In die Afrikanervolk is die wete nog sterk dat ‘n volk wat vasgebind word deur sy geskiedenis, wat deur leiding geïnspireer word, wat met geesdrif sy waardes en sy besittings beskerm, wat met oortuiging veg vir wat hy het en wat hy is, onoorwinlik is. Wapens kan hom nie vernietig nie. Ons het dit gesien in ons eie volk.
Ons het dit ook in die Wêreldoorlog gesien – hoe ‘n groot nasie soos die Duitse volk verpletter is, maar dan weer opgestaan en gegroei het tot ‘n groter mag as diegene wat hom verpletter het. Ons het dit sien gebeur met die Japanse volk wat onder atoomblomme gegooi is en opgestaan het, sterker as wat hy voor die oorlog was.
‘n Volk wat trou is aan homself kan nie deur die wapen vernietig word nie. Die geskiedenis van die Transvaalse Republiek het ons geleer dat daardie geleentheid wat die vyand jou bied om met die wapen te betuig dat jy bereid is om te sterf vir wat jy het en wat jy is, ‘n inspirerende en verheffende uitwerking op ‘n volk het. Net soos wat toegee en onderwerping aan jou vyand ‘n neerdrukkende uitwerking op ‘n volk het en ‘n volk afdruk na ‘n laer morele peil, net so verhef die uitdaging tot stryd en die aanvaarding van die stryd ‘n volk tot ‘n hoër morele vlak.
Daar is min volke in die wêreld wat die bestanddele van die Afrikanervolk het. Die mense uit wie die Afrikanervolk tot stand gekom het, het ‘n volk geskep wat van die hoogste intellektuele en morele krag is. Hierdie volk kan net vernietig word as hy van binne verraai word en die geleentheid om te veg vir sy reg en sy vryheid hom ontneem word.
J A Marais