ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (36)

Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

My verblyf op Baviaanspoort


As ek 'n digter was, sou ek Baviaanspoort in liriese taal beskrywe het. Dit was dit soos 'n droom wat werklikheid geword het. Op wonderbaarlike wyse het God my deur die smeltkroes gelei. Nie dat ek dit verdien het nie, maar omrede God alleen diegene help wat bereid is om hulleself te help. Groot was hy wat eenkeer gesê het: "Alleen wie veg om sy reg, het die reg om te lewe want op hierdie aardbol is daar geen plek vir lafaards nie."

Die skepper van hierdie wysgerige slagkreet is ongelukkig nie meer daar nie. Hy het op raaiselagtige wyse verdwyn. Hy is dood. Sy naam sal egter lewe totdat hierdie planeet weer soos eens sonder mense deur die eter sweef. Die Kommunistiese vloedwaters rol onheilspellend nader. Traag, misdadig traag, kom die Weste tot besinning... Groot, onmiskenbaar groot, sal sy eendag weer aan die Westerse uitspansel verskyn ... Adolf Hitler!


Ek was teenwoordig die aand in die Sportpalast in Berlyn toe Adolf Hitler o.a. gesê het: "Indien hierdie oorlog verloor word, sal ek as Führer sy einde nie sien nie." Dit was vir my genoeg. Ek weet hy het sy einde nie gesien nie. Niemand op hierdie ondermaanse besit die reg om hom met Adolf Hitler te vergelyk nie. Minste van almal ek. Ek het egter op 12 Junie 1947 gesê: “Indien ek nie saam met die ander na Baviaanspoort gestuur word nie, sal ek nie eet nie. Ek sal op hongerstaking gaan." Ek het my woord gestand gedoen. Ek was later sterwende. Ek was bereid om te sterwe, want 'n man se woord is sy eer. As ek as nietige wese dit kan doen, kan 'n reus soos Adolf Hitler dit duisendmaal beter doen.

Die Minister van Justisie het geweet dat ek nooit sou poog om uit Baviaanspoort te ontsnap nie. Hy het geen rede gehad om die teenoorgestelde te glo nie. Tog was hulle bevrees. Die vrees was gegrond op die moontlikheid dat ek weens my onblusbare wrokgevoelens jeens die gevangenisowerhede in opstand kon kom. Ek kon moontlik die verpleegdes - die nuutgevonde benaming vir die strafdraers in Baviaanspoort - opsweep teen die bewaarders. Ek is as 'n roekelose agitator beskou.

My antwoord op hierdie onuitgesproke vermoede was duidelik: "Wanneer enigiemand voornemens is om 'n gemeenskaplike daad te pleeg, moet hy noodsaaklikerwys eers bewus wees van die soort mensemateriaal tot sy beskikking. Hy moet deeglike kennis dra van die gees waarmee sy strydmakkers besiel is. Hy moet 'n noukeurige analise van hulle verlede maak. Dit moet manne wees wie se karakters reeds in die smeltkroes gelouter en gestaal is.”

Daar in die muurlose tronk was ek egter saam met persone van alle aard en stempel. Om nou sommer uit die bloute 'n aggregaat van twyfelagtige karakter saam te snoer tot 'n soliede homogene geheel, verg tyd, vertroue en bowenal optimistiese wensdenkery. Vir so 'n dwase onderneming was ek nie te vinde nie. Na aanleiding van my ervaring en ondervindinge in die oor­logsjare het ek die Suid-Afrikaanse volk leer ken soos alleen genl. Smuts hom geken het. En hy was 'n meester op daardie gebied.

In Baviaanspoort was ek in 'n groot vertrek gehuisves. Hoewel daar nog ruimte vir minstens tien beddens was, het ek niemand daar toegelaat nie. Kort na my aankoms in die kamp het ek dit so bewerkstellig dat ek verkies is tot voorsitter van die sportkomitee. Ek was in bevel van alle sportbedrywighede. Ek het geen ander werk verrig nie. Ek het my besig gehou met die organisasie van boks- en ring-tennistoernooie, voetbalwedstryde, atletiekbyeenkomste, juk­skeiwedstryde, en so meer.

