ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (33)

Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

In die Appèlhof

Op 7 Desember 1943 het die volgende berig in die pers verskyn: Robey Leibrandt Voor Appèlhof. Neem Sy Verdediging Self Waar. Uitspraak word later Gegee.

"Die appèlsaak van Sidney Robey Leibbrandt, Le Roux en Olwagen het voor die Appèlhof in Pretoria begin. Leibbrandt is op 11 Maart op aanklag van hoogverraad ter dood veroordeel, terwyl Le Roux en Olwagen elk tot vyf jaar dwangarbeid gevonnis is.

"Toe die hof gisteroggend begin, was elke beskikbare ruimte beset. Benewens die groot aantal nuuskieriges, was daar ook 'n sterk afdeling van die polisie en speurdiens in die hof aanwesig.

"Leibbrandt het sy eie verdediging waargeneem en dit binne die bestek van 'n anderhalf uur voltooi.

"Leibbrandt het die hof gisteroggend meegedeel dat hy, as 'n man wat meer as agt maande onder die skaduwee van die galg deurgebring het graag sy saak op sy eie wyse wil bepleit.

"Hy het die hof verwys na die sertifikaat van die snelskrywer, waarin gesertifiseer word dat die hofverslag 'n getroue weergawe van die hofverrigtinge is. Hy het voorts sy toespraak aan die hof voorgelees en gewys op ‘n aantal foute in die hof se verslag. Talle woorde is uitgelaat en sommige is verkeerd gerapporteer en verdraai, het hy verklaar. “Dit is eienaardig dat sulke beslissende woorde weggelaat is. Die vervalsing kan bewus of onbewus pleeg gewees het,” het hy gesê.

"Om hierdie redes is die sertifikaat van die snelskrywers nutteloos sodat volgens sy mening, die hele verslag deur die hof verwerp moet word. "Hy het verklaar dat hy nie bereid is om vir die foute wat die snelskrywers gemaak het, te sterf nie. Die hele verslag is geen getroue weergawe van die saak nie, sodat die grondslag van die saak verval.

"Regter Watermeyer het aan Leibbrandt gesê dat hy op 'n paar foute in die verslag gewys het, maar dat hy dink dat dit die beste sou wees as Leibbrandt 'n lys van al die foute opstel en dit dan aan die hof voorlê. Leibbrandt verklaar dat dit onmoontlik is, omdat hy dan op sy geheue moet staatmaak maar die foute wat hy kan aantoon, behoort voldoende te wees om die verslag omver te werp.

"Regter Centlivres: 'Wat stel jy voor?'

"Leibbrandt: “Daar is geen saak teen my nie, omdat die rekord nie juis nie. Sodoende eis ek my ontslag.”

"Regter Watermeyer het hierop verklaar dat, indien daar ernstige foute in die hofverslag was, Leibbrandt se advokate aansoek sou gedoen het om dit herstel te kry. Leibbrandt het daarop geantwoord dat hulle dit nie gedoen het nie, en dit is die rede waarom hy sy advokate ontslaan het en tans sy eie ver­dediging waarneem. Op 'n verdere vraag van die regter of hy niks oor die regspunte, waarop die aansoek van appèl toegestaan is, gaan sê nie, het Leib­brandt geantwoord dat dit hom nie sal baat om daaroor te redeneer nie, omdat hy van die standpunt uitgaan dat die hofverslag vals is en daar dus geen grondslag is om op te redeneer nie.

"Die hoofregter het hierop verklaar dat sekere regspunte deur beskuldigde Leibbrandt gereserveer is. Die hof sal die hofverslag in oënskou neem en dit oorweeg. Uitspraak sal later gegee word.

"Olwagen is in die geleentheid gestel om iets by sy verdediging te voeg. Hy het verklaar dat toe hy die eed van die Nasionaal-Sosialistiese Rebelle afgelê het, hy nie geweet het dat Leibbrandt 'n Duitse soldaat en onderdaan was nie. Die hof het daarop tot Donderdagoggend verdaag."

Ek wil graag voortborduur op hierdie verslag.

Soos die koerant self berig, het my pleidooi 'n anderhalf uur geduur. In daardie tyd het ek natuurlik veel meer gesê as wat in die pers verskyn het. Ek het onder andere die regters daarop gewys hoe futiel dit is om op 'n valse grondslag regsargumente te bou. Om hierdie beredenering te staaf, het ek voorts gesê:

"Laat ons argumentsonthalwe aanneem dat 'n getuie soos volg getuig het: `Leibbrandt said that he was not guilty of High Treason.' Die heel onskuldige woordjie not word egter deur die snelskrywers per abuis of moedswillig weg­gelaat. Die logiese konsekwensie is dat selfs die knapste regsgeleerde ter wêreld nie daardie woordjie not in die onderhawige sin kan inredeneer of in­lieg nie."

