DIE GEESTELIKE TREK

Dit is ’n gemeenplaas om te sê dat die politeke stryd naas oorlog die hardste stryd is wat daar is, omdat die politek so belangrik is in ’n volk.

Die politek is die kroonrat van ’n volk se bestaan.

As dit op die politeke gebied sleg gaan, gaan dit op alle terreine sleg. En net soos daar in ’n oorlog noodwendig ongevalle is, net so is daar in die politeke stryd ook noodwendig en ongelukkig ongevalle. En dit is waarskynlik die onverstandigste ding om te staan en huil by daardie ongevalle.

Die stryd gaan voort. Daar is krag in innerlike oortuiging. Daar is krag in die wil om te oorwin, die weiering om oor te gee. Daarin lê die krag. Dit lê in die totale monstering van alle geestelike hoedanighede om alles op die spel te plaas wat nodig is om die stryd te wen.

Ons sit in ’n geestelike dampkring van Amerikanisme wat ons nie langer kan verduur as ons ons identiteit moet handhaaf nie.

Wat was die eie wat die Trekkers met hulle saamgeneem het? Dit was hul godsdiens, hulle geloof en hulle gevoel van nasionale geroepenheid.

Trek is ’n baie belangrike woord in ons bestaan. Ons moet weer trek. Maar ons trek is ’n geestelike trek weg van hierdie bestaan binne ‘n verstikkende dampkring wat deur die media en die leiers van die regering afgedwing word.

Laat ons trek met ons godsdiens, met ons kultuurgoedere, met ons taal, met ons heldedom na ’n afgegrensdheid van hierdie verstikkende en ondermynende invloede wat vandag in ons is. Ons het ’n trek nodig, maar ’n trek van die gees, ’n trek uit hierdie benouende dampkring waarin ons is waar die klem val op verandering en hervorming en afstanddoen van wat jy het en wat jy is waar die klem op die waan van gelykstelling en uitwissing van alle rassegrense is.

Laat ons trek uit hierdie dampkring van verknegtheid aan mammon se mag en die miskenninng van die geestelike hoedanighede van ons volk. En trek weg uit die Engelstalige geestelike wêreld. Dit is die een eis wat aan ons volk gestel word.

Jaap Marais

16 Desember 1987