Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
My verblyf in die dodesel
Die dodesel was 'n ruim vertrek in vergelyking met die grootte van 'n sel. Dit was egter somber en koud. Geen bed, geen stoel en ook geen toilet — net 'n slopemmer met 'n swaar ketting deur 'n ring aan die muur. Die tronkowerheid was seker bang dat 'n onnutsige terdoodveroorde die emmer sou steel...
Die eerste nag in die dodesel het ek besonder vas geslaap. Die volgende oggend het die bewaarder aan diens my meegedeel dat die tronkbewaarder en nog een of twee vreemde persone by die dodesel besoek afgelê het en sou luid by die deur gestaan en gesels het, maar ek het hulle nie gehoor en derhalwe ook nie wakker geword nie.
Elfuur daardie oggend het die bestuurder my na sy kantoor ontbied en met soetsappige woorde probeer gerusstel, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. "Ek hoop nie jy word opgehang of doodgeskiet nie, Leibbrandt," het hy met geveinsde aandoening gesê.
"Ek is bereid om te sterf," het ek geantwoord, omgedraai en by die deur uitgestap waar ek ingekom het.
Vandaar is ek deur my twee oppassers na die geneesheer geneem. My hart het gejubel van blydskap toe ek ontdek dat die beroemde Springbokvoetbalspeler, dr. Jack van Druten, die arts van die Sentrale Gevangenis was. Hierdie man sal 'n interessante boek oor die onkunde van die misdadiger kan skrywe, want hy is 'n mensekenner van formaat. Aan dr. Jack van Druten is ek ontsaglik veel dank verskuldig vir alles wat hy vir my gedoen het tydens my verblyf in die tronk.
Daardie oggend het hy my met 'n veelseggende glimlag ondersoek en toe ek wegstap, het ek aan die bewaarders gevra of 'n mens dan 'n gesondheidssertifikaat nodig het om aan die galg te sterf.
Onderweg na die dodesel is ek na die ontvangskantoor geneem om dokumentasie van my private eiendom na te sien voordat dit weggestuur is na my moeder op Potchefstroom. Hier het ek ywerig gesoek na my toespraak wat ek uitgeskryf het, maar ek kon dit nie vind nie. Ek het aangeneem dat iemand dit in die hof as aandenking uit my sak getrek het. In die hof het ek twee sakdoeke en 'n vierkleurwapen as aandenking aan twee goedgesinde speurders geskenk. My polshorlosie, wat die aand van my inhegtenisname by die polisieselle verwyder is, het ek nooit weer gesien nie. As deeglik opgeleide liggaamsopvoedingsinstrukteur was ek besiel met die wete dat liggaam, siel en gees 'n inherente eenheid vorm en dat die verwaarlosing van die een ook skade aan die ander berokken. In hierdie sin en gees het ek my dan ook voorberei vir die dood aan die galg. Nog nooit in my boksloopbaan het ek so hard geoefen vir ‘n geveg soos daar op die tronkterrein nie.
Op reëndae was ek genoodsaak om binne die gebou te oefen. Weens gebrek aan ruimte, het ek by sulke geleenthede net gestap. Op 'n sekere dag het dit skielik weer begin reën. Terwyl ek besig was om op en af te stap, het iemand onder uit die saal gebulder: "Leibbrandt, as jy stap, moet jy vinnig stap ... verstaan jy?" Ek het omgekyk om te sien wie die grootbek was en 'n bewaarder raakgesien waar hy ewe manhaftig op 'n afstand gestaan en beduie het.
"Ek sal oefen soos ek wil en nie soos jy vir my voorskrywe nie. Is jy ter dood veroordeel of ek?" het ek teruggeskree. Wat hy hierop geantwoord het, kan ek nie onthou nie, maar ons het nie vriendelik geraak nie.
Ek is die volgende dag aangekla weens parmantigheid en is vanselfsprekend skuldig bevind. In ons tronke praat net die bewaarders die waarheid. Dit is eienaardig watter geweldige invloed 'n uniform op 'n mens kan uitoefen. Dit is eintlik 'n towerdrag wat enige skobbejak in 'n engeltjie kan laat verander.
