Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Voor die Hooggeregshof
Met die afsluiting van die voorlopige verhoor was my geselsery met die ander aangeklaagdes op 'n einde en ek is weer oorgelaat aan die willekeur van die gevangenis-owerheid. Dit was nie soveel die eensame opsluiting wat aan my senuwees getorring het nie, maar wel die gedagte dat ek sonder meer gestraf is. Hierdie onregverdige tirannie het my ingebore fyngevoeligheid tot hipersensitiwiteit verskerp en ek het eenvoudig verseg om my bakkie sop wat as middagmaal gedien het, van die sementvloer op te tel. "Ek is nie 'n hond wat van die grond af vreet nie," het ek gesnou. "My voedsel moet op 'n skinkbord bedien word."
"Ons sal aan hierdie versoek voldoen, maar dan maak jy in die vervolg self jou sel aan die kant," het 'n bewaardertjie my probeer troef.
"Ek weet julle bluf die ander politieke gevangenes met daardie storie, maar nie vir my nie. Indien daar geen gevangene is om my bed op te maak nie, sal jy dit moet doen, maar nie ek nie. Dit is hoog tyd dat jy kennis maak met die tronkregulasies," het ek geantwoord.
Ondertussen is van die oorblywende aangeklaagdes wat deur die landdros ter strafsitting verwys is, ook weens gebrek aan genoegsame getuienis ontslaan. Net ses van die oorspronklike sewentien sou saam met my voor die spesiale hof, bestaande uit drie regters, in Pretoria verskyn.
Die oggend van 16 November 1942 is ek saam met Le Roux, Olwagen, Van Cittert, Van der Walt, Stadler en Annandale na die spesiale hof geneem. Daar is 'n spesiaal-vervaardigde bank vir sewe beskuldigdes in die Hooggeregshof aangebring.
Op 17 November het die volgende berig in 'n koerant verskyn: Leibbrandt-verhoor In Pretoria Hervat ... Hoogverraadklag Teen Sewe Blankes ... Saak voor Spesiale Hof.
"Die Hooggeregshof was gister stampvol belangstellendes toe die verhoor van Robey Leibbrandt en ses ander voor die Spesiale Hof 'n aanvang geneem het.
" ‘n Sterk polisie-afdeling was in die hof, asook oral in die gebou geplaas.
"Advokaat Lutge het 'n kort opsomming van die saak gegee. Die staat sal beweer dat Robey Leibbrandt, besiel met die idee van Adolf Hitler, hoof van die staat met wie hierdie land in oorlog is, met 'n duikboot na Suid-Afrika gestuur is om die belange van die Unie se vyande te bevorder. Die oogmerke van Leibbrandt sou wees om die Regering van die land omver te werp en hier 'n Nasionaal-Sosialistiese regering in die lewe te roep."
Ek het reeds onweerlegbaar bewys dat ek nie met 'n duikboot nie, maar wel met 'n seiljag na Suid-Afrika teruggekeer het. Ek het ook beskrywe hoe ek die gedagte van 'n staatsgreep met wyle mnr. J.A. Smith, Assistent-Kommandant‑generaal van die O.B. in Kaapland, teengegaan en as belaglik bestempel het. Wat was dan die werklike doel van my koms na Suid-Afrika?
Die hofdeure was reeds vroeg die oggend oop, met die gevolg dat die saal stampvol was toe ons binnekom. Met uitgestrekte regterarm het ek die skare gesalueer en "Die Vierkleur hoog!" uitgeroep. Talle toeskouers het spontaan opgestaan en my saluut beantwoord. Van toe af is die publiek nie meer toegelaat alvorens ek my plek in die beskuldigdebank ingeneem het nie.
Al die deure van die hofgebou is deur polisiemanne bewaak. Sewe geregsdienaars het tussen die beskuldigdebank en die publiek stelling ingeneem. Lucas Strachan en Kippie Geyser, albei bekende rugbyvoorspelers, was spesiale wagte. Hulle het my nie alleen vergesel wanneer ek vervoer is nie maar ook by die deur waggestaan waar ek as beskuldigde nommer een gesit het.
Op 19 November het 'n heel interessante berig in die koerant verskyn: Leibbrandt-saak: Staatsgetuie Weier Om Te Getuig ... Medepligtige lei getuienis en verkry kwytskelding.
Hierdie getuie het die skrille kontras tussen moed en lafhartigheid, tussen trou en verraad duidelik geïllustreer.
Ek was erg geskok toe ek hoor dat 'n Duitse valskermsoldaat teen my getuig. Op 15 Desember verskyn dan ook plakkate in die strate. Hier is van die koerantberigte: Duitse Soldaat Getuig teen Robey Leibbrandt ... hulle het saam gedien in die valskermafdeling.
