

Dis nodeloos om te sê dat ek weer gestraf is. Hierdie keer is ek ses dae rys­water opgelê. Ses dae moes ek sonder kos of water klaarkom. Die jellieagtige mieliegruiswater het geen sout in gehad nie en ek het dit net gebruik om my mond mee uit te spoel.

Geen mens verwag dat die gevangenis 'n piekniekoord moet wees nie. Wat ek egter daar agter die hoë tronkmure gesien en self deurgemaak het, is 'n gruwelike skande wat nooit deur die tyd uitgewis sal word nie.

By die skrywe van hierdie woorde is ek terdeë bewus van die wetgewing wat in 1959 deur die Parlement geloods is. Hierdie wet maak enige leuenagtige publikasie oor die behandeling van gevangenes in ons tronke strafbaar. Nogtans aanvaar ek die verantwoordelikheid vir alles wat ek oor my behandeling in die tronk skrywe.

Nie alleen aanvaar ek alle verantwoordelikheid nie, maar ek daag enigeen om my een enkele puntjie, hoe gering ook al te wys wat nie die waarheid, die hele waarheid en niks anders as die waarheid is nie. Ek gaan onweerlegbaar bewys lewer dat ek wreed mishandel en gefolter is.

In ons Suid-Afrikaanse tronke het ek ontdek dat geskoolde barbarisme geen regulasie of menslikheid ken nie.

In die Pretoriase lokale tronk was ek besig om as beskuldigde verhoor te word; ek was dus nog glad nie gestraf nie. Die behandeling wat ek ontvang het, was maar kinderspeletjies teen wat op my in die Sentrale Gevangenis gewag het. As verhoorafwagtende het ek nog altyd toegang tot die hof gehad, maar toe daardie voorreg my ontneem is, is ek sonder aanklag, sonder ver­hoor en sonder die opgawe van enige rede hoegenaamd, wreed en barbaars mishandel. Daarby kom ek later weer.

Intussen het my verhoor in die tronk voortgeduur.

Teen 'n donker agtergrond van verraad, leuens en skaamtelose lafhartigheid van mede-Afrikaners, was dit 'n voorreg om te luister na die Kleurling, Hendrik Rietjies, wat hom baie dom gehou het tydens 'n uitkenningsparade. Hy is gevra om die baas uit te wys wat daar by sy veepos in Namakwaland aangekom en hom die pad na sy baas se plaas gevra het. Hy kon of wou dit eenvoudig net nie doen nie.

Die naturel wat tydens my verblyf by mev. Maack in Johannesburg werk­saam was, het die kroon gespan van alle nie-blanke getuies. As huisbediende het hy gereeld my kamer aan die kant gemaak en baie dinge gesien en gehoor wat van hom 'n uitmuntende staatsgetuie kon gemaak het. Toe iemand een middag aan die voordeur klop, het hy my met gebare gewys om in my kamer te bly. Hy het self die deur gaan oopmaak. Die naturel het beslis geweet wat aangaan. Hy het selfs vir Johannes van der Walt met sy welige baard in my kamer gesien. Vir sy deeglike werk in die huis het ek hom dikwels 'n munt­stuk in die hand gedruk, maar hy het ook baie klappe en skoppe gekry wan­neer hy verbrou het. Om hom sag te maak te maak as staatsgetuie, is hy ook, soos die Duitse vroue en dogters, drie maande lank in die tronk gestop.

Toe hy in die getuiebank verskyn, het hy vas in my oë gekyk, maar niks laat merk nie.

"Wat was die baas se naam wat daar by jou miesies in die kamer gewoon het?" wou die staatsaanklaer weet.

"Sy naam was baas Harry."

"Is daardie baas hier teenwoordig vandag?"

"Auk, ek weet hom nie."

"Toe, kyk of jy die baas nie sien nie."

Die naturel het versigtig rondgekyk — ook na my, wat digby hom voor in die hof by my advokate gesit het.

"Daardie baas ek sien hom nie hier nie."

"Het jy niks in die baas se kamer gesien wat voorheen nie daar was nie?"

"My og hy het niks gesien nie."

