MAG VAN DIE GELDGOD

Jeanette Koekemoer

Wanneer ‘n volk homself bemagtig en dit gaan lank voorspoedig in daardie land, gebeur dit telkens dat so ‘n volk sy ideaal van vryheid uit die oog begin verloor. Om ‘n volk se geloof, beginsels en ideale lewend te hou, eis voortdurend die regte dade en wanneer dit nie meer daar is nie, word die beginsels, geloof en ideale al vaer tot die vyand daarin slaag om so 'n volk van sy mag te stroop. Eers dán word daardie volk weer in staat om ‘n ideaal te koester en met geloof aan die herstel van beginsels daarvoor te werk; eers dán is hy in staat om te veg vir wat kosbaar is en die vyand die hoof te bied.

Wat vir ‘n volk geld, geld ook vir die individu. As ‘n man nie meer sy beginsels, geloof en vryheidsideaal met dade in en buite sy huis verdedig nie, verloor hy dit mettertyd uit die oog en word hy ook deur ‘n vyand van sy mag gestroop. Eers wanneer hy sy vryheid verloor en van selfbemagtiging ontneem word, is hy in die posisie om weer daarna te streef en in geloof vir sy beginsels en ideale te werk.

Waar ‘n volk deur ‘n ander ontmagtig word, is dit as gevolg van die vraatsug na grond, minerale rykdom en mag. Wanneer ‘n individu ontmagtig word, is dit dikwels deur sy persoonlike vraatsug na rykdom en mag. In beide gevalle speel die geldgod die grootste rol en as die ideale van more nie sterker is as die werklikheid van vandag nie, verloor daardie volk of indivivu sy vryheid.

Reeds in John Vorster se bewindsjare is ons land se deure oopgegooi vir die fortuinsoekers en elke invloed van vreemde magte. Suid-Afrika was die markplein van die wêreld lank voor 1994 aangebreek het. Daarom moes dr Verwoerd vermoor word en Afrikanerregering uiteindelik heeltemal mee weggedoen word. Vandag word ook die ANC-regime deur die magte van geld beheer. Daar is nie een besluit wat hulle kan neem sonder om die geldmagte se voorskriftelike eise in ag te neem nie.

As die wagters van ‘n volk in selfsug ‘slaap’ word daardie volk vir die wolwe gegooi. Dit is wat met ons volk gebeur het. Vorster, PW, Pik Botha en FW de Klerk het as Vrymesselaars die belange van die geldmagte gedien en nie die Afrikaner se belange nie. As die wagter van die huis ‘slaap’ en die geldgod vir hom belangriker geword het as die ideale van sy gesin, word daardie huis deur totale ontwrigting van die gesinslewe ook vir die wolwe gegooi.

Maar soos die Afrikanervolk nou, gestroop van alle mag, in die posisie is om in geloof aan sy beginsels en vryheidsideaal te werk, so is ook die individu wanneer ontneem van alles, in die beste posisie om in geloof sy beginsels te herstel en aan sy werklike ideale te werk. As die doel hoog genoeg gestel word sal sport, geld en vermaak nie die aandag van hierdie strewe kan aftrek nie en is daar met die genade en liefde van die Here ‘n tweede kans tot vryheid en voorspoed -

-       vir ons volk, en ons volksgenote in nood!