Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Wanneer ‘n mens, ‘n groep mense, of ‘n organsiasie, ‘n sekere brug oorsteek, kan hulle nie weer daarop teruggaan nie. Dis iets soos Hannibal se berge, Caesar se Rubicon, die verbrand van die Romeinse skepe op die strande van Engeland, Luther se 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg, of De Klerk se toespraak in 1993.
Die ANC het hierdie brug oorgesteek toe hulle as voormalige terreurorganisasie besluit het om eerder af te breek, as te regeer, 350 jaar se verworwe rykdom te vat en die geld waarmee instandhouding en nuwe projekte aangepak moes word, tussen hulle te verdeel. Miskien was hulle aanvanklike bedoeling nie noodwendig om té veel, té vinnig hiermee voort te gaan nie, maar dit was ‘n verdoemende eenrigtingbrug wat oorgesteek is.
Elke dief of skelm weet dat jy iets moet laat oorbly, al is dit net uit medelye, maar dit was nie vir hierdie party moontlik nie. Die aanloklikheid van duisende miljarde rand was net te veel. Daarby kon nie net die elite hulle sakke vul nie, maar die gulsigheid het te openlik geword, die skuldiges te veel en die buit moes verdeel word om monde stil te kry. Die kraan was oop en die bokant, die kopdeel, gesteel – dit kon nie weer toegedraai word nie.
Die Staatsbeheerde Entiteite, ook bekend as Semi-staatsinstellings, was die ooglopendste skatkiste. Met te veel kaderontplooïng, Transformasie, Regstellende Aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en ander rowerswette, is hierdie instansies nie net van die room ontneem nie, maar ook is die wortels daarvan ontbloot en uitgegrawe.
Geen besigheid kan van sy produksiereserwe ontneem word en steeds bly voortbestaan nie. Die duidelikste voorbeelde hiervan is sekerlik die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die Poskantoor, Denel, die Spoorweë, die SAUK, Sasol, Yskor en ander instellings wat slegs met belastinginspuitings kunsmatig aan die lewe gehou is.
Ongelukkig het ook hierdie bloedreserwes in die kaders en makkers se sakke verdwyn en het hulle stadig maar seker ineengestort.
Die gewone burger, die man op straat, Jan Alleman, noem hom wat jy wil, het nie werklik erg aan die lugdiens nie, want hy kan in meeste gevalle nie bekostig om te vlieg nie. Hy kan sy eie musiek speel en as ’n radiostasie vou (in die meeste gevalle Afrikaanse stasies), maak dit nie vir hom veel saak nie. Die treine wat nie meer loop nie, word vervang met taxi’s en vragmotors. Die feit dat dit baie duurder is as treinvervoer, maak nie in gebroke intellek ‘n duik nie.
Yskor en Denel se verlies maak dat daar minder werksgeleenthede is en staal en dus daarmee konstruksies baie duurder, maar hiervoor kan apartheid die skuld kry. Niemand het die afgelope jare in elke geval van die Poskantoor gebruik gemaak nie, behalwe vir SASSA uitbetalings en ook hiervoor is alternatiewe beskikbaar.
Wat almal egter aan eie lyf gevoel het, is Eskom se stadige, maar onbetwisbare en onkeerbare ineenstorting. Werksgeleenthede, kos, produksie, gemak en hitte word, behalwe vir die ministers en hulle vriende, vir wanbetalers en natuurlik dele soos Soweto, waar onwettige aansluitings is en die skuld telkens afgeskryf word, onbekostigbaar duur. Beurtkrag word nie net ‘n ongemaklike blaas op die voet nie, maar groot dele van die beskawing se voet word geamputeer. Steeds bly korrupsie, onbevoegdheid, ‘n geweldige salarisrekening en diefstal die entiteit se fondasie uitkalwe.
Self die mees intellektueel-gestremdes begin agterkom dat lig, hitte, stowe en sulke dinge nie meer werk as jy die skakelaar druk nie. Selfs die mees benewelde brein begin vra waarom.
Wat die ANC nie voor begroot het nie, is dat mense wat uiteindelik, na dertig jaar van misleiding, besef dat die regering die skuld moet kry vir hulle ellende, begin met burgerlike opstand. En met hierdie mense kàn jy nie rede voer nie. Hulle verstaan net nie genoeg om af te staan nie.
*
Hulle is binne die padblokkade, voordat hulle enige waarskuwing kon kry. Die Algerynse polisie is paraat en doeltreffend in die opstel hiervan en dis duidelik dat hulle dit al vantevore gedoen het. Daar is geen kans vir omdraai nie en die groot rotse wat vreemd uit die woestyn uitstaan, bied geen kans vir wegkom na die kante toe nie.
Na die kursoriese groet, die nagaan van paspoorte en ander dokumente, insluitende die briewe van die universiteite, word hulle beveel om uit die voertuie te klim. Elkeen word deursoek en dis duidelik dat die polisie op soek is na vuurwapens. Nie een van die manne het so iets by hom nie, en natuurlik ook nie meer as die toelaatbare hoeveelheid kontant nie, niks dwelms of enigiets wat onwettig is nie.
Terwyl hulle buite staan, word die voertuie deursoek en die Hummers is eerste aan die beurt. Waar die pistole se geheime bergplek is, word versigtig oopgekroef. Kris hou asem op, maar as hy na Bill kyk, is daar ‘n nonchalante kalmte op die man se gesig.
Sodra die polisie die Hummer se versteekte kompartement oop het, is dit duidelik dat daar niks in is nie en hulle maak dit weer toe. Dis ook opmerklik dat die polisie klaar is met hulle deursoeking, sodra hulle sien die plek waar die pistole moet wees, leeg is.