In my verhoor voor die tronkindoenas is die prikkelbaarheid van 'n terdoodveroordeelde heeltemal buite rekening gelaat en ek is tot ses dae ryswater gevonnis. Net soos in die lokale tronk, moes ek ook in die dodesel ses dae sonder kos en water klaarkom. Wanneer ek geskeer of my tande geborsel het, is daar 'n ontsmetmiddel in die water gegooi. Gedurende die dag is al my komberse uit die sel verwyder en daar dit winter en bitter koud was, het ek daar op die ysige sementvloer byna gekrepeer van die koue.
Hier waar ek sit, voel ek of ek nie verder kan skrywe nie. As ek voortgaan, sal niemand hierdie manuskrip publiseer nie. Ek bewe van woede. As ek maar net my vingers aan die gorrels van daardie gespuis kan kry, sal hulle in die ure wat ek hulle wurg 'n voorsmaak kry van wat ek ses-en-'n-half jaar moes verduur. Ek was veroordeel om aan my nek te hang totdat al die lewe uit my liggaam is, maar die regter het geen woord gerep dat ek geleidelik gemartel sou word totdat ek vrek nie.
Die tronkowerheid het nie alleen gepoog om my deur die modder te sleep en te verguis nie, maar het ook alles in hulle vermoë gedoen om my liggaamlik en geestelik te verpletter. Die rede vir hierdie laagvloerse optrede en barbaarse behandeling moet in my toespraak voor die galg gesoek word. Daar is, so vermoed ek altans, soos volg geredeneer: "Wie is hierdie bombastiese en opgeblase Nazi om te durf verklaar dat geen mag ter wêreld, selfs met die ondersteuning van die duiwel in die hel, daartoe in staat is om sy Afrikaner-hart te breek nie? Ons, die magtige septerswaaiers van die Gevangeniswese, sal hom breek!"
Watter vorm hulle breekmetodes aangeneem het, sal ek nou vertel.
Die twee dodeselle se deure het bestaan uit staalgaas en staalplaat om die helfte. Deur die gaas kon die bewaarder aan diens die terdoodveroordeelde gedurig dophou. Nie dat hy so belangrik is nie — sy lewe is buitendien geen stuiwer werd nie — maar voorsorg moet getref word dat hy nie selfmoord pleeg nie. Sodoende sou die regter se uitspraak gefnuik word en die laksman sy fooi kwyt wees. Hierdie regulasie het in my kraam gepas. Ek kon gedurig met die bewaarder aan diens gesels en propaganda maak vir my politieke geloof. Langs hierdie weg het ek baie bewaarders beweeg om te glo soos ek wou hê hulle moet glo. Die logiese konsekwensie was dat ek saans baie eetware en selfs melk ontvang het. Die polonie, kaas en ander tronksnoeperye is by die openinge tussen die deur en die vloer deurgetrek.
Ek het 'n vet papier onder deurgesteek. Die dungesnyde eetware is deur die bewaarder daarop neergelê. Die papier is stadig teruggetrek en die smullery het begin. Ons het altyd spottend verwys na die "vetmaak vir die galg-metode".
Met die hef van 'n lepel het 'n bewaarder langsamerhand 'n gat in die gaas gemaak. Die bevriende bewaarder het 'n tregter uit 'n vet papier gedraai. Die tuit is deur die gat gesteek en die melk by die bek ingegooi. Ek het die melk in 'n beker opgevang. Die grootste skenker en skinker in hierdie vetmaakproses was "Vaatjie" Joubert.
Een oggend is aan my meegedeel dat ek 'n Duitse sel-, oftewel galgmaat gaan kry. Die moordenaar uit Natal was toe reeds op pad na Pretoria. Toe ek uitvind dat die moord wat hy gepleeg het, geen politieke motief as dryfveer gehad het nie, het ek geweier om hom in my sel toe te laat. "As julle hom hier insit," het ek gesê, "sal dit nie nodig wees om hom te hang nie."
