Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe dikwels loop mense en spog met hulle eie prestasies terwyl dit alles leuens is wat hulle opdis om aandag te kry. Mense wat werklik presteer verkondig dit gewoonlik nie aan die hele wêreld nie. Laat ons dan nederig word voor God want Hy weet altyd wat ons doen en sê, en of dit die waarheid is of grootpraat.
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (6)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Jona en Bella is angsbevange. Die mense het nog nie een van hulle fisiese leed aangedoen nie, maar die feit dat hulle vasgebind, soms geblinddoek en gemuilband word, is amper te veel vir die twee kleintjies. Jona bly so na as moontlik by Bella, en probeer haar met sy teenwoordigheid gerusstel. Wanneer die toue afgehaal word, hou hy haar vas. As hulle kan praat dan gesels hy saggies met haar en probeer haar gerusstel.
Selfs as hulle vasgebind word, draai hy so dat hy ten minste met sy een hand aan haar kan vat. Dit hou ook sy gedagtes besig om vir sy sussie te troos en dit maak dat Jona nie so baie aan sy eie veiligheid dink nie.
Wanneer een van die manne naby haar kom, maak sy kerm-geluidjies en probeer om haar lyfie so ver moontlik van hom af weg te trek. Hulle is albei te jonk om van seksuele uitbuiting te weet of van die huidige handel in mense, maar daar is ‘n instinktiewe wete dat hulle net veilig gaan wees solank die reis gaan aanhou.
Jona bid stilletjies en soms prewel hy die Onse Vader hardop. Die manne lag dan uitjouend. Aanvanklik wou Bella nie eet nie, al het hulle haar losgemaak. Sy het agter Jona in die hoek van die sitplek probeer inkruip. Later het sy wel begin eet, nadat hulle haar gedreig het met ‘n geforseerde voeding.
Jona het stadigaan sy vrees omskep in haat en as een van die manne vir hom kyk, is daar vloeke in sy oë. Hulle maak asof dit snaaks is, maar daar kom ‘n onrustigheid by sommige van hulle op.
Daar is foto’s van die twee geneem. Aanvanklik hoe hulle lyk, en later het een van hulle vir Bella vasgehou, terwyl ‘n ander een haar krulle uitborsel. Vanoggend het hulle haar klere uitgetrek en kaal foto’s van haar geneem. Sy was buite haarself van histerie en Jona het met sy bande geveg totdat die bloed van sy polse afloop. Hulle het vir haar skoon klere gekoop by ‘n klein klerewinkeltjie buite Maputo. Selfs nadat hulle haar aangetrek het, het sy gegil totdat sy flou geraak het. Hierna het hulle die twee kindertjies uitgelos.
*
Met alle opsies uitgeput om die hawe-gebied ongesiens binne te gaan, besluit Basjan op ‘n toaal arrogante benadering. Hy ry met die Gelandewagen tot by die doeane en blaas die toeter, terwyl hy ligte flits. Wanneer daar nie onmiddellik reaksie is nie, blaas hy die toeter lank en aanhoudend.
‘n Wag met ‘n doeane-uniform aan, kom uitgehardloop, kyk na die drie miljoen Rand kar en maak die valboom en die hek oop. Hy salueer verskrik. Basjan grinnik agter die donker getinte ruite en dink: “Probeer dit nou met jou 2003 Nissan Almera!”
Hy ry stadig, maar met doelgerigtheid na die deel van die dokke die naaste aan die vernouing tussen die baai en die rivier. Hier bly hy totdat hy seker is niemand kom agter hom aan nie. Hy wag en maak geheuenotas van die hele uitleg van die gebied. Hy memoriseer so ver moontlik al die wegkruipplekke, die skuilings, koeëlbestande barrikades en plekke waar ‘n mens oor kan struikel.
Sodra dit donker is, sluip hy uit, nou met donker langbroek en baadjie aan. Hy soek tussen die vraghouers vir enige teken dat daar mense binnekant kan wees. Hy klop hier en daar aan een en luister vir antwoord, maar uiteindelik gee hy moed op.