In hierdie trant het die ondervraging voortgeduur totdat die staatsaanklaer hom uit die hof gejaag het. Die polisie het geweier om hom 'n treinkaartjie na Johannesburg te gee; hierdie getroue skepsel moes maar voetslaan.

Daar was tye toe ek gevoel het dat daar tog Afrikaners is op wie die                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                volk trots kan wees. Dit was veral die geval toe manne soos Hendrik Francois Malan, Harry George David Cochrane, Casperus J.H. de Wet (die seun van prof. De Wet van Potchefstroom), Hendrik Mentz Robinson en die bejaarde mnr. Burger beslis geweier het om enigiets inkriminerends teen 'n mede-­Afrikaner te getuig.

Mnr. Burger, wat vir my 'n totale vreemdeling was, het ondanks die dreige­mente van die staatsaanklaer dat hy tronk toe gestuur sou word, geweier om te getuig. Robinson, die student van wie daar reeds melding gemaak is, het sedert 21 Mei van daardie jaar agt keer geweier om te getuig. Nadat hy 45 dae daarmee volhard het en bleek en sieklik daar uitgesien het, is hy deur die landdros uit die tronk ontslaan. Onmiddellik daarna het die speurders hom na die interneringskamp geneem. Dieselfde lot het ook die getroue H.F. Malan te beurt geval.

In Noord-Transvaal het 'n interessante insident plaasgevind. Die hooffiguur in hierdie aandoenlike toneeltjie was mev. dr. Erika Hartmann van Tzaneen. Sy is op haar plaas in hegtenis geneem en saam met Erna Eggert en die ander Duitse vroue en dogters opgesluit omdat sy geweier het om haar geweer aan die polisie te oorhandig. In plaas daarvan het sy die geweer in die teen­woordigheid van die polisie teen 'n klip te pletter geslaan.

"Van my sal julle geen wapen kry om saam met die Kommuniste teen Duitsland te veg nie," het sy gesê.

Die dag toe sersant Nel in die getuiebank verskyn, het Erna Eggert haar ore gespits. Op 'n vraag van die advokate vir die verdediging, het sersant Nel geantwoord: "Die balonne aan Taillard se motor was die teken dat Leibbrandt in die voertuig sou wees."

By die aanhoor van hierdie woorde het Erna Eggert in trane uitgebars en sonder toestemming van die landdros die hof verlaat. Ek het haar gevolg. "Jy het daar tog geen skuld aan nie, Erna," het ek probeer troos. "Hieruit het ons 'n dure les geleer. Die menslike siel is ondeurgrondelik; hy moet alleen aan sy dade getoets word."

"Ach Robey, ich kann das imrner noch nicht glauben, " (Ag, Robey, ek kan dit nog altyd nie glo nie) het sy die woorde uitgesnik. "Is dit moontlik dat 'n mens met sy voorkoms so iets kan doen?" wou sy met bewende lippe weet.

Dit was soos 'n lafenis in die dorre woestyn om na die getuienis van die onverskrokke en standvastige Duitse vroue en dogters te luister. Ook hulle het nie die laagvloerse metodes wat sommige van die geregsdienaars aangewend het om getuienis teen my te bekom, vrygespring nie. Hulle is beledig, gedreig en selfs in die tronk gestop, maar niks kon hulle beweeg om teen my te getuig nie. Ongelukkig het groot getalle sterk jong Afrikaners gekapituleer en gekruip voor die gedagte dat hulle moontlik 'n dag of langer in die tronk so moes deurbring. Onder hulle was diegene wat gewoonlik die grootste mond gehad het ... die mooiweerhelde!

Op 3 Julie 1942 het die volgende berig in die pers onder die opskrif verskyn Leibbrandt-verhoor Afgesluit ... 507 500 Woorde in Hof Afgeneem: "Die Staat het gister sy getuienis in die saak waarin Robey Leibbrandt en 17 ander beskuldigdes vir voorlopige verhoor op aanklag van hoogverraad teregstaan, afgesluit. Die verhoor is daarop tot Maandag verdaag, wanneer die advokate hulle beredenering sal begin. Die verhoor vind voor mnr. C.A. Backeberg in die Pretoriase gevangenis plaas.