Indien daardie persoon skuldig was aan die dood van òf Nel, òf Lotter òf albei, sou ek geen beswaar gemaak het nie. Nel en Lotter was Stormjaers het vermoedelik die Stormjaer-eed geneem. Hierdie eed het soos volg gelui: "As ek storm, volg my. As ek val, wreek my. As ek omdraai, skiet my. Daar is onweerlegbare bewyse dat albei omgedraai het. Albei is geskiet. Wat het hulle verwag?
In my geval was die oorlogsverklaring aan Duitsland 'n party-politieke beslissing en nie 'n ware volksbeslissing nie. Dit was trouens ook die hoofrede waarom een van die grootste Afrikaners wat Suid-Afrika nog gelewer het, naamlik James Barry Munnik Hertzog, in die politieke woestyn beland het. Indien geredeneer word dat, volgens demokratiese beginsels, 'n parlementêre beslissing gelyktydig as 'n volksbeslissing geld, sou ek graag wou weet waarom ‘n republiek nie deur die Volksraad uitgeroep is nie? Of verteenwoordig en vertolk die Volksraadslede alleen dan die volkswil wanneer dit in die kraam van die Eerste Minister pas?
Wat die kommentaar van andere ook al mag wees, sou dit my toe net so min soos nou geskeel het. Ek het eenvoudig geweier dat 'n moordenaar met my in dieselfde sel opgesluit word. Die enigste alternatief was om die moordenaar in 'n ander dodesel te huisves, en dit was die sel wat deur middel van 'n skuifdeur toegang tot die galgkamer verleen het.
Ten tye van teregstellings is ek en my mede-veroordeelde uit ons selle verwyder. "My" sel is deur die tronkkapelaan gebruik vir finale gee voorbereiding van diegene wat op die punt gestaan het om aan die galg te sterf. Tydens my verblyf in die dodesel is daar dosyne naturelle opgehang en ek het die prosedure wat daar met teregstellings gevolg is, baie goed leer ken.
Ek en my mede-galgmakker is altyd binne hoorafstand van die geklap van die galg se valdeur geneem. Dit het so dikwels gebeur dat die geklap later wreed op ons onderbewussyn ingetatoëer is.
Een aand, terwyl die veroordeelde Duitser lekker gelê en slaap het, het ek hom 'n poets gebak. Hy het die gewoonte aangekweek om met sy kop digby die deur van die galgkamer te lê. Ek het 'n leëpapiersakkie styf opgeblaas en dit met 'n harde knal tussen my hande stukkend geslaan. Hy het so groot geskrik dat hy in die lug gewip het. So erg was die skok dat dit gelyk het of hy soos 'n wafferse jogi in die lug bly hang. "Jy sal my nog aan hartverlamming laat beswyk," het hy vreesbevange gesê.
"Dan bespaar jy die laksman ten minste die moeite om jou op te hang," het ek teëngewerp.
Die volgende dag het die Duitser weer sy ou holruggeryde storie oor sy onskuld opgedis. Hierdie keer het ek my vererg.
"Luister," het ek kwaai gesê. "Volgens jou eie vertelling, is jy skuldig aan moord. Maar hang sal jy nie. Dit kan ek jou nou al sê."
Met 'n dankbare uitdrukking in sy oë, het hy my aangekyk. "Dink jy werklik so?" het hy sag gevra. Ek het hom innig jammer gekry en bevestigend geantwoord. Hy was gelukkig. Hy het die galg vrygespring. Ek het saam met hom gejuig.
Daar in die dodesel sterf die terdoodveroordeelde elke dag. Die sielelyding wat hy moet deurmaak is geweldig. Die teregstelling is later net 'n blote fomialiteit. Nadat ek bykans nege maande in die dodesel was, het die tronkbestuurder my een oggend verras met 'n storie. Met 'n siniese glinstering in sy oë het hy my meegedeel dat my saak die eersvolgende Maandag voor die Appèlhof in Bloemfontein sou dien. Toe hy merk dat ek hom ongelowig aangluur, het hy vertel dat genl. Beyers hom die wete gegee het. (Genl. Beyers was toentertyd Direkteur van Gevangenisse, maar ek het dit nie geweet nie.)
"Genl. Beyers het gisteraand uit Bloemfontein teruggekeer," het hy met geoefende stembuiging gese.
