BEGRENS ONS KULTUUR!

OORLEWING BUITE DIE BESTEL

JA Marais - 1994

Die primêre besluit wat ons volk moet neem is om in afsondering te gaan. Oorlewing van die Afrikanervolk kan alleen realiseer in afsondering, buite hierdie bestel. Daar is geen alternatief nie. As u kyk na ons geskiedenis, vanaf selfs Jan van Riebeeck, toe hy die Wilde-amandellaning geplant het, het hy die Nedersetting afgesonder. Daarna die Groot Trek waar Opperman in Joernaal van Jorik skryf: "U het ons van verdrukking afgesonder...": die politieke afsondering van die Boererepublieke, afgesonder van die Britse heerskappy. Ná 1902 die weiering om op te gaan in die "nuwe nasie" wat Botha en Smuts vir ons voorgehou het; en veral die begrensing, die afsondering binne die Afrikaanse taal. En dan, net so belangrik, en miskien belangriker, genl. Hertzog wat van buite die ou Suid-Afrikaanse Party die Nasionale Party gestig het en daardeur die nuwe visioene en horisonne geskep het vir die Afrikanervolk, van buite die bestel. Dr Malan in 1934, wat nie in die samesmelting ingegaan het nie, maar van buite daardie knel die stryd voortgesit het wat in 1948 op die oorwinning uitgeloop het; en Strydom en Verwoerd wat uiteindelik Suid-Afrika buite die Statebond geneem het om van dáár ons heil te soek. Daar is geen twyfel nie, die ontwikkelingslyn van die Afrikanervolk loop telkens buite die bestel. Daardeur het hy sy lewe behou.

En in hierdie nuwe situasie het hy met 'n wetmatigheid te doen: dis die reg op selfafskeiding, selfsegregasie, wat die onmisbare grondslag van kultuur is. As jy daardie reg 'n volk ontneem, dan vernietig jy die grondslag van sy aanspraak op kulturele selfstandigheid.

Die kultuur is eksklusief, daar is nie 'n manier om kultuur te handhaaf as sy begrensing nie skerp, duidelik is nie. Die vereistes vir die handhawing van eie kultuur is uitsluiting, diskriminasie vooroordeel. Daarmee beskerm hy homself. Hy skei sy lede af van die wat nie aan daardie kultuur behoort nie. Die Amerikaanse skrywer, Richard Weaver, sê "It is only those who are capable of discrimination and feeling against things, who can be custodians of culture". Net dié wat kan diskrimineer en 'n gevoel téén dinge ervaar, is in staat om kultuur te beskerm.