“Ons gaan hierdie oorlog wen,” sê Nicodemus skielik. Hy verhef nie sy stem, praat hard of emfaties nie, maar so asof dit net ‘n gedagte is wat skielik oor sy lippe loop.
Die vyand het vir eers teruggetrek, na waar hulle met ander groepe kan saamsmelt, hulle dapperheid kan gaan herwin, miskien ‘n sangoma of twee gaan raadpleeg om hulle muti weer sterk te maak, mekaar moed in te praat en uiteindelik in groot getalle sal terugkom. Maar dis anderdag.
“Hoe so?”
“Daar is sekerlik baie redes. Het ek al genoem dat my pa, behalwe sy werk as ambagsman, ook vir ‘n tyd ons kerk se koster was? Een aand, na aanddiens het iemand geroep dat daar by sy kar ingebreek is en die radio gesteel is. My pa was baie kwaad en het genoem dat as hy die ou op heterdaad betrap het, hy hom sou laat les opsê. Ek het hom gevra, sê nou die ou was groot en sterk of het karate of so-iets geken? Hy het my geantwoord dat die reg aan sy kant was en daarom sou hy nie so ‘n geveg verloor het nie.”
“So, die reg is aan ons kant en daarom sal ons nie verloor nie?’
“Dis die een rede. ‘n Belangrike een, maar net ‘n rede. ‘n Ander een is dat ons vir meer as dertig jaar ons woede ingehou het, toegegee het en steeds aan die agterspeen gesuig het.”
“Maar dis ook nie die groot rede nie.”
“Sê jy of vra jy?”
“Ek vra.”
“Ja, dis nog ‘n belangrike rede. Ook dat ons uit ‘n veglustige volk gebore is, dat ons nie kan bekostig om te verloor nie, dat ons mense dapper en natuurlike vegters is. Dis alles waar. Ook dat ek glo die Here is aan ons kant. Maar dààr is die eintlike rede.”
Nicodemus wys na die manne en vroue, jonk en oud, wat daar naby sit.
“Kyk vir Martie. Sy het nog nooit gekla oor die omstandighede nie, dat die voorraad min is of die ure lank nie. Daar is Lara, wat vanaf ‘n bedorwe rykmansdogter ontpop het in ‘n verbete bakleier, sy en haar vriende. Die seuns uit die middestad – hulle het as klein groepie eintlik die grootste slag geslaan om die vyand se leiergroep te vernietig. Knoets daar eenkant, Johan en Burger, die oud-recce’s, Ben, Flip en die Engelbrecht-boeties; my regterhande, Lori, daardie kwaai rooikop meisiekind wat nooit sonder haar Winchester is nie. Paul Roux en Hannie, wat die geld gebring het waarmee ons wapentuig kon aankoop. Ja, en Basjan, Skeermes, Nicolaas my groot neef.
“Kyk daardie klompie jong seuns, wat nie ‘n bang haar gerys het toe ons onder skerpskuttersvuur was nie. Hoor hoe lag hulle, ‘n paar ure nadat ons in lewensgevaar was.”
Tamar kyk weg sodat Nicodemus nie die trane in haar groot, groen oë sien nie.
*
Alhoewel dit selde sneeu in Suid-Afrika noord van Pretoria, en die land in ‘n sekere mate ‘n baie brose reënklimaat ervaar, daar groot dele maklik droogte kan ervaar, kom sneeu wel voor in dele daarvan, veral in die Suid-Kaap, Oos-Kaap, die Vrystaat en Natal. Gedurende die wintermaande sal die Matroosberg, die Swartberge en dele in en rondom Lesotho toegeneeu word.
Vanjaar is die sneeu vroeg en besonder dik, met dele wat tot twintig sentimeter kry, veral in die hoogliggende dele soos waar Max en sy groepie, en kilometers daarvandaan, Bella en Jana nou ry. Dis bitterlik koud hier hoog in die berge en behalwe die sneeu, huil die hoë winde teen die bergtoppe, deur die klowe en teen die kranse vas.
Bella het nog nie aan ‘n plan gedink nie en met die Chev-bakkie wat skuins staan, voorwiel in die sloot, is daar geen kans dat hulle in die skuiling van die kajuit teen die koue kan slaap nie. Met moeite is die klein tweemantentjie (in die weermag bekend as ‘n choppertent) opgeslaan amper teenaan die bakkie, waar dit die ergste van die kwaai winde afkeer. Van die ankertoue is aan die bakkie vasgemaak, sodat ‘n skielike rukwind dit nie dalk kan wegvat in die nag nie.
Bella en Jana lê styf teenmekaar, elkeen knus (of so knus as moontlik) in hulle slaapsakke. Hulle slaap baie min, met die geluide van die skreeuende winde en die aanhoudende geklap van die tent daarin, wat ‘n onaardse lawaai maak. Die grond is ook nou gevries, en die koue syfer stadigaan deur die vloer van die tent, totdat elkeen van hulle se tande klap daarvan.
Teen eenuur staan Bella op, kry die gasstofie, maak warm drinkgoed daarop en nadat hulle elkeen die waarborg gemaak het dat nie enigeen van hulle geneig is tot fisiese aangetrokkenheid tot dieselfde geslag nie, het Jana die een slaapsak binne die ander een gesit en hulle lê styf teen mekaar totdat die son amper sy kop uitsteek.
*
Max se groep het in ‘n verlate hotel, vier kilometer buite die klein Natalse dorpie, Goliat, skuiling gevind. Die meeste van die ruite is gebreek en die deure afgesteel, maar daar is genoeg skuiling teen die wind, reën en uiteindelik sneeu. Die plek is in ‘n diep “U” gebou en die voertuie is beskut teen enigiemand wat dit sou wou breek – nie dat enigiemand in hulle volle postiewe in hierdie weersomstandighede dit buite sou waag uit vrye wil nie, maar ‘n mens weet nooit.