Terwyl ek nog met my gevoelens geworstel het, het bewaarder "Soes" daar opgedaag. Hy was tydelik die sogenaamde seksiebewaarder en in bevel van die persoon aan diens by die dodesel. Hy het die wag se pligte tydelik oorgeneem.
"Het die bestuurder jou vertel wat hy van genl. Beyers gehoor het?" het "Soes" in 'n fluisterstem gevra.
"Ja, maar ek glo hom nie," het ek gesê.
"Ek het dit uit 'n ander bron ook verneem," het hy sy storie beklemtoon. "Moenie moed verloor nie, Robey. Ons staan by jou. Ek wag net vir die diensprogram om te verskyn. As die man by die voorhek net reg is, is alles reg. Ons Afrikaners gaan nie toelaat dat.. ." (hy vaar uit teen die reger ... "hulle jou ophang nie." Toe die wag sy verskyning maak, verlaat "Soes” die pos.
Ek het op die matjie in die hoek gaan sit en "Soes" se mededeling bepeins. Toe hy weer na sowat 'n uur opdaag, was ek reg vir hom.
"Alles is in die haak," het hy opgewonde gesê. Hy het die name genoem die bewaarders wat daardie week op die sleutelposte diens sou doen. "Hulle is jou alma! goedgesind. Ek het reeds met hulle gepraat. Morenag kan jy ont snap. Vir die eerste paar nagte sal jy hier op die Gevangenisterrein in 'n rioolgat moet skuiling neem. Ons sal jou van al die nodige voorsien. Dan, as ergste storm oorgewaai het, sal ons jou verder vervoer." Ek het aandagtig geluister totdat hy klaar gepraat het en toe losgebars:
"Wat kry jy vir hierdie gemene en karakterlose set?"
Hy het nog met daardie stone aangehou tot ek hom met 'n luide stem beveel:
"Sluit oop hierdie ver ... deur, jou lae hond. Dink jy miskien ek is die 1 van die Ystergarde in Roemenië wat op hierdie manier toegelaat is om te ontsnap net om buite die poorte van die gevangenis doodgeskiet te word? Maak dat jy hier wegkom!"
Dit is te begrype dat die tronkbestuurder nie gou weer by die dodesel soek afgelê het nie.
Hierdie poging van die owerheid om my toe te laat om te ontsnap, het my tot nadenke gestem. Waarom moet ek nou juis ontsnap? Is die saak teen my dan werklik so swak dat my teregstelling verreikende reperkussies kan veroorsaak? Ek is skuldig bevind aan die hoogste klag waaraan 'n mens skuldig vind kan word en tog bestaan daar twyfel - en waar daar twyfel is, is daar vrees!
Hoe harder gent. Smuts gepoog het om my as vyand uit te wis, hoe hoër hy by my in aansien gestyg ... "Slim Jannie"!
Intussen het ek die treurmare ontvang oor die dood van my getroue kameraad ... Johannes van der Walt. Daar uit die dodsel het ek my medelye sy familie skriftelik betuig. Of die geskrif deur die sensor gekonfiskeer is, weet ek nie. Ek het nooit weer van een van hulle gehoor nie.
Een middag is ek meegedeel dat my twee advokate my wou spreek. Ek is toegelaat om alleen met hulle in 'n vakante kantoor te praat. My senior advokaat het die elfde boekdeel van die hooggeregshofverslag oor my saak te voorskyn gehaal. Hy het dit oopgeslaan by die plek waar my toespraak verskyn. Hy het my gevra om dit te lees.
"Dit is nie my toespraak hierdie nie!" het ek verbaas uitgeroep. Ek het ‘n potlood gevra en begin korrigeer. Woorde is weggelaat, sinne verdraai, woordgebruik is totaal uit verband geruk - die hele toespraak was in ‘n bredie saamgeroer. Dit was toe reeds nege maande sedert ek ter dood veroordeel is en tog het ek my toespraak nog so deeglik onthou dat ek elke leesteken sonder moeite kon aanstip.