Ek het my veral toegelê op die handhawing van dissipline op die sportvelde. Die bakleiery het ek die eerste dag stopgesit. Ek het nooit enige persoon weens wangedrag op die sportveld by die bestuurder aangekla nie. Ek het hom self gestraf. Ek het 'n vry en ongebonde lewe gelei. Daar was nooit 'n wag saam met my nie. Eenkeer het ek per ongeluk laat in die kamp aange­kom. Die nuwe hoofbewaarder aan diens het my streng aangespreek. "Waar was jy?" wou hy weet.

"As jy my vra waar ek was, dan wantrou jy my. As jy my wantrou, moet jy my oppas. Ek sal in die vervolg nie meer my voet by die kamp uitsit sonder 'n wag nie. Onthou net, ek is nie 'n hoender wat jy hier agter die draad kan hou nie."

Kort na die etenspouse is ek na die bestuurder se kantoor ontbied. Ek het hom vertel wat gebeur het. Hy het my simpatiek aangehoor en gesê: "Probeer om in die vervolg altyd betyds in die kamp te wees, Leibbrandt."

Toe ek hom vra of hy nie miskien vir my 'n horlosie het nie, het hy uitgebars van die lag. Dit is nodeloos om te meld dat ek nie weer laat by die kamp aan­gekom het nie.

Op inisiatief van die politieke gevangenes in Baviaanspoort is 'n maandblad getitel Bogom in die lewe beroep. Ek was sport-redakteur. Ek het onder die naam Olimpus geskrywe. Dr. Erik Holm, H.S. van Blerk, Julian Visser en Giel Pienaar het almal interessante bydraes gelewer.

Ons het spesiale dae afgesonder wanneer alleen na klassieke musiek ge­luister is. By sulke tye het ek gesorg dat daar 'n doodse stilte in die saal heers. Een Sondagmiddag was ek genoodsaak om 'n sekere persoon aan sy nek by die saal uit te gooi. Hy het by die bestuurder gaan kla oor my hardhandige optrede. Die onverwagte het gebeur. Nie ek nie, maar hy het die skrobbering gekry.

Enige meningsverskil onder die gevangenes het ek met die bokshandskoene laat oplos. Daar was geen puntebeslissing en ook geen rondtes nie. Hulle moes veg tot die bitter einde. Wie daar nie wou luister nie, is deeglik opgefoeter. Die bestuurder het my vrye teuels gegee. Een ding is seker: die inwoners van Baviaanspoort het dissipline leer ken.

Reikhalsend het ons die uitslag van die algemene verkiesing afgewag. Toe die finale uitslag van 26 Mei 1948 bekend gemaak is, het daar groot opgewondenheid in die kamp geheers.

Ek het soos volg geredeneer:

  1. Die Regering wat my skuldig bevind en veroordeel het, het met die verkiesing weggeval en daarmee ook die aanklag sowel as die vonnis.
  2. Geen kriminele aanklag van watter aard ook al is tydens my verhoor teen my ingebring nie. Ek was derhalwe bloot 'n politieke gevangene en vrystelling van politieke gevangenes is die simbool van oorwinning.
  3. Die Nasionale Regering is veronderstel om die verteenwoordigers van die Afrikanervolk te wees. Daar ek, volgens die immanente wette van die Nasionaal-Sosialistiese idee, net in diens van die Afrikanervolk gestry en gely het, besit die verteenwoordigers van daardie volk hoegenaamd geen reg om my in gevangeneskap te hou nie.

Die oggend van ons vrylating was daar groot opgewondenheid in die muurlse tronk op Baviaanspoort. 'n Groot getal mense van heinde en ver het buite die draadomheining op ons gewag.

Met 'n hele stoet motors is die politieke gevangenes na Pretoria vergesel waar talle verslaggewers en fotograwe ons stormgeloop het.