"Die saak het op 7 Maart begin; die rekord van die verrigtinge wat deur drie snelskryfsters afgeneem is, beslaan 1 150 bladsye of 507 500 woorde; die saak is oor 'n tydperk van 53 dae verhoor en het ongeveer 200 uur in beslag ge neem.

"Dit is een van die langste sake in die geskiedenis van die Suid-Afrikaans regspleging. Daar is 105 bewysstukke en 84 dokumente by die hof ingedien terwyl 183 getuies in die saak getuig het."

Na afloop van die voorlopige verhoor wat op 6 Julie 1942 geëindig het, het die landdros die gebruiklike vraag gevra: "Wil jy enigiets sê in antwoord op die aanklag? Jy is nie verplig om enige verklaring af te lê nie, maar indien jy iets sê, kan dit as getuienis teen jou gebruik word. Hierop het ek ja geantwoord en my soos volg uitgelaat:

"Ek beskou die aanklag van hoogverraad teen my nie alleen as onsinnig, swaksinnig en kranksinnig nie, maar as waansinnig. Ek is 'n eervolle Afrikaner en 'n trotse soldaat van die idee van Adolf Hitler. Die Vierkleur hoog!"

Oor wat daardie dag in die tronk plaasgevind het, is soos volg in die koerant geskryf onder die opskrif: Sit Tussen Tagtig Meide In Die Tronk ... Vrou protesteer by Leibbrandt-verhoor.

"Vier van die sewentien persone wat saam met Robey Leibbrandt vir voorlopige ondersoek tereggestaan het, is vanoggend formeel deur die magistraal mnr. C.A. Backeberg, ontslaan ..."

"n Aandoenlike toneel het hom afgespeel toe hierdie vier persone plegtig die agterblywendes een vir een gegroet het. Nie een van hulle het egter hulle vryheid gekry nie. Voordat die deur van die gevangenis nog agter een van hulle toegeslaan is, is hulle almal weer in hegtenis geneem. Mev. Erna Eggert, Sarel en Simon Pretorius, sal na verstaan word, geïnterneer word, terwyl Willem Pretorius van 'n ander misdaad, waarskynlik die besit van springstowwe, aangekla sal word.

"Mev. Eggert, teen wie geen staatsgetuie 'n enkele woord getuig het nie, is vanselfsprekend deur die magistraat onskuldig bevind. Toe sy egter deur die speurders meegedeel is dat sy met die oog op internering in die Sentrale Gevangenis aangehou sou word, het sy onmiddellik sterk protes daarteen aangeteken.

"Leibbrandt wat daarop van die gebeure verwittig is, het hom met mev. Eggert vereenselwig en die speurders dienooreenkomstig meegedeel.

"n Opgewonde toneel het daarna in die agterplaas voor die hof gevolg toe mev. Eggert geweier het om terug te gaan na die selle. 'n Ernstige woordewis­seling het eers tussen Leibbrandt en die speurders plaasgevind, sodat die ma­gistraat moes vra dat die geraas buite die hof moes ophou. Adv. P.M. Cillie, wat namens mev. Eggert verskyn het, het daarna verlof gevra om 'n oomblik verskoon te word.

"Hy het na 'n paar oomblikke teruggekom en verklaar dat daar moeilikheid is met mev. Eggert. Hoewel sy in die hof ontslaan is, is 'n bevel uitgereik vir haar inhegtenisname kragtens die noodregulasies. Mev. Eggert weier om terug te gaan na haar sel. Haar klagte is oor die behandeling in die tronk. Sy word reeds ses maande daar aangehou onder baie ongunstige omstandighede. Die toestand, verklaar sy, is onuithoudbaar. Sy het nog altyd geswyg oor daardie behandeling, maar spreker voel dat dit nodig is dat hy die toestand onder die aandag van die hof bring.

"Die magistraat het verklaar dat hy ongelukkig niks aan die saak kon doen nie. Dis 'n administratiewe saak waarin hy niks te sêhet nie."

