Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lees dat nie almal die voorreg het om deel aan die HERE te hê nie. Wie mag dan in God se 'tent' vertoef? Ps 15 vertel ons dat net opregtes, mense wat in die waarheid leef, wie nie skinder en lieg nie, en boonop nie dobbel en omkoopgeskenke aanneem nie, onwankelbaar sal staan in God se teenwoordheid. Hieruit blyk dit dat talle mense verlore sal gaan indien hulle nie hul weë betyds verander nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (10)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Ek hoor die geskietery het opgehou.”
“Ja. Dit beteken òf die een kant is uitgeroei, òf hulle het maatjies gemaak. Ek hoop vir die eerste, maar ek veronderstel die tweede geval.”
“Nou wat nou?”
“Hoe voel julle vir ‘n bietjie ordentlike bakleiery?”
“Jy bedoel met die oorblyfsel van die magte?”
“Netso. Dis nou die beste tyd, want ek wed jou hulle is feitlik almal gesuip teen hierdie tyd en niemand gaan aanbied om wag te staan nie.”
Nie een van hulle verwag om ‘n oorwinning te behaal nie, selfs teen moeë, dronk en oor-selfversekerde manne met ‘n gebrek aan dissipline, maar hulle kan ten minste ‘n bietjie onsekerheid in hulle gemoedere inskiet. Met die een helfte van hulle klein gevegsgroepie aan die westekant en een aan die ooste, wag hulle vir die bevel, wat Diek na ‘n uur en ‘n half gee.
Daar is bitter min, inderwaarheid geeneen, van die uniformmagte wat dit te wagte is nie. Hulle het immers elkeen vir ‘n hele paar weke koning gekraai op twee verskillende mishope en niemand het hulle teëgegaan nie.
Die skote klap eers vanaf die ingegrawe groep aan die oostekant en daar is onmiddellike sukses. Die soldate en polisiemanne wat lui rondlê of ronddrentel, is nie moeilike teikens nie en die beneweldheid, aangebring deur die euforie, gemeng met alkohol, maak dat die paar skaars bevele òf nie deurdring nie, òf verontagsaam word.
Uiteindelik soek die grootste deel van hulle skuiling na die ooste, waar hulle in die lokval inloop van manne wat vanuit die boonste verdiepings van die geboue op hulle skiet. Weereens is daar geen dekking nie en die skote is meestal raak. Teen die tyd dat die bevelvoerders ‘n mate van orde tussen ‘n handvol soldate kan skep, en die besef uiteindelik deurdring dat hulle moet terugskiet, het die vyand soos mis verdwyn.
Tot volgende keer.
*
“Hannie!” skreeu Paul desperaat.
Die ergste is die reuk! Hannie voel asof sy die stinkende massa inasem en dit maak haar tot in haar diepste wese naar. Hulle kan haar maar doodmaak, maar nie verkrag nie! Hoe kan mense so ongewas deur die lewe gaan? Selfs gedurende die laaste tyd, waar hulle dae aaneen weg van vloeiende water was, het hulle elkeen tyd gemaak om skoon te word, al is dit met ‘n kommetjie water en ‘n waslap.
Iemand gryp haar aan haar hare en trek haar kop agteroor. Sy skreeu van die pyn. Haar arms word op die grond neergepen, maar sy beweeg haar gewrig ver genoeg om die mes uit die skede aan haar sy te wikkel. Met ‘n amper-pynlike draai van haar pols, sny sy na iets wat teen haar druk, maar alhoewel sy warm bloed oor haar hand voel spuit, word die mes ook uit haar greep geskeur en eenkant gegooi.
Paul skud die grypende hande van hom af en beur na waar Hannie geval het. Hy het nooit besef hy is so sterk nie. Hy gooi een van die manne oor sy heup en die volgende een wat na hom slaan oor sy skouer, in Judo-bewegings wat hy dekades gelede geleer het en nou instinktief terugkom, maar daar is net te veel.
Hy brul van woede, magteloosheid en frustrasie, span die spiere in sy skouers tot op die uiterste, byt na ‘n hand wat oor sy mond gedruk word, slaan ‘n harde vuis na ‘n gesig en vir ‘n oomblik flits die gedagte deur sy kop dat hy hoop hy kry nie VIGS daarvan nie. Die magdom drukkende lywe het hom nou van sy voete af, alhoewel hy veg vir ‘n vastrapplek. Hy weet as hy eers op die enjinkap platgedruk word, is dit verby.