`°n Duitse krygsgevangene, 'n valskermsoldaat, het gister getuienis afgelê in die saak waarin Robey Leibbrandt en ses ander op aanklag van hoogverraad verskyn. Die getuie, wat spesiaal deur die staat van Kairo gebring is, het verklaar dat Leibbrandt 'n valskermspringer in die Duitse leër was. Leibbrand was korporaal.
"Ten antwoord op 'n vraag van adv. Ludorf, het die getuie verklaar dat daar aan hom gesê is dat sy getuienis Leibbrandt sou help om uit 'n internering kamp te kom. Hy het verstaan dat Leibbrandt geïnterneer was.
"Getuie is in Kairo ondervra oor 'n gerug dat Leibbrandt Engelse offisiere in Duitsland mishandel het. Hy het dit ontken. Aan hom is verder meegedeel dat Leibbrandt na die Unie teruggekeer het en die Britte help.
"Toe hy sy verklaring gedoen het, het hy gehoop om Leibbrandt uit die kamp te kry."
So het hierdie Duitser in Suid-Afrika gelieg. In die Duitse blad Bild Sontag (Beeld op Sondag) wat in Mei, Junie en Julie 1958 in Duitsland oor my oorlogsavonture verskyn het, lieg dieselfde Koiter weer 'n heeltemal ander stone.
Koiter was as valskermsoldaat en lid van die Duitse keurtroepe. Toe hy voort gestu is deur die onsterflike Duitse krygsgees en bygestaan is deur sy strydmakkers, was hy 'n held. Hy het trouens ook die Duitse Ysterkruis (eerste klas) verwerf vir dapperheid op die slagveld. Toe hy egter alleen staan, was hy nie alleen 'n lafaard nie, maar 'n verraaier. Elke verraaier is 'n lafaard en elke lafaard 'n potensiële verraaier! Dit is trouens onteenseglik waar dat die karakterwaardes van die mens alleen in tyd van lewensgevaar getoets word, veral wanneer hy alleen staan.
Dit was erg vervelend om in die spesiale hof weer na dieselfde getuies te luister. Selfs die floute waarin een van die vroue onder kruisverhoor neergesak het, was net weer 'n herhaling van wat in die voorlopige verhoor gebeur het. Sy het later weer teruggekom, maar aangesien haar getuienis van minder belang was, het die verdediging hulle kruisverhoor gestaak. Af en toe is wel 'n nuwigheid aangevoer, afgewissel met 'n skokkende verklaring wat nie by ons verhoor in die tronk aangehaal is nie. Ook is getuies geroep wat tydens die voorlopige verhoor of nie beskikbaar was nie, of as onnodig beskou was.
Baie van die getuies is in die spesiale hof agter geslote deure verhoor. Hierdie getuienisse het meestal gehandel oor die bewaking van die Suid-Afrikaanse kus sowel as die bodemgesteldheid van die kus onder die water. Die staat wou vasstel of dit wel moontlik is om met 'n duikboot tot naby die kus te kom. Die hof het dan ook bevind dat ek beslis met 'n duikboot na Suid-Afrika gekom het. Eerstens was dit my leuen en tweedens die leuen van die Kleurling-visser van Namakwaland dat hy op daardie spesifieke datum iets soos 'n duikboot onder die water gesien het, wat die regters laat besluit het dat een leuen plus nog 'n leuen gelyk is aan die waarheid.
Tydens ons verhoor in die Hooggeregshof is ek een middag saam met die ses ander beskuldigdes in dieselfde vangwa na die tronk vervoer. Ons het op 'n ongeluk afgekom. Naby 'n hoek het 'n motor met 'n perd gebots. Die perd se been was gebreek en het net aan 'n stuk vel gehang. Toe ek die lyding van die stomme dier waarneem, het ek ewe ingedagte gesê: "Ag, siestog". Die gegiggel wat ek by die uiting van hierdie woorde gehoor het, het my skielik laat opkyk, vas in die oë van die glimlaggende giggelaars.
Van die ses persone wat saam met my verhoor is, het vier die getuiebank betree. Le Roux, wat 'n lektor aan die Potchefstroomse Universiteitskollege was, is bykans drie dae lank deur die twee staatsaanklaers onder kruisverhoor geneem. Hoewel sy antwoorde nie altyd glashelder was nie, was dit nietemin briljant. Hy het die bewerings van die persoon wat die meeste teen hom getuig het, na 'n verdigsel laat klink. Ek het Le Roux goed geken en het maar net my kop geskud en gelag.
Henk van Cittert het in die getuiebank uitgeblink as 'n toneelspeler en hy het uitmuntend daarin geslaag om selfs die regters se lagspiere te prikkel. Daarbenewens was hy uiters populêr onder sy vriende en Jood, Moor en Indiaan het vir hom getuig. Dit is geen wonder dat die groot 'dollaragent' onskuldig bevind is nie.
