Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoop is 'n deug wat moontlik alle ander deugde oortref. Dit sou 'n klap in God se gesig wees om 'n situasie as totaal hopeloos te beskou en jou aan wanhoop oor te gee – God kan alles doen, en alles verander; hou moed!
AAN DIE GELOFTEVOLK VAN SUID-AFRIKA
Flip Swanepoel
Geloftevolk Koördineringskomitee
Mens wonder waarom die EFF 6 April gekies het as teikendatum om eiendom van veral blankes te beset? Is die dag waarop Jan van Riebeeck die Westerse beskawing aan die Kaap gevestig het, en as’t ware die Kaap beset het, nie dalk die dryfveer agter hul grondbesetting/revolusie, nie?
Mens kan ook die vraag vra of die nie-nakoming van die Van Riebeeck Gelofte, nie dalk bydra tot die EFF se datum-voorkeur nie? Ons hemelse Vader eis die nakoming van Geloftes en sal by versuim die werke van ons hande verwoes. Verder versuim ons as volk ook om die werklike Gelofte van Bloedrivier na te kom, wat vir ons weg gesteek is. Dieselfde geld vir die Paardekraal Gelofte van 13 Des.1880 asook die Gelofte van Totius van 9 Sept. 1939, toe tussen 70,000 en 80,000 volksgenote dit by Monumentkoppie gesluit het. Wie van u weet hiervan? Indien nie, waarom nie? Daar moet iemand wees wat daarop uit is om ons as volk te vernietig, deur ons Gelofteverpligtinge weg te steek sodat God ons sal straf vir ons onkunde, soos wat Hosea profeteer – Hos 4:6“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp,...”
Is mens nie geneig om inligting te verwerp wat nie strook met dit wat jy weet nie? Toe Jan van Riebeeck en sy geselskap op 6 April 1652 hul aan die Kaap kom vestig het, was hul reis op see, asook hul eerste twee jaar se verblyf aan die Kaap so voorspoedig, dat hul daarin die Hand van ons hemelse Vader gesien het en‘n gelofte aan Hom gemaak het wat as volg lui:
Waar dit vandag die tweede verjaarsdag is van die dag waarop ons deur die HERE gelei, met die skepe Drommedaris, Reyger en De Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters [Here XVII – die Direkteure van die VOC] te bou en te bestendig, en opgelet dat God die HERE alle sake tot vandag toe met vele seëningevoorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.
Hiermee het hulle erkenning aan die Almagtige God van hemel en aarde gegee dat dit Hy was wat hulle reis op see voorspoedig laat verloop het, sodat hulle behoue hul bestemming bereik het, en dat hul eerste twee jaar gekenmerk is met vele seëninge, sodat dit voorspoedig en nawense verloop het. Dit het so ‘n groot indruk op hul gemaak dat hul besluit het om dié dag in die vervolg as ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel sodat die weldade van die HERE wat aan hulle bewys is, nooit deur die nageslag vergeet sou word nie. Die doel van die instelling was dat die weldade aan die nakomelinge vertel sou word en dat God daardeur vir altyd vereer moes word.
Die doel van hierdie skrywe is om volksgenote te herinner aan die beskikkende Hand van die HERE wat Hom van voor die volksplanting van ons as volk aan die suidpunt van Afrika, oor ons ontferm het.
Die herdenking van hierdie gebeure, en die eerbied wat ons hemelse Vader toekom, het in die vergetelheid verdwyn. Die ouer garde onthou nogdat Van Riebeeckdag lank gelede ‘n vakansiedag was, maar bitter min van hulle weet vandie gelofte wat gemaak is. Hierdie gelofte moet betaal word. Ons Vader in die hemel eis dit van ons in terme van:
Deut.23:21-23
[1933/53 AOV] “21 As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word. 22 Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie. 23 Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het.”
Die vraag ontstaan nou tot welke mate die versuim om ook hierdie gelofte te betaal, sonde in ons as volk geword het. Sover ons kon vasstel het Van Riebeeck en metgeselle maar vir drie jaar hul binne amptelike hoedanigheid hierby gehou. Jammerlik! Reeds gedurende 1659 het die eens vreedsame inheemse bevolking wreedaardig geword en gemoor en geplunder onder die blanke inwoners. Was dit weens die nie-nakoming van die 1654 Gelofte?
Die eer van ons hemelse Vader is in gedrang nadat Hy ons as volk beskik het aan die suidpunt van Afrika. Hy eis erkenning van ons, en by gebrek aan ons eerbiediging van hierdie Gelofte, word dit sonde in ons en sal Hy die werke van ons hande verwoes, soos opgeteken in:
Pred.5:3-5
“3 As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. 4 Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. 5 Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ‘n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was ‘n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?
Nou kan mens jouself die vraag afvra: Waarom gaan dit tans so sleg met ons as volk? Is dit nie omdat ons nie AL ons geloftes betaal nie?