Vir ‘n oomblik dink Paul hy hallusineer, miskien as gevolg van die skok, miskien omdat ‘n knie oor sy gorrel gedruk word, maar die man wat voor en bo-op hom is, se kop swel vir ‘n breukdeel van ‘n oomblik en dan spat bloederige gemors oor hom. Paul voel die warm bloed en grysstof wat oor sy gesig en nek val.
Skielik hoor hy bokant die geskreeu en gefluit die knal van ‘n skoot. Dit klink naby, maar hy is seker dis nie van die Kombi of ander voertuie agter hom nie. Die skreeuende massa het teen hierdie tyd ook die res van sy geselskap oorval.
Skote klap nou aanmekaar en na ‘n aantal daarvan hoor hy ‘n duidelike “pieng”, die drukking op sy nek verslap en dis asof hy weer asem kry tussen die lywe deur. Hy rol om, kry sy knieë en dan sy voete onder hom, staan op en spring van die Land Cruiser af, tussen die klomp wat vir Hannie op die grond druk. Hy raak beserker en slaan, skop, trap en vloek. Hy kry een man aan sy nek beet en stamp sy kroeskop teen die vryloopnaaf in die middel van die voorwiel, kry ‘n volgende een in die kromming van sy elmboog en ruk sy nek agteroor in ‘n poging om dit te breek. Hy trap tegelykertyd met ‘n gestewelde regtervoet in die middel van ‘n rug wat reg onder hom is, lig sy voet en trap weer. Iets gee mee. Skote knal onophoudelik en tussen-in is die sporadiese “pieng”-geluid.
Hannie voel as die drukking op en rondom haar effens verlig, beur met al haar jong lyf se krag om half regop te kom, sien haar mes onder die voertuig lê en duik daarheen. ‘n Hand gryp aan haar gordel om haar weg te trek, maar met haar linkerhand klou sy aan die onderstel vas en gryp die hef van die mes. Sy laat los met haar linkerhand en gee skiet sodat sy onder die kar uitgetrek kan word. Sy wriemel om tot op haar rug en steek wild na die stinkende lywe om haar. Sy het in die proses grond in haar mond gekry, en met die bloed wat nou oral is, gemeng met die sand van die rivierbedding, lyk sy wild en vreesaanjaend as sy regop kom.
Sy hoor ook nou die skote knal. Langs haar slaan een man neer en dan nog een. Die ander begin opstaan om weg te vlug, maar die skote is nou genadeloos en skielik is daar niemand wat haar meer bedreig nie. Sy sak op die groot wiel langs haar neer, en dan gly sy af tot sy op die grond sit, met bene wat heeltemal lam is.
“Hannie!”
Paul staan voor haar, steek sy hand uit, wat sy met ‘n eie bloederige een raakvat. Met sy hulp kom sy wankelrig regop, druk haar kop teen sy bors en begin snik. Hy vat haar agter haar kop en druk haar gesig styf teen hom vas.
“Toemaar, ek dink dis oor.”
“Wat het gebeur?”
“Hulp het opgedaag.”
Na twee minute van net so stilstaan, vat sy haar gesig weg en kyk na waar die “hulp” staan. ‘n Hele aantal manne en twee vroue staan op die wal van die rivierbedding. ‘n Kort, fris man van diep in sy sestigs gly rats tot in die bodem en kom aangeloop.
“Is julle okay?”
Hannie antwoord nie, maar knik met haar kop.
“Ons is. Ons was amper nie, maar nou is ons,” sê Paul. “Waar kom julle vandaan?”
“Waar dink julle? Van Jakobsput, natuurlik.”
Paul sien die geweer in die man se hand. Hy is nie baie vertroud met al die skietgoed nie, en met die gebrek aan iets beter om op die oomblik te sê vra hy:
“Ek sien jy het ook ‘n drie-nul-drie, maar nie ‘n Poena nie?”
Die ou man skud sy kop.
“Nee. Dit lyk miskien van ver af so, maar hierdie is ‘n Amerikaanse geweer uit die Tweede Wêredloorlog, ‘n M1-Garand. Beste ding wat ooit gemaak is, het Patton gesê”
“Karel, hou op babbel. Kom, pop, ons gaan maak jou skoon. Karel, bring die ander, hulle is seker dood van die dors en honger.”