Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Martin Luther het tereg gesê dat ons pyn en lyding nie die naam lyding werd is nie. Hy skaam hom om sy lyding enigsins met die lyding van Jesus te vergelyk!
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (6)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
‘n Onnatuurlike gevoel van rus, vrede en veiligheid het die afgelope tyd oor hulle gekom. Natuurlik het hulle konflik sover moontlik vermy en die paar mense wat hulle in die verte gesien het, het vinniger weggehardloop as wat Paul en sy mense nader gekom het. Dis hartseer as elke beweging potensiële gevaar inhou en Hannie ervaar dit so.
Nie een van hulle groep beweeg verder as tien meter van die voertuie af nie en geen kind ‘n treë as ‘n grootmens nie saamloop nie. Hulle het ook geleer dat hulle nie langer as twee dae op dieselfde plek moet bly nie en as dit nie was dat doodsgevaar om elke hoek en draai geneig het nie, sou die hele rit ‘n groot avontuur kon wees, met natuurskoon en wildlewe wat lyk asof dit uit die bosse gekruip het, waar dit die afgelope jare geskuil het. Die mak vee, soos beeste, skape en selfs perde bly op ‘n afstand en veral die Afrikaner- en Brahmaanbeeste word wild.
Alhoewel die afstand wat hulle ry relatief kort is, is baie daarvan in vierwieldryf en somtyds in laestrek. Die paar tweewieldryf voertuie moet ook soms deur die ander gesleep word, totdat die terrein makker word. Dit alles beteken dat die voertuie, veral dié met groot enjins soos die Land Cruiser, se brandstof gevaarlik min word. Op sy beurt hou dit in dat hulle nader aan die beskawing moet kom.
“Ek weet van ‘n klein plekkie. Ek was baie lanklaas daar, maar as ek moet skat, is dit nie baie ver vanwaar ons nou is nie. Dis nie veel meer as ‘n kroeg, ‘n Lutherse kerkie, ‘n algemene handelaar wat as ‘n tak van die koöperasie dien nie, ‘n kliniek en miskien een of twee ander geboue en natuurlik die woonhuise, wat sekerlik nie meer as tien in totaal is nie.”
“Dit klink nie asof ons iets daar sal kan kry nie, Stiaan. My kar is net bokant die leeg-merkie. Dit beteken ek kan maksimum, as ons padlangs ry, so vyftig kilometer gaan. Veldlangs – miskien twintig, ek weet nie. Ek is seker die ander karre het nie veel meer as dit oor nie. As ons nie by die plek regkom nie – wat is nie naam terloops?”
“Jakobsput.”
“As ons nie by Jakobsput regkom nie, is ons soort-van gestrand. Moet ons nie eerder mik vir iets groter nie, soos Dundee of Utrecht?”
“Ek kan jou waarborg dis verder as Jakobsput.”
“Vryheid? Ek weet dis ‘n groot dorp, maar die kanse dat ons daar gaan regkom is dalk beter.”
“Paul, asseblief, vertrou my. Ek het ‘n goeie gevoel oor die plekkie.”
Hy loop na sy Lexus om te gaan kyk hoeveel brandstof oor is. As hy terugkom, staan hy met sy vrou en praat.
“Hoe voel julle ander?”
Die meeste van die mense is onseker, maar Hannie stem saam met Stiaan.
“Ek en my pa was al daar. Dis ‘n klein plekkie, dis waar, maar juis daarom sal die meeste mense wat iets soek om te eet of brand daar wegbly. Dis heeltemal uit die algemene koers en ‘n mens moet ‘n draai ry – of loop – om daar te kom. Ek dink Stiaan is dalk net reg.”
“Weet jy hoe om daar te kom, hiervandaan?”
Hannie loop na Stiaan en sy vrou toe, staan ‘n paar minute en gesels, beduie met haar hande, skud eemaal haar kop en kom dan terug geloop.
“Ons stem saam oor die algemene rigting, maar dis dalk verder as wat Stiaan dink. Ons moet ‘n draai om daardie berg ry.” Sy wys na ‘n redelike spitskop aan die Noord-Ooste. “En dan kry ons die aansluitingspad na Jakobsput. Dis seker so tagtig kilometer. Stiaan meen dat hy nog genoeg petrol het om ons ook ‘n ent te sleep as dit nodig is.”