"Mev. Eggert het hierop gevra om 'n paar woorde te sê. Sy het vertel dat sy in die Sentrale Gevangenis behandeling ontvang soortgelyk aan die wat die meide wat meer as twee jaar gevangenisstraf uitdien. Sy word tewens langsaan die tagtig meide aangehou en moet van dieselfde terrein gebruik maak as sy saam met hulle uitgelaat word vir oefening. Van die meide het haar al gevra of sy dan ook haar man vermoor het. Sy is volkome bereid om geïnterneer te word, selfs om na Rhodesië gestuur te word vir internering, want sy is 'n Duitse onderdaan, maar sy gaan nie terug na die Sentrale Gevangenis en die meide nie, het sy verklaar.

"Sy het die magistraat ook meegedeel dat sy op 24 Desember 1941 saam met Leibbrandt in hegtenis geneem is, en dat sy nie toegelaat is om skoon klere te kry voor 6 Februarie 1942 nie. Al haar vertoë was vrugteloos en die polisie het haar uiters swak behandel.

"Die magistraat het weer sy spyt te kenne gegee en gese dat hy niks kon doen nie. Hy het die hof verdaag, sodat vertoë tot die speurders en polisie­owerhede gerig kan word."

Ek en die ander beskuldigdes het saam met mev. Eggert vir kaptein Du Plooy genader en hom meegedeel dat sy haar nie sal oorgee nie, en dat hulle haar met geweld kan wegneem, maar nie voordat almal platgeslaan is nie.

Die atmosfeer was uiters gespanne. Die speurders het belowe dat sy nie voor 2 nm. in hegtenis geneem sou word nie en sy is toegelaat om in die hof te bly. Intussen is met die owerheid in verbinding getree en hooggeplaaste amptenare van die Staat is geraadpleeg.

Na etenspouse was dit egter duidelik wat sou gebeur. Polisie- en speurder­versterkings is aangebring. Agt van die beste speurders, die meeste van wie indertyd gebruik is om my in hegtenis te neem, is na die tronk ontbied. Byge­staan deur Annandale, Van Cittert en Lipka, was ek bereid om saam met mev. Eggert die gesag te trotseer.

Toe die hof om 4.15 nm. verdaag, het die spanning hoog geloop in die agter­plaas van die tronk. Net toe ek die hofsaal verlaat, pluk ek my baadjie uit. "Met 'n oormag het julle my oorrompel en of julle vandag weer veertig of vyftig of selfs vyfhonderd is, maak aan my geen saak nie, maar hierdie vrou gaan julle nie teen haar sin tussen die meide in 'n sel instop nie," het ek die polisie uitgedaag.

Die polisie en speurders was altesaam twintig in getal en nogtans het ons volhard in ons houding dat hulle nie vir Erna Eggert terug sou neem na die Sentrale Gevangenis nie. Toe ons gereed was om die polisie aan te durf, het mev. Eggert plotseling besluit om vrywillig oor te gee. "Ek doen dit nie omdat ek bang is nie, maar net om bloedvergieting te voorkom," het sy met be­traande oë aan die speurders gese.

Toe sy in die straat kom, het 'n motor vir haar gereed gestaan. "Om my kamerade nie in gevaar te stel nie, het ek my daarbinne bereid verklaar om saam met julle te gaan, maar nou weier ek," het sy aan die polisie gesê.

Die speurders het 'n kring om haar gevorm en daarna a]l die koerantmanne wat in die nabyheid was, versoek om die toneel te verlaat. Hulle het verklaar dat hulle op bevel van die Minister handel en dat hulle sy opdragte sou uit­voer, hoe onaangenaam dit ook al mag wees.

Daar is verneem dat mev. Eggert deur vyf of ses speurders oorrompel en met geweld in die vangwa gestop is. Sy is na die Sentrale Gevangenis terug­geneem. Twee dae later het 'n berig in die koerant verskyn dat mev. Eggert 'n hongerstaking onderneem as protes teen haar behandeling in die gevange­nis. Spoedig hierna is sy na Rhodesië gestuur vir internering.

Vervolg...