Na 'n kort en kille onderhoud, het ek van die twee regsgeleerdes afskeid geneem en met onheil in my hart na die dodesel teruggestap. Daardie aand het ek met oorgawe Die Dieper Reg van Van Wyk Louw gelees. Eers die volgende oggend het ek weer vir die eerste keer oor my appèlsaak begin dink. Waarom het die advokaat net die boekdeel waarin my toespraak verskyn het, aan my getoon? Het hy geweet dat my toespraak van begin tot einde vervals is? Waarom moes ek dit dan lees? Waarom moes ek een sin onveranderd laat bly? Ek het geweier. Die betrokke sin was vals. Dit moes reggestel word. Waarom? Die vrae het in my opgeborrel. Binne enkele sekondes het ek die antwoord gevind.
"Ek gaan my verdediging in die Appèlhof self waarneem. Roep die bestuurder! Verwittig hom van my besluit," het ek die bewaarder aan diens beveel. Die bestuurder van die tronk het alles moontlik gedoen om my te laat afsien van die "dwase" besluit. Ek het geweier. Die besluit was geneem en daarby sou ek staan of val.
Daar was net een vermiste skakel in die ketting — my toespraak. My moeder is uit Potchefstroom ontbied. Sy het my in die gevangenis besoek, maar weer na Potchefstroom gereis en daardie belangrike geskrif saamgebring. Van agter die draaddeurvlegte ystertralies het ek die geskrif as my toespraak herken. My hart het van blydskap gejuig. Ek het my moeder versoek om die dokument aan die bestuurder te oorhandig. Hy moes hom met die inhoud op hoogte bring. Hy durf dit nie weier nie.
Ek het later begin wonder of my moeder wel aan my versoek voldoen het. "Waar is my toespraak? Wat het daarvan geword?" het dit deur my kop gemaal.
Daar in die gevangenis het ek egter die bestuurder op daardie dag beskuldig van diefstal. Hy sou dan kamma my toespraak op onverklaarbare wyse verloor het. "Wie het jou die reg gegee om 'n offisiele dokument saam met jou rond te piekel?" het ek bars gevra. "Daarvoor is die brandkluis daar," het ek gesê en met my vinger gewys. "Ek gaan my verdediging in die Appèlhof self waarneem. Buig of bars. Galg of vuurpeleton. Ek het klaar besluit en dis finaal!" Ek het omgedraai en uitgestap.
Die volgende dag het die bestuurder my laat haal. Hy wou my dringend spreek. Hy het my verlore toespraak gevind. "Vra jy dan nie om verskoning vir al die lelike aantygings wat jy gister gemaak het nie?" wou hy weet. Hy het altyd sag en slymerig gepraat.
"Nee!" Ek het omgedraai en uitgestap.
Vanaf die moment dat ek my toespraak ontvang het, totdat ek in die Appèlhof verskyn het, was daardie essensiële bewysstuk nooit buite my bereik nie.
Net waar ek gegaan het, het ek die toespraak saamgeneem. Dit was waar om my bestaan of nie-bestaan gewentel het.
Ek moes gehang word! Ek moes sterf. Genl. Smuts was ongenaakbaar en verbiddelik in sy optrede. Dit was tewens ook een van die eienskappe wat van hom 'n groot leier gemaak het. Hy was 'n kunstenaar. Hy het die hele nasie insluitende die Ossewabrandwag — om sy pinkie gedraai. Tog was ek vir hom 'n probleem. Nie soveel ek nie, maar my uitspraak. Na my teregstelling sou my toespraak aan die volk voorgehou word. Dit sou 'n getroue weergawe wees van die korrupte gemors wat ek glo gesê het. Daardie selfde toespraak wat van begin tot einde vervals was en net ek en ek alleen kon en kan dit vandag nog bewys.
Ek was genl. Smuts een stoot voor op die skaakbord. My ouers is toegelaat om 'n persoonlike onderhoud met my te he. Nie agter die tralies en draaddeurvlegte versperring nie, maar in 'n private vertrek. Hierdie toegewing was op sigself teenstrydig met die regulasies. Ek was altyd in die dodesel en nie 'n gewone gevangene nie. My ouers het ernstig my gepraat. My advokate sou my verdediging baie beter kon behartig Baie goedgesinde mense het hulle bekommernis uitgespreek oor my besluit. Ja, selfs wildvreemde persone het my ouers genader. Nie ek nie, maar my advokate moes my saak in die Appèlhof waarneem. Vir die eerste keer lewe het ek my vader gesien huil.