“Julle het my oortuig. Ons maak dan vir julle plek. As ons nie daar brandstof kan kry nie, kan ons miskien dan maar daar oorbly solank dit nodig is.”
Vroeg die volgende oggend, net nadat dit nodig sou wees om ligte aan te skakel, vertrek hulle. Die pas is maar stadig, ter wille daarvan om petrol en diesel te spaar.
Sowat tien kilometer van die dorpie (as dit so genoem kan word) af, is die pad sleg verspoel en hulle moet deur die veld ry. Na ‘n uur se stadigry, dikwels met vierwieldryf, is hulle terug op die grondpad. Dis baie lanklaas geskraap en waar dit nie sinkplaat is nie, is daar slote en gate. Net na elfuur ry Paul en Hannie oor ‘n lae bult en daar ver voor hulle, sowat vier kilometer, is ‘n paar sinkdakke wat nog effens glinster. ‘n Eenvoudige bordjie op ‘n klippilaar sê “Jakobsput”, met ‘n pyl wat daarheen wys. As Paul so in die verbyry vinnig tel, is daar ten minste ses gate deur die bordjie geskiet, waarvan twee nog redelik vars is.
*
“Ons kan nou uitbeweeg na die buitewyke en selfs die platteland in, maar ek dink die beste wat ons kan doen is om in die stad self in te gaan en van ‘n kant af skoon te maak.”
“Diek, jy besef ons is skaars twintig en jy praat nou van duisende mense wat ons vyandig is. Miskien honderde duisende. Wat kan ons groepie regtig uitrig?”
“Hoe eet ‘n mens ‘n olifant? Stukkie vir stukkie, hap vir hap.”
“Onthou julle daardie dominee wat ons lank terug gehad het, die diensplig een, wat so goed kon skiet? Ek het hom so ‘n paar jaar later raakgeloop. Hy sê vir my hy het in die gemeente gekom en sy twee ouer kollegas het ‘n klomp werk op hom afgepak. Hy het letterlik ‘n paar honderd besoekpunte gehad, die jeug en nog preekbeurte ook. Hy kla toe by een van die ou gemeente-tannies daaroor en sê hy weet nie wat om te doen nie. Sy sê toe vir hom al raad wat sy vir hom het is dat hy moet begin. Ons kan hier vir mekaar sê daar is ‘n te groot groep vyandelike mense en ons lot bekla, maar al wat ek kan sê is dat ons moet begin.”
“Waar begin ons?”
“Waar ons nou is. Ons begin by die buitewyke van die stad en beweeg al in konsentriese sirkels, tot ons in die kern van die middestad is. Ek het in elk geval gehoor dat daar ‘n paar jong manne is, in werklikheid niks meer as seuns nie, wat in die middestad amok maak onder die ou regering se mense. Miskien kan ons mettertyd by hulle aansluit, of hulle by ons.”
“Ek wil nie hê ons groep moet te groot word nie. Dit sal ons beweeglikheid aan bande lê, en die logistiek gaan te groot word.”
“So, ons gaan al hierdie honderde duisende doodskiet?”
“Nee, ons gaan net genoeg skiet en die plek so warm maak, dat hulle padgee. En daar sal dalk ‘n tyd kom dat ons nie noodwendig hoef te skiet nie. In Afrika loop die riemtelegram baie vinnig. Die blote feit dat ons daar is en aan die kom is, behoort mettertyd vrees in te boesem, sodat hulle voor ons sal padgee.”
“Is jy nie te seker van ons nie? Ons is maar net vleis en bloed en ons kan net sowel ook aangeval en uitgewis word.”
“Natuurlik is dit moontlik, maar as ons nie selfversekerd is nie, waarom het ons begin?”
“Dis alles goed en wel, maar al wat gaan gebeur is dat hulle op ander plekke verwoesting gaan saai?”
“Soos jy gesê het, ons kan nie die hele olifanttrop opeet nie. Ons kan doen wat ons kan en hoop daar is ander groepe wat dieselfde doen.”
“Maar uiteindelik?”
“Uiteindelik moet ons hulle sover en soveel as moontlik uit die land uitkry. Daar is ‘n hele kontinent oop boontoe. En as iemand dink ek is ongevoelig of hardvogtig – miskien is ek, maar ek gaan nie weer toelaat dat mense brand, roof en vermoor na die tyd nie. Nie as ek dit kan verhelp nie.”