Is dit nie omdat ons net aandag gee aan die Geloftevan Bloedrivier nie?
Wat het geword van die Van Riebeeck Gelofte/ Van Riebeeckdag?
Wat het geword van die herdenking van die Gelofte van Paardekraal, wat bepaal dat ons as Volk jaarliks op 16 Desember by Paardekraal bymekaar moet kom, om naas die herdenking van die Slag van Bloedrivier en die gepaargaande Gelofte, ook die oorwinning van die ZAR oor die Britse anneksasie van 1877-1881, te herdenk?
Wat het geword van die eerbiediging van die ZAR Volksraadbesluit van 31 Mei 1882, waarin geproklameer is dat 27 Februarie jaarliks as ‘n dag van verootmoediging deurgebring sal word, sodat die weldade van die Almagtige God in herinnering geroep word en die eer van die oorwinning te Majuba aan Hom gegee word?
Wat van die broederskap belofte voor God en die voorneme om in sy weë te wandel wat op 9 September 1939 op Monumentkoppie voor die Almagtige God afgelê is en waarby 70,000 – 80,000 volksgenote betrokke was? Dit was gedurende die jare toe hierdie volk weer opgestaan het en stelselmatig van die Britse juk bevry is. ‘n Klipstapeling is die stille getuienis daarvan, en het in die vergetelheid verdwyn.
Ons as Volk het hiervolgens ‘n aandeel in die haglike toestande waarin van ons verkeer.
Dit is nie net die skuld van die Nasionale Party wat u mislei het en u met ‘n demokratiese kruisie die huidige bestel laat implementeer het nie. Met ‘n kruisie is die Lewende God van hemel en aarde se drumpel gelyk gestel het met die afgode binne die aanvaarding van ‘n tussentydse grondwet, wat moes oorgaan in die huidige grondwet.
Is dit nie ook die skuld van ons vernaamste Afrikaanse kerke, wat vanaf die Wêreldraad van kerke se Cottesloe beraad [7-14 Des.1960], in die geheim en later in die openbaar, deelgeneem het aan die totstandkoming van die huidige bestel, nie, wat aanleiding gegee het tot die Rustenburg Kerkberaad, Nov.1990; wat apartheid tot sonde verklaar het terwyl o.a. 2 Kor.6:17 die teendeel vereis, wat vanaf die kansels die politieke vrede in die vooruitsig gestel het en die HERE se seën op hierdie godsdienstige hoerery gebid het?
Het hierdie volk nie daarmee die vriend van die wêreld, en daardeur die vyand van die Almagtige God geword nie [Jak.4:4]?
Verdien ons dan nie dit wat oor ons gekom het as gevolg van ons eie ongeregtighede nie?
Is dit die goeie hoedanighede van die huidige regering wat hul in beheer oor ons geplaas het, of is dit ons swak hoedanighede wat ons onder ‘n strafgerig van ons hemelse Vader geplaas het?
Kyk maar om u rond.
Word die werke van ons hande nie al sedert 1994 voor ons oë verwoes nie.
Sal die HERE dan swyg? Sal Hy Homself tot leuenaar maak en nie voltrek wat Hy beloof het nie?
Eis ons Hemelse Vader dan nie nou van ons dit wat deur ons volksgenote beloof is nie? Dit wat oor ons voorouers se lippe gegaan het nie? Dit waaraan ons as nakomelinge deur fisiese geboorte hier in Suider-Afrika aan verbonde is nie?
Vergeld Hy ons nie nou vir ons afvalligheid van Hom nie; vir ons versuim om ons geloftes te betaal en ons vleeslike en geestelike hoerery, nie – Op.2:14,20 ?
Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes? – Prediker 5:5
Daar is egter ‘n oplossing hiervoor. Die Bybel is vol voorbeelde van straf vir afvalligheid en herstel by berou en bekering.
Eerstens durf ons nie berus by die huidige omstandighede nie.
Identifiseer die oorsake van die huidige strafgerig en spreek dit aan en die
HERE sal sy toorn afwend –
Ps.81:14
“Ag, as My volk maar na My wou luister, Israel in My weë wou wandel! 15 Gou sou Ek hul vyande onderwerp en My hand teen hul teëstanders uitstrek.”
Neem u verantwoordelikheid op en betaal wat u voorsate beloof het en herstel daarmee die liefdesband tussen Vader en volk.
Volksgenote word hartlik uitgenooi na die 5de Verbondsmaal en Konsilie te Bloemfontein.
Datum en Plek: D.V. 14-17 April 2017 te Dankbaar CVO Skool, Bloemfontein.
U kan gerus die program aflaai by:
Stel soveel volksgenote moontlik in kennis hiervan en neem verlof op die dag en kom die Gelofte teenoor ons Hemelse Vader na. Betrek u hele gesin, u gemeente, u geloftefeeskomitee, u volk.