“You may proceed, sir, and may Allah be with you”
*
Die gesig wat vir Max ontmoet, as hy uit die Frontier klim, laat sy emosies wipplank ry. Die Toyota, met die oop deur, die twee sonpanele, wat tot dusver nutteloos probeer het om sonstrale op te vang, die duvet en die leë blikkie kondensmelk op die paneelbord, sigbaar deur die oop deur, is hartseer, maar as hy opkyk na die bokant van die ronde rots-klip, sit die meisie op die bokant daarvan.
Sy het ‘n warm baadjie en langbroek aan, maar net een stewel. Haar ander voet is kaal, blouerig en baie geswel. Aan die manier waarop sy dit vashou, kan hy sien dat die voet baie seer is. Alhoewel haar hare ongewas is, ongeborsel en deurtrek met nattigheid – ‘n kombinasie van die reën, wat weereens nog effens stuif en die sweet uit pyn en inspanning, is sy mooi, met groot bruin oë en ‘n mooigevormde gesiggie
“Jy het gekom,” sê Bella sag en half verwonderd. “Ek het al hoop begin verloor.”
“Ek het mos belowe. Maar nou sal ons jou eers daar moet afkry. Jou voet is baie seer?”
Skielik, sonder waarskuwing, bars Bella in trane uit. Die afgelope tyd se spanning, angs, pyn, hooploosheid en terselfdertyd verligting, is te veel vir haar. Sy laat sak haar kop en huil onbedaarlik, met skouers wat ruk van die snikke.
Max voel vir ‘n oomblik skuldig – sy kennis van vroumense is maar min en hy weet nie wat hy verkeerd gedoen het nie. Hy doen dus maar wat sy instink hom vertel.
“Dis okay, Bella, alles is nou reg en dis verby. Ek het jou kom help, soos ek gesê het.”
Hy klim teen die nat rots uit en kan nie begryp hoe sy met die seer voet daaruit gekom het nie. Hy gaan sit langs haar en met ‘n oorweldigende gevoel van teerderheid, trek hy haar kop nader. Sy versit haar aanvanklik effens, maar gee dan toe. Waar die snikke voorheen rou, maar half gedemp was, huil sy nou openlik.
“Jy… het gekom.”
“Wag net ‘n oomblik.”
Max gly teen die rots af, loop na sy voetuig en uit die ingeboude noodhulpkissie kry hy ‘n buisie salf, ‘n rekverband, ‘n houertjie pynpille en uit die koudhouer ‘n botteltjie lemoensap. Hy klim weer op tot by haar, gee vir haar drie pille en die sap om dit mee weg te sluk.
Hy tel die beseerde voet in sy skoot, smeer salf aan (hy weet glad nie of dit gaan help nie) en verbind dit stewig met die rekverband. Bella trek haar asem skerp in as hy die verband te styf draai en sy verstik effens. Hy laat skiet dit net ’n bietjie. Sy het ook die koue lemoensap te vinnig afgesluk en sy bring ‘n wind op.
“Hoe voel dit nou?”
“Nog baie seer.”
“Ons moet jou by ‘n dokter kry.”
“Hoe?”
“Eers moet ons hier af en dan met my kar terug dorp toe.”
“En my nuwe Toyota? Ek wil hom nie hier los nie.”
“Bella, ons kan hom later kom haal, ek beloof dit. Ek weet nie wanneer of hoe nie, maar jy kan hom nie nou bestuur nie, selfs al kan ons hom gesleep kry en ek weet nie of ons deur die water en modder gaan kom met hom agter my kar nie. Ons kan al jou goed agter-in myne sit en dan kom ons later terug. Okay?”
Sy dink ‘n oomblik en knik dan met haar kop.
“Nou goed. Ons gaan nou hier moet af. Klim op my rug, dan probeer ons.”
Bella huppel regop, sit haar bene om Max se lyf en hy sit dit effens hoër, bokant sy heupe.
“Ek gaan met my hande los. Sal jy kan vashou?”
“Ek kan. My voet is gebreek of verstuit, maar verder is daar nie fout met my nie.”
Sy sit haar arms om sy nek en klou styf vas.
Max sê niks, maar aan die manier waarop sy die botteltjie lemoensap verslind het, dink hy sy is dalk net ‘n bietjie meer as net effens ontwater. Hy draai om, sodat hy na die rotswand kan kyk, laat gaan haar voete en begin dan stadig afseil.
Dis nie baie hoog nie, net sowat drie meter, maar dis baie skuins en glad. Sy stewelpunte soek vastrapplek teen die rotswand, maar dis baie glad en hy gly ‘n hele ent, voordat daar ‘n effense ongelyktheid is, waar hy kan trap.
Bella snak na haar asem – hy weet nie of dit uit vrees of pyn is nie. ‘n Klein rotsvy is naby hom en hy gryp dit met sy regterhand vas, haal sy tone van die rotslysie af en, terwyl sy tone verder gly, hou hy vas, totdat dit te ver is. Hy laat gaan die boompie en tot sy verligting, as hy effens kan skuins-af kyk, sien hy die grond is nie meer as ‘n driekwart meter weg nie.
“Hou vas, Bella, ons is amper onder.”
Hy laat toe dat gravitasie die res van die roete bepaal, maar as hy skielik op vaste grond is, versteur dit sy balans en hy val agteroor, op Bella. Hy hoor hoe sy haar asem verloor, soos hy dit uitval.
“Askies! Dit was nie aspris nie.”
“Dis okay. My voet het darem nie weer in die slag gebly nie, maar nou moet jy miskien van my afklim.”