Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Slegs die wysste van mense ken hierdie geheim – en hulle is gewoonlik nie ryk aan materiële dinge nie: As jy gelukkig wil wees, geniet dit wat jy reeds besit, hoe min ook al.
VERDELINGSLYNE IN AFRIKANERLAND (1)
TAFELGESPREK
Die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis (Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. )
Vanaf die sestigerjare het die liberale media graag die spot gedryf met kongresse waar Afrikaneridentiteit of die toekoms van die Afrikanervolk ter sprake was. Vandag vind daar nie meer sulke kongresse plaas nie, behalwe by hoë uitsondering; en daar is byna geen mediadekking daarvoor nie. Dit is byna of mens stemme in een koor hoor sê: Wie stel belang in die toekoms van die Afrikanervolk? Sulke gesprekke gebeur tog wel in kleinerige groepies waar die teenwoordigers hulself swak voel, en nie regtig weet watter vrae om aan die orde te stel nie. Kundigheid om sulke besprekings te lei ontbreek gewoonlik, en die afwesigheidskoers van “belanghebbendes” of “rolspelers” is boonop besonder hoog. Dit is alles die gevolg van die afbreek van ons volksgevoel sedert die 1960’s, en veral weens die vernietiging van Afrikanernasionalisme. Die woord Afrikanernasionalisme is dan ook byna heeltemal uit ons woordeskat uitgeskryf. In hierdie bespreking wat as ’n verkennende gesprek beskou moet word, kyk ons na die breë toneel van ons volkslewe; en ons vra: Waar staan Afrikaners vandag in die politieke- en kulturele stryd?
Een manier om die saak te hanteer is om na die posisie van elke Afrikanerbemande organisasie te kyk en hulle standpunte met mekaar te vergelyk. Dit is ’n benadering wat dikwels uitslaan in ons sosiale media en net soms in die openbare, hoofstroom-media. Ongelukkig loop dit gewoonlik op sterk vyandskappe uit, en kom daar nie goeie vrugte van nie. Dit is geen geheim nie dat ons in Afrikanergeledere geweldig verdeeld is en verkieslik as partye, bewegings en faksies optree. Die verdwying van ’n gemeenskaplike basis in ons volkslewe staan uit soos ’n seer duim.
Keuse vir idees en beginsels
Om die debat oor die Afrikanervolk op meer sinvolle spore te plaas, is dit nodig om eerder na idees en beginsels te kyk. Wat verdeel ons en hoe is ons verdeeld op grond van bepaalde idees, op grond van basiese benaderings en beginsels? Daarvolgens kan ons die verdelingslyne in ”Afrikanerland” makliker uitken. Dit wil nog lank nie sê dat dit eenvoudig is nie, want oor bepaalde sake voel ons eenders, en oor ander sake is ons tot die dood toe verdeeld. Nogtans lê die pad gemakliker wanneer dit uitloop op ’n gewone tafelgesprek, een waarby die media nie regtig betrek hoef te word nie ̶ want dit is wesenlik ’n gesprek na binne, een wat binne volksgeledere uitgemaak moet word.
Om die gesprek te open, kan ons kyk na drie hoofstrome in Afrikanergeledere. Die een stroom is die groot getal Afrikaners wat afvallig geraak het, mense wat hulle nie meer bemoei met Afrikanersake of die volk se politieke belange nie. Van hulle verhuis oorsee; ander bly in die RSA, maar raak onverskillig teenoor Afrikanerskap; sommiges verengels baie vinnig. Hierdie stroom steur hulle eenvoudig net nie meer aan hul afkoms en volksverband nie, al praat die meeste nog Afrikaans. Ons kan dit daar laat en breedweg na twee oorblywende groepe kyk. Om aan die twee oorblywende groepe name te gee is nie so maklik nie; maar ons stel die volgende voor ter wille van hierdie bespreking:
Die eerste groep: Afrikaners met ’n moderne, staatlik-grondwetlike perspektief.
Die tweede groep: Afrikaners met ’n histories-gebonde, volksgerigte perspektief.
Hierdie indeling is gebaseer op ’n samevoeging van uitgangspunte, beginsels, politieke handelinge, uitsprake en idees. Die verdelingslyne tussen die twee groepe is soms baie opvallend en duidelik; maar by geleentheid kan dit ook vaag wees. Die verdeling kan egter in die praktyk getoets word, en die bevinding is (algemeen gesproke) dat dit ’n geldige, selfs noodlottige, verdelingslyn daarstel, ’n soort verdeling wat onoorbrugbaar in die huidige konteks van die nuwe Suid- Afrika voorkom. Dié verdeling is trouens gebore uit die traumatiese gebeure in ons land oor die afgelope drie dekades, toe groepe Afrikaners in bitter vyandigheid teenoor mekaar te staan gekom het. Die politieke omwenteling van 1990-1994 het Afrikaners in verskillende groepe na die een of die ander kant gegooi.
Ons kyk volgende keer na die 1e groep wat vandag (in getalle gereken) die sterkste lyk.