Met my vrystelling uit gevangeneskap het 'n storm losgebars. Reuse-protes vergaderings het oral in die land plaasgevind. Plakkate het daagliks in strate verskyn. Die pers het ruimskoots bygedra om die vlam hoog te blaas. Daar het 'n interessante tweegeveg tussen die partypolitieke koerante plaasgevind. Wat die een geskryf het, het die ander een negeer of weerlê met feite of halwe waarhede. Briewe van lesers was legio. Die name van lede van die O.B. wat kort voor die verkiesing deur genl. Smuts vrygelaat is, is volledig met oortreding, vonnis en datum van ontslag aangehaal. Die mondstukke van Nasionale Regering het hou vir hou teruggeslaan. Ek het talle naamlose dreigbriewe ontvang. Die een wou my doodskiet, die ander wou my ophang. Hoe weinig ek my hieraan gesteur het, word duidelik weerspieël deur 'n berig in die pers. Onderaan my foto het die volgende verskyn:

"Ewe Rustig Onder Sy Vriende ..." Die man oor wie daar 'n vlaag van op wondenheid in Suid-Afrikaanse politieke kringe ontstaan het, en oor wie daar heel moontlik binnekort in die buitelandse pers gekorswil sal word, kan hier op die foto gesien word, onderwyl hy onbekommerd is oor wat daar oor hom gesê word, in die hoofstraat van Potchefstroom waar hy met vriende gesels. Hy is Robey Leibbrandt.

"Oënskynlik argloos oor die politieke veldbrand wat as gevolg van sy loslating ontstaan het, beweeg Leibbrandt hom nou nonchalant deur die strate , die ou Transvaalse hoofstad, en gesels hy op kalme wyse met ou vriende, kennisse en nuuskieriges."

Ongelukkig het die Opposisiepers adv. C.R. Swart in sy hoedanigheid as Minister van Justisie gebruik as skyf vir die mees diaboliese aanvalle denk­baar. Hierdie Vrystaatse seun het toe reeds 'n tere plekkie in die hart van die Afrikanervolk verower en niks kon dit wegneem nie.

Alle aandag was gevestig op die Parlementsitting wat vroeg in September 1948 'n aanvang sou neem. Op 10 September het 'n berig in 'n koerant ver­skyn onder die opskrif: Veldmaarskalk Smuts Oor Robey Leibbrandt.

Die ou gryse strydros het onder andere gesê: "Ons handel hier met 'n deel van 'n tragedie uit die verlede."

Hy het verder vertel hoe hy in sy jong dae aanvoerder in die Tweede Vry­heidsoorlog was. Daar was 'n jong heliografis genaamd Leibbrandt in sy af­deling.

"Op 'n keer het hy Leibbrandt met drie ander manne gestuur om die bewe­gings van die vyand dop te hou. Die vier manne het na hulle poste gegaan en hy het die hele dag lank geen verslag gekry van òf hulle bewegings òf van dié van die vyand nie. Laat daardie nag het Leibbrandt en sy drie maats egter teruggekeer met tien Engelse gevangenes. Op die plek waar hulle gestasioneer was, het hulle 'n vyandelike patrollie teengekom. Hulle het vier gedood en tien gevang.

Daardie Leibbrandt was die vader van Robey Leibbrandt. "Hy was een van die dapperste manne wat ek op die slagveld leer ken het," het genl. Smuts gesê.

"Hy het spreker kom sien in verband met die vrylating van sy seun. Hy was vergesel van sy vrou. Dit was kort voor die verkiesing. Spreker het gedink dat dit moontlik kan wees om Robey die een of ander tyd los te laat, maar hy het toe gedink dat dit te gou was.

"Die enigste fout wat hy met die Minister te vinde het, is dat hy haastig en voorbarig opgetree het in 'n saak wat in alle geval in 'n later stadium vir hersiening na vore sou gekom het."

Hierdie toespraak van genl. Smuts het die wind uit die seile van die Oppo­sisie geneem. Daar was geen verdere betogings teen my vrylating nie.

