PEPERDUUR

Die prysetiket van verraad

AE vd Berg

Verraaiers kan nooit vertrou word nie. Voor die Kommunistiese oorname van Hongarye in 1957 het Rusland ʼn klompie Hongare met die belofte van ruim vergoeding gewerf om die regering tot ʼn val te help bring. Toe hulle die nuwe owerheid daarna om die vergoeding nader, is hulle met die woorde “As julle jul eie volk kon verraai, hoe kan ons julle ooit vertrou?”summier doodgeskiet.

ʼn Volk kan miskien nog dwase politici verdra, maar nie verraaiers nie. Hulle beweeg ongesiens tussen hul eie mense, lyk soos hulle, praat dieselfde taal as hulle ens. Agteraf werk hulle in die geheim. En dit maak hulle gevaarliker as moordenaars wat merendeels enkelinge is. Verraaiers daarenteen is ʼn netwerk van booswigte en word dikwels tereggestel.

Nadat die groot muur van China na baie eeue voltooi is, het die owerheid dit as ondeurdringbaar beskou. Hulle was verkeerd. Vyande het drie maal daarin geslaag om dit binne te dring deur poortwagte om te koop. Geld en verraad is gewoonlik stalmaats.

Ons volk is nie deur ʼn militêre mag verslaan nie, maar deur ʼn enorme masjien van verraad verpletter. Dis die grootste misdaad teen ʼn volk en begin met toegewings. Krake wat nie herstel word nie, word spoedig breuke wat nie gekeer kan word nie. So bly geen burg of maagd vir lank ongeskonde as daar met onderhandelings begin word nie.

Verraderlike kerklui het ʼn beduidende rol in die val van wet en orde aan die suidpunt van Afrika gespeel.   Baie van hulle was so met hul eie skuld besmet, dat hulle nie gehuiwer het om hul eie mense daarmee te belas en verraad simfonies te laat klink nie.

Baie van die volksverraaiers het in konserwatiewe huise grootgeword en ʼn klad op die naam van hul voorsate gebring. Laasgenoemdes sou nooit kon dink dat hulle sulke nakomelinge sou hê en uit wit eiers swart kuikens sou broei nie!

Baie van hierdie inheemse politieke voëls wat hul dapper vlerkslag by die volksvyand geleer het, het op die kronkelpad van verraad bly hardloop totdat hulle in die dryfsand van hul eie onverskilligheid beland, gesink en van die toneel verdwyn het. Ander het hulself weer met baie versigtige voetwerk van die oorblyfsels van ʼn eens ordelike bestel aan die suidpunt van Afrika verskoon.

Volksverraad is peperduur en kinders betaal vandag die gelag. Daarom durf dit nie verswyg word nie, maar eerder oopgeskryf word.   Die geskiedenis sal self daaroor oordeel. Daar kom egter ʼn dag dat die verraaiers deur die haan van berou wakker gekraai gaan word. Siener van Rensburg sien dat hulle na die vrywording van die Boerevolk by God en hul volk om vergifnis pleit!