"Tot sover het jy alleen besluit en alleen geveg. Nou staan jy egter rand van die oop graf. Laat dit nou in my hande oor. Ek is tog jou vader,” het die dapper ou bittereinder uit die Tweede Vryheidsoorlog gesnik.
My moeder het aanhoudend gehuil. Sy het sag gepleit: "Robey, Robey ter tog!"
Trane het nog nooit veel indruk op my gemaak nie. Trane is soms so koop, so maklik en so geveins. Dit is dikwels 'n wapen, soms 'n dekmantel maar seer selde eg. Die trane wat 'n moeder egter oor haar kind stort, is skoner en reiner as die helderste doudruppel. Indien dit saamvloei met dié van 'n gedissiplineerde en dapper vader, smelt selfs die gepantserde hart. Maar al smelt die hart, 'n gewigtige besluit moet ongeskonde bly en mag nooit krummel nie.
In my verbeelding het ek die galg gesien, die toue, die laksman, die graf. Ek het myself reggeruk en gesê: "U het my van kleins af geleer om te besluit en self die verantwoordelikheid te dra. Ek het reeds klaar besluit dat ek en niemand anders nie my saak in die Appèlhof gaan behartig." Toe is ek terug na die dodesel.
In die dae daarna het ek my voorberei vir die saak. Die elf boekdele wat oor die Hooggeregshofverslag van my saak handel, is aan my gegee. Ook 'n aantal regsboeke. Ek het hulle glad nie nodig gehad nie, maar hulle tog geneem en gelees. Op die een bladsy is ek onskuldig. Dit word gestaaf deur Rex. vs. X, bladsy so-en-so, ensovoorts. Op die ander bladsy is ek skuldig. Die refrein was dieselfde, net die uitspraak het verskil.
Terwyl ek my algaande geestelik vir die Appèlhof gesterk het, is daar aanhoudend reg onder die dodesel getimmer. Ek het by die bestuurder beswaar aangeteken teen die senutergende lawaai.
Hy het gesê dat dit noodsaaklike werk was wat afgehandel moes word. Dit was glo die tralievenster van die sogenaamde ryswater- of Bombaaiselle wat uit die muur gekap moes word. Wat die eintlike doel was, is nooit aan my meegedeel nie. Ek het egter vermoed dat dit moedswillige uittarting was.
Van soggens vroeg tot laat in die middag het die swaar hamers teen die muur geslaan. Dit het later gevoel asof daar teen my kop gehamer word. In dié tyd het ek baie min geslaap. Kort-kort is ek wakker geruk. Dit het gevoel asof 'n elektriese skok deur my liggaam skiet.
Suid-Afrika se Appèlhof setel in Bloemfontein. Vir my verhoor is dit verskuif na Pretoria. Die berg het nie na Mohammed gegaan nie, maar na 'n doodgewone Afrikanerseun!
Op 6 Desember 1943 is ek na die Appèlhof geneem. Die gedugte voorsorgmaatreëls wat daar gewoonlik getref is vir my veilige bewaring, is hierdie keer totaal verwaarloos. Genl. Smuts het reeds geweet dat ek nie eens daaraan gedink het om te ontsnap nie. Ek het uit die verre Duitsland na die dood gekom. Waarom sou ek nou daarvan wou weghardloop?
In 1943 het die wiel aan die oorlogsfront reeds heelwat gedraai. Nasionaal-Sosialistiese Duitsland was besig om die titaniese stryd te verloor. Die vurige Nazi's van gister was weer in 'n splinternuwe politieke drag gekleed. Ek het geen hulp van geen kant of oord verwag nie. Genade het ek reeds na die warmplek gestuur. Ek het alleen gestaan. Die dood aan die galg het vir my gewink. Ek het hom gesien en met uitgestrekte regterarm gegroet. Ons het in die dodesel versoen geraak. Net soos my vader in die Tweede Vryheidsoorlog, sou ook ek veg tot die bitter einde. Kapituleer sou ek waaragtig nooit! So het ek besluit.
Vervolg...