Wat my tydens my verhoor erg onthuts het, was dat ek sekere dade, gepleeg deur andere, in die koerante op subtiele wyse aan my toegedig is. So is die lyksrede van die dominee by die graf van Nel in Bloemfontein vertolk asof die bloedeed van die Nasionaal-Sosialistiese Rebelle die soort dade in die hand werk.
Nel is deur lede van die Ossewabrandwag doodgeskiet omdat hy die een ander eed wat hy sou geneem het, nie nagekom het nie. Sy dood was 'n vergeldingsmaatreël wat deur sy eie makkers toegepas is.
Ons verhoor in die Hooggeregshof is vir die Kersvakansie verdaag. Op Kersdag is 'n paar van my kamerade onder strenge toesig toegelaat om my ‘n handdruk te gee. Verder was ek alleen en ek kon nie deelneem aan enige feestelikheid in die tronk nie. Van my mede-gevangenes het ek daardie dag 'n heerlike bord kos ontvang.
Gedurende hierdie reses het oud-bewaarder Burger vir my gesê dat hy en 'n aantal goedgesinde polisiemanne noukeurige voorbereidings tref om my uit die tronk te haal. Hoe diep ek hierdie gebaar ook al gewaardeer het, kon ek my net nie vereenselwig met die idee om weg te hardloop van die doodvonnis wat ek geweet het oor my uitgespreek sou word nie. Ek wou graag gebruik maak van die geleentheid om die jeug van my volk te besiel met 'n gees wat in die uitlewing van hulle Afrikanerskap weerklank sou vind.
Die vraag is hoe ek geweet het dat ek ter dood veroordeel sou word? Ek hte genl. Smuts geken. Nie die mens nie, maar die onverskrokke leier. Die leier wat met sy volk gepraat het met dade wat soos donder slaan ... die enigst taal wat 'n volk verstaan en die enigste taal wat 'n volk se siel kan tref.
Op 25 Januarie 1942, toevallig my geboortedag, is ons verhoor in die spesiale hof hervat. Hoewel ek geen getuies wou roep om my onskuld te bewys nie het ek tog aan mev. Eggert belowe dat ek by die hof sou aansoek doen om haar te laat kom as getuie. Na 'n lang argument in die hof het die regters toegestem dat sy van Salisbury na Pretoria gebring kon word. Sodoende het ek wel my woord gestand gedoen, maar beslis geweier dat sy in die getuiebank verskyn. Indien ek iets vir my verdediging wou doen, kon ek self getuig, wat ek natuurlik geweier het.
Hoe nader die einde van my verhoor gekom het, hoe nader het die dood gekruip. Ek moes aan die galg sterf. Die klag teen my was verkeerd geformuleer en die getuienis hopeloos vals. Niemand kon oor die waarheid getuig nie, want niemand het geweet hoe ek na my vaderland teruggekeer het en wat my eintlike doelstelling was nie. Ek het eenvoudig niemand vertrou nie. Net Kart Theron het 'n idee gehad en hy kon nie uit die graf getuig nie. Hierdie gebrek aan vertroue in my medemens is nie toe te skrywe aan magiese kennis van die sielkunde van die mens nie, maar 'n aangebore eienskap wat ek seker van my vader geêrf het.
Daar is uit verskillende bronne aan my voorgestel dat ek om genade moet smeek. Daar is selfs aan my geïnsinueer dat ek aan die hof moes beken dat ek deur die Duitsers mislei is. Nie ek nie, maar die Duitsers, die vervloekte Nazi's, was verantwoordelik vir my optrede in my vaderland.
Ek walg vandag nog as ek aan daardie eer- en karakterlose insinuasies dink. Is die Afrikaner dan swakker as ander volke? Ek weier om dit te glo. Ek het in my hart gebid dat God my die krag moes gee om só te sterwe dat ek as voorbeeld kon dien vir die jeug van my volk.
Op 27 Februarie 1943 het die volgende berig in 'n koerant verskyn: "Die verhoor van die saak waarin Robey Leibbrandt en ses ander op aanklag van hoogverraad verskyn, is gistermiddag laat afgesluit.
"Die saak wat voor 'n spesiale hof gedien het, het tien weke geduur. Dit is byna 'n jaar gelede dat met die voorlopige verhoor daarvan begin is.
"Die advokate vir die staat en vir die verdediging het die hof drie weke lank toegespreek. Advokaat C.P. Bresler het gistermiddag sy beredenering beëindig nadat hy 'n volle week besig was.
"Advokaat Lutge, vir die staat, het gister 'n kort opsomming gegee, waarna die presederende regter aangekondig het dat die uitspraak voorbehou word.
"Die saak is verhoor deur regters Schreiner, Ramsbottom en De Beer."
Vervolg...