Met trots dink ek vandag terug aan die steil, opdraande stryd wat ek moes voer sedert my vrylating uit gevangeneskap in Junie 1948. Niemand wou of kon my help nie. My naam was 'n verskrikking vir almal. Hoewel my kwalifi­kasies as liggaamsopvoedingsinstrukteur gunstig vergelyk kan word met dié van enige persoon in Suid-Afrika, kon ek nooit 'n pos bekom nie. Nie eens die Nasionale Regering het sy weg oopgesien om hom oor my te ontferm nie. Ek kon net sowel gesterf het van ellende. Geen haan sou daarna gekraai het nie. Met behulp van manne soos P.R. Potgieter van Brits, Willem Minnaar van Upington, Henk van Cittert, Bokkie Bergh en andere het ek langsamerhand finansiële stabiliteit bereik. My grootste lof en dank gaan egter aan die Namakwalanders en by name die publiek van Springbok en omliggende dorpe.

As gevolg van die gulle ondersteuning van blank en nie-blank het ek my onderneming vanaf die grond opgebou.

Wanneer my hele stormagtige verlede saamgevat en ontleed word, is dit onmiskenbaar duidelik dat God 'n doel met my het.

Ek staan vandag in diens van elke reggeaarde blanke persoon in Suid-Afrika ongeag nasionaliteit, politieke oortuiging, godsdienstige verband of huistaal. Ek staan in diens van blank Suid-Afrika!

Groot, onmiskenbaar groot, staan die geskiedkundige datum, 3 September 1939, aan die hemeltrans geskrywe. Soms het die skrif geflikker en verblindend gevonkel. Soms het dit verdof en vreesbevange getaan. Dikwels was dit gedrapeer met die helderste kleure. Dikwels was dit omsoom met die grouste lanfer. Die hele wêreld het by tye gejubel en gedans. Dan het hy weer gesidder, getreur en gerou. Miljoene der miljoene was in die patroon van die grootste wapenstryd van alle tye ingeweef... Die Tweede Wêreldoorlog! Een nietige stukkie lood, gegiet in 'n koeël, het 'n kosbare lewe tot stof vernietig. Een enkele bomontploffmg het tientalle lewens geëis. Wie nie gesneuwel het nie, is onherstelbaar vermink. Wie nie begrawe is nie, is deur voëls en diere verteer.

Honderdduisende praggeboue, wonings, kerke en fabrieke is in puin gelê. Menige sieraad van die moderne en Gotiese argitektuur is met die aarde gelyk gemaak. Was dit maar net die gewelddadige aftakeling van beton, sand, stene en klip, dan was dit nietig en klein. Wat hulle egter bedek en verskuil het, was goddeloos wreed.

Dit was die skrikwekkende gehuil van talle sirenes. Dit was 'n sarsie barstende bomme. Die geskreeu van remme op teerstrate. Soekende as lanse en brandweermotors in die verdonkerde stad. Tussen al die gewoel en geskarrel het dit heilig, dog hartverskeurend wreed gekom — die geluide. Daar was die krete om hulp en die geprewel om genade. Daar was die hartroerende geween van moeders en kinders. Die smeekstemmetjie van ‘n suigeling, het die donkernag deurklief: "Mamma! Mamma!" Die pyn knellend en intens. Die dood het sonder hulp nadergekruip .. .

Wie is ek om van die dood vryskelding te geniet? Wie is ek om te lewe terwyl ander moes sterwe? Ja, wie is ek? My antwoord is duidelik: Ek is niks! Ooreenkomstig my politieke geloof kry die mens alleen waarde binne die raamwerk van sy volk as geheel. En sy volk is daardie volk waaruit en waarin hy gebore is. Verhoogde status word uitsluitend aan diegene verleen wat in diens van daardie volk stry, ly en sterwe. Sien hierin die dryfveer van koms na my vaderland in 1941.

In onomwonde taal verklaar ek voor my volk en voor my God dat ek geen saboteur en geen spioen was nie. Ek daag die wêreld uit om die teenoorgestelde te bewys. Ek het gekom om 'n DAAD, ongekend in die annale van ons geskiedenis, te pleeg. Ek het gekom om te sterwe.

Vervolg...