Die apartheidsbeleid rus op die lewenswet van soort soek soort.
'n Ras, 'n nasie, 'n volk is die somtotaal van die persone wat hulleself as lede daarvan beskou. 'n Mens is 'n Witman omdat hy een is, omdat hy homself so beskou en omdat hy een wil wees. Net so is hy 'n Afrikaner omdat hy homself as 'n Afrikaner beskou en omdat hy een wil wees.
Net soos 'n mens jou vereenselwig met jou gesin omdat dit jou gesin is, vereenselwig 'n mens jou met jou ras of nasie omdat dit jou ras of nasie is en omdat jy een daarvan wil wees.
'n Mens het jou kinders of ouers lief, nie weens hulle uitnemende gedrag of besondere bekwaamheid of groot prestasies nie — dikwels juis ten spyte daarvan. So 'n voorkeur hoef nie geregverdig of gerasionaliseer te word deur 'n argument dat hulle mooier of beter as ander is nie. 'n Mens is geregtig om voorkeur vir sekere mense en groepe te hê, en die voorkeur hoef op niks meer as voorkeur te rus nie.
'n Nasie is, wat dit betref, soos 'n persoon. Hy het sy oorsprong in die wil van God; hy het sy roeping en hy het sy bestemming. Hy sal, net soos 'n mens, sy voorkeure hê in sy betrekkinge met ander nasies. Hierdie voorkeure rus op die lewenswet van soort soek soort.
J A Marais