Ons het veel te leer uit die heldegeskiedenis van ons voorsate en in hierdie tyd van onderdrukking deur volksvreemdes in ons eie land ná die verraad in eie geledere is dit nie te versmaai nie.
Hier volg'n interessante kort uittreksel uit generaal JCG Kemp se boek DIE PAD VAN DIE VEROWERAAR, wat 'n vervolg was op sy boek VIR VRYHEID EN VIR REG.
Generaal Kemp het aktief aan die Rebellie van 1914 tot 1915 deelgeneem. Hy is egter ook gevang en is op een stadium in 'n Johannesburgse fort gestop. Die Louis Botha-regering was nog steeds so bang vir hierdie briljante strateeg dat hulle twee rye tralies tussen hom en enige ander persoon geplaas het, waartussen 'n gewapende wag op en af patrolleer het.
Op 23 Julie 1915 word Kemp ná 'n lang verhoor veroordeel tot 'n boete van 1000 pond en sewe jaar tronkstraf vir hoogverraad. Die boete is betaal uit die fonds wat gekollekteer was vir die boete van genl De Wet, waarvan 'n balans oorgebly het wat voldoende was vir Kemp se boete.
Generaals De Wet, Wessel Wessels, E A Conroy, Rocco de Villiers en Nicolaas Serfontein was die eerste wat gevonnis is. Uit Bloemfontein is hulle na die Johannesburgse fort gebring. Met die intrapslag moes hulle reeds tronkklere dra maar genl De Wet het volstrek geweier. Hulle moes ook tronkkos eet en die vyf het besluit om op 'n hongerstaking te gaan.
Vóór die vonnis het hulle hul eie kos van buite ingekry deur 'n aantal goeie moeders onder leiding van heer Mostert wat 'n fonds daarvoor in die lewe geroep het. Nou het hulle standpunt ingeneem en wanneer die tronkkos gebring word, het De Wet sommer dadelik die sop- of papbakkie omgedop. Hy het wel 'n stukkie biltong nog in sy sak gehad en wanneer die ergste honger knaag, gee hy vir elkeen so skelmpies 'n klein stukkie.
Die derde dag van die hongerstaking het ds Fourie van Jeppe vir die gevangenes kom diens hou. Hy kry toe bevel om met niemand te praat nie. Hy moet net sy diens hou en dadelik trap. Ná die diens vra hy dat twee broers sou voorgaan in gebed. Genl De Wet trek los en bid om verlossing; toe hy amen sê is Conroy klaar en hy bid dat die volk daarbuite mag weet dat hulle op hongerstaking is omdat hulle die tronkkos nie kan eet nie, en hul eie kos word hulle geweier. As hulle dus in hul eie vaderland sterwe sal dit 'n hongerdood wees, bid hy.
Ds Fourie het, soos dit bedoel was, uit hierdie gebed gemerk wat daar in die tronk gaande was. Nog dieselfde Sondag het hy genl Botha gebel, met die gevolg dat die gevangenes nog daardie Sondagmiddag toegelaat is om hul eie kos van buite te kry. Die kosstryd was gewen!
Generaal Kemp self skryf verder:
In die fort was dit die gewoonte dat alle gevangenes elke oggend in die agterplaas waar geoefen moes word, op aandag moes staan totdat meneer die goewerneur van die fort sy verskyning maak. Soms het ons vir meer as 'n kwartier so moes staan, totdat meneer eindelik opdaag. Vir hierdie stanery het ons baie gou moeg geword. Genl De Wet was die voorbok om aan dié besigheid 'n einde te maak.
Een oggend het ons weer uitgekom, 'n paar minute lank op aandag gestaan, en toe almal gaan sit. Toe meneer die goewerneur na sowat 'n kwartier opdaag, bly ons net so sit. Die gevolg was 'n hele herrie. Ons besoeke sowel as ons briewe word gekanselleer as straf vir die misdaad wat ons gepleeg het.
Ons besluit om 'n deputasie te benoem om die goewerneur van die fort te gaan spreek. Piet Grobler, ds Van Broekhuizen en ek word afgevaardig. Die goewerneur ontmoet ons en aan sy verstand word gebring dat ons politieke gevangenes is en nie gewone misdadigers nie, en dat ons stam uit die edelste onder die volk, en dat ons môre-oormôre moontlik die regeerders van die land kon wees...
Ná bespreking beloof die goewerneur om in die vervolg dadelik na ons ingeval het, sy verskyning te maak om te kom hoor of ons enige klagtes het, en indien ons instem om dit te doen, sou ons briewe en besoeke soos voorheen herstel word. Hierin het ons toegestem Dit was vir ons weer 'n oorwinning!
Toe ons Nasionale Regering in 1924 aan bewind kom, het daardie selfde goewerneur, kapt Norman, juis op pensioen afgetree, en bring hy op 'n dag besoek aan minister Piet Grobler (een van sy gevangenes van 1915-1916). Terwyl hy by Piet op kantoor is, kom ek ook juis by my kollega besoek aflê. Toe kon ons hom herinner aan die gebeure in die tronk destyds – wat hy baie goed onthou het!
Hy is op 22 November 1916 vrygelaat.
So wys dit ons weer eens wat 'n gees van weerstand vir ons volk kan beteken!