Sy mense het stadigaan aangegroei tot net meer as veertig siele. Nie te veel om onder beheer en bewaking te hou nie, maar genoeg dat hulle mekaar kan verdedig.
Die aandete was maar skraps en hy weet hulle sal iewers voorraad moet aanvul en binnekort. Nie net kos nie, maar ook brandstof en ammunisie.
Die pa met sy baba het gou ingeskakel en die vroue het letterlik gekompeteer om aanneem-moeders te wees vir die klein seuntjie. Sy pa, Jaco, is ‘n skaam jongman, met hare wat voortydig begin min word, maar ook ‘n innemende glimlag saamdra, al kom hy pas uit die traumatise gebeurtenis in die dorpie. Hy praat nooit oor sy vrou of familie of wat daar gebeur het nie, maar Max kan sien daar loop ‘n diep skeur in die man se hart en gemoed.
Max loop buite die vuurgloed en kyk na die suide en suid-ooste. Hy hoop Bella is veilig. Hy hoop ook dat sy soms aan hom dink.
*
Juan Mentz kry ook koud. ‘n Man kan dapper wees, miskien selfs onverskrokke, maar die weer steur hom nie daaraan nie. Koud is koud. Net soos Pretoria baie warm kan word, is dit ook geneig om erg koud te word, veral as ‘n man nie oop en bloot wil loop, staan, sit of lê in die son nie.
Die sneeu wat so ver as die Vaaldriehoek geval het, dryf die ysige wind boontoe en die termperatuur in die ou Transvaalse hoofstad val tot onder vriespunt vroeg soggens.
Skielik verlang Juan na mense. Hy het die afgelope jare geen behoefte aan geselskap gehad nie, is in wese ‘n alleenmens en vandat hy aan sy psigotiese neigings vrye teuels gegee het, is daar iets diep binne hom wat gestimuleer is. Vir die eerste maal in sy volwasse lewe is hy na aan gelukkig wees.
Hy weet hy sal nie onbepaald kan aanhou doodmaak nie, ten spyte van die geleentheid wat hierdie chaotiese toestand geskep het. Een of ander tyd sal orde herstel, wette sal weer onderhou word en skuldiges, wat dit oortree, sal uiteindelik gestraf word. Maar nog nie nou nie. Nou kry hy koud, verlang na mense wat hy nog nooit ontmoet het nie en die enigste manier waarop hy aan hierdie frustrasies uiting kan gee, is om meer en meer bloed te vergiet. Hy weet hy is siek in sy kop, maar geniet elke oomblik daarvan.
Die sestal manne wat aangestap kom, oordadig in hulle selfversekerheid, raserig en uitbundig, stap niksvermoedend in Juan se doodsakker in.
*
Soms is daar ‘n plan diep in ‘n mens se agterkop, maar jy kan hom nie mooi vasvat nie. Dan is dit nodig dat jy nie deur geforseerde denke dit in ‘n hoek dryf nie, maar dis nodig dat jy hom los, iewers in jou onderbewuste om daar te lê en broei, totdat hy self sy naam gee.
Bella word net voor ligdag wakker, lê ‘n paar minute en dink, totdat sy seker is dit plan gaan werk.
“Komaan, Jana, staan op, ons het werk om te doen.”
Jana is nie lus om op te staan, die lekker warmgebroeide slaapsak los te rits en die koue dag aan te pak nie.
Bella wurm haarself uit die slaapsak, trek haar stewels aan en buk by die tentopening uit. Die vroegoggendlug is snerpend koud, maar die wolke het deur die nag dunner geword en alhoewel die grond oral dik van die sneeu is, lyk dit asof die ergste van die weer verby is.
Die bietjie hout byderhand is onder die sneeu en sy het nie tyd om nou vuur te maak nie, al sal sy die hitte daarvan terdeë kan benut. Sy maak die gasstofie weer staan, gooi ‘n paar bakhande sneeu in die keteltjie en steek aan. Sy is geskok om te sien hoe min water die sneeu maak en sy moet nog twee maal bygooi, voordat daar genoeg water is vir twee bekers koffie.
“Jana, as jy sonder koffie die dag wil begin, kan jy maar bly lê, hoor!”
Sowat tien meter voor die Chev vernou die sloot na ‘n half meter in wydte en neig na hulle regterkant toe. Die gevriesde grond is hard, maar met die handbyltjie, graaf en wielspanner grou die twee vroue ‘n driekwart-meter diep sloot, dwars met die natuurlike een, breed genoeg dat hulle die spaarwiel vertikaal daarin kan plaas. Met die fris wielspanner agter die spaarwiel, is daar plek in die binneste opening waardeur hulle die wen-as se haak kan sit.
Met ingehoue asems, Jana aan die stuur van die bakkie en die geknor van die wen-as se elektriese motor, trek die kabel styf, die motor verloor rewolusies soos dit die spanning opneem en dan begin die bakkie beweeg. Die groot voorwiel wil eers die kontoer van die sloot verder volg, en die voertuig kantel effens verder oor na daardie kant.
“Hou aan, Jana, gee ‘n bietjie vet!”
Asof dit ‘n donkie is met ‘n terpentynkwas onder die stert, klim die voorwiel skielik uit die sloot.
“Whou!”
Met die voertuig nou op gelyke grond, skuif Jana oor na die passasierskant en Bella sit agter die stuur, vir meer as vyf minute, totdat die enjin opwarm en die verwarmer begin werk. Eers dan pak hulle die tent en bagasie onder die bakkie-seil en ry versigtig verder.