Hy gaan haal vir Oubaas en herhaal die soektog, met die hoop dat die hond die kinders kan ruik en vir hom wys waar hulle kan wees. Uiteindelik, na ure se soekery, is hy redelik seker dat daar nie lewe binne die houers is nie. Die twee keer terug na die kar toe en hy gee vir Oubaas iets om te eet. Self eet hy net omdat hy moet; sy maag is op ‘n knop van pure angstigheid getrek. Skielik het die soeke na die kinders vir hom lewensbelangrik geword, vir hulle, sowel as sy eie lewe.
Basjan besef dat hy ‘n kruispad bereik het. Hy sou dit nie ‘n epifanie of ‘n geestelike verheldering noem nie, maar instinktief weet hy dat hy ‘n soort Rubicon oorgesteek het toe hy stilgehou het langs die mense met die hond in hulle arms. Hy soek nie in sy diepste vir ‘n rede hiervoor nie; hy is nie in ‘n sielestryd nie. Hy het nog nie ‘n oog op hierdie kinders geslaan nie en tog…
Die dag gaan stadig verby. Teen laatmiddag sien hy deur die verkyker die Nirvana anker lig en na ‘n paar sekondes is daar ‘n effense borreling by haar agterstewe. ‘n Lae snor wit skuim vorm aan haar boeg en amper ongesmerk begin sy spoed optel. Nie baie nie, net genoeg om stuursnelheid te gee.
Stadig vaar die Nirvana die hawe binne. Dit seil baie stadig, maar doelgerig. As hulle verby Basjan se Gelandewagen vaar, blaas die skeepshoring vir hom. Na ‘n ruk meer dit vas, sowat twee honderd meter van hom af, teen die kaai. Hy ry ook daarheen, met die vensters toe, sodat niemand onraad merk nie.
Hy het geen plan nie. ‘n Halfuur gaan verby en die hawe-owerheid stop met ‘n dubbelkajuitbakkie langs die vaartuig. Dis duidelik dat hulle maar ‘n kursoriese inspeksie hou, want die kort rukkie wat hulle aan boord is, maak dit onmoontlik om die ding behoorlik te deursoek. Basjan sien nou, van naby af, dat die boot nie meer as dertig meter lank kan wees nie. Maar dis wit en duidelik baie, baie luuks en net so duur. Dit moet aan een of ander Arabiese sheik of iets dergliks behoort. Hy sien dan ook die vlag aan die agterstewe die kleure van Saoedi-Arabië of daar iewers verteenwoordig.
‘n Man verskyn op die voorste dek. Hy het ‘n wit uniform aan en hou ‘n verkyker teen sy oë. Na ‘n paar minute verskyn ‘n baie vet man langs hom. Hy is bebaard en dra ‘n spierwit sy-agtige djellaba, anders as die uniform. Hy het pikswart hare en ‘n krom vergulde dolk is in die goudkleurige band om sy middel. Hy wink met sy regterhand dat Basjan nader moet kom.
Nog steeds sonder plan, flits hy net die hoofligte in erkenning aan hulle. Wat staan hom te doen? Hy haal die MP5 sub-masjiengeweer van onder die sitplek uit en skroef die knaldemper op. Met die lang dubbelloop Rigby op sy skoot en die CZ aan sy sy en die lang jagmes aan die ander, wag hy. Dan ruil hy wapens om. Hy hang die MP5 aan sy skouer, met die lang wapen teen sy bors en die pistool in die hand, wag hy.
Uiteindelik sien hy skuins agter hom, in die tru-spieëltjie die Volkswagen Mikrobussie aangejaag kom. Dit ry eers ‘n draai en gaan staan dan dertig meter van die boot se vasmeerplek stil. Die vier manne en twee kinders klim uit. Jona word vorentoe gestamp-stamp, maar Bella skop en krap en skreeu so, dat die man by haar haar moet optel, haar mond toedruk en haar na die boot toe dra.
Basjan draai die kar dat die voorkant na die groepie wys en skakel die hoofligte aan.