Nadat ek my pleidooi klaar gelewer het, het ek 'n konstabel om water gevra. Ek het gesien hoedat sekere verslaggewers uit die persbank vir die konstabel knik en beduie. Die konstabel het gegiggel en soos 'n klein seuntjie wat plot­seling 'n nuwe speelding ontdek het, die glas tot bo aan sy rand gevul. Ek het die glas water geneem, dit 'n wyle stil gehou en terwyl ek dit na my lippe bring na die verslaggewers gekyk. "Moenie dink ek sal een druppel stort nie," het ek gesê.

Net nadat die advokate vir die staat hulle pleidooi beëindig het, het ek opge­staan en my tot die regbank gerig.

"Edelagbare here! Daar word deur die staat so gedweep met die woord daad wat in my pamflette en omsendbriewe voorkom. Nou wil ek graag aan die geleerde advokate vra om daardie woord vir my te definieer."

Toe ek merk dat geeneen wou reageer nie, het ek self 'n definisie geskep.

“Daad, is die handelende openbaring van gevoelens, gedagtes en gewaarwordinge." Ek het 'n paar sekondes stilgebly en na die regters ge­kyk. Hulle het geknik. Ek het verder gepraat. "Waarmee die staat hier besig is, is wandaad, wat nêrens in my geskrifte voorkom nie."

Alles wat ek in die hof gesê het, is op rekord. Indien enigeen wat hom die moeite wil troos om dit na te slaan, sal hy hom daarvan kan vergewis dat my geheue my geen parte speel nie."

Die grootste drama het egter nie in die Appèlhof nie, maar wel agter die skerms afgespeel.

Kapt. Richter, die bekende lyfwag van genl. Smuts, het my in die die hofgebou besoek. Hy was vergesel van Lucas Strachan. Kapt. Richter se sakke was gevul met allerlei vrugtesoorte. Teenstrydig met die tronkregulasies het hy dit vryelik aan my uitgedeel. Sy vrugte het my egter nie 'n rat voor die oë gedraai nie. Ek het noukeurig gelet op die onskuldige en alledaagse gesprekkies wat hy met my aangeknoop het. Iewers moes die stokkie met voëlent versteek wees. Eers die tweede dag het by sy wip gestel. Soos straal uit die bloute het die vraag gekom.

"Robey, miskien moet jy nou aan die galg gaan sterf, sonder dat jy jou doel bereik het," het hy gesê.

"Nee, my doel het ek nie bereik nie," het ek beaam.

"Waarom het jy nie liewer vir Jan Smuts doodgeskiet nie?" wou hy weet.

Ek het gemerk dat hy geen genot uit hierdie vraag put nie. Van Strachan het 'n snaakse laggie gekom.

"Waarom skiet jy hom nie? Jy is mos heeldag saam met hom," het ek gevra. Kapt. Richter het nie veel meer gepraat nie.

Nadat die twee my sel verlaat het, het ek gedink aan die vraag wat ek die dag aan mnr. JA. Smith, die Assistent-Kommandant-generaal van die OB van Kaapland, gevra het. Dat hy dit self aan genl. Smuts oorgedra het, glo ek nie. Dr. Hans van Rensburg het, luidens Johannes van der Walt se sterfbedverklaring, egter wyd en syd verkondig dat ek na Suid-Afrika gekom het om genl. Smuts dood te skiet.

Aan die vrae en houding van regter Centlivres kon ek duidelik hoor dat die Appèlbeslissing ongunstig sou wees. Die doodvonnis sou bekragtig word. Op banale en onbeskofte wyse is dit deur 'n bewaarder aan my oorgedra en ek het al harder geoefen om my liggaam sterk en gespierd te maak.

Hoewel ek talle briewe en brosjures van verskillende geloofsgenootskappe ontvang het, het ek my nie verwerdig om op 'n enkele een te antwoord nie. Ek het ook geweier om toe te laat dat enige geestelike, van watter kerkverband ookal, my in die dodesel besoek. Ek wou ongesteurd glo in my God. Nie die God van genade nie, maar die God van krag en liefde.

Ek het my willens en wetens in die gapende kakebene van die dood gewerp. Waarom sou ek nou om genade pleit? Sou dit nie verregaande huigelary wees nie? Deur my eie toedoen het ek in die dodesel beland. Nou moet God my skielik weer uit die penarie verlos. Nee, God is niemand se speelmaat nie.

Hiervan durf nie afgelei word dat ek die kerk verwerp nie. Inteendeel. Enige volk sonder 'n allesomvattende geloof, is 'n volk sonder morele en/of sedelike anker en gedoem om in die wilsand van selfvernietiging te verdwyn.


Vervolg...