Johan Dorfling
31 Mei is 'n belangrike dag in die geskiedenis van die Afrikanervolk. Onder meer is dit 'n belangrike datum waarop ons demokraties vryheid verkry het; vryheid wat later op 'n listige manier deur 'n swak Afrikanerleier van ons weggeneem is. Dog, die datum spoor ons aan om weer ons vryheid te verkry, en dit sal nie meer lank wees nie. In gees bly ons vry; aan niemand onderworpe nie.
31 Mei 1902
Die tweede Boerevryheidsoorlog het op 31 Mei 1902 ten einde gekom. Die Verdrag van Vereeniging, toe deur die Zuid-Afrikaanse Republiek, die Oranje Vrystaat en Brittanje onderteken met die geesteskrag van die Boere van "Gewond ̶ maar Onoorwonne". Dit na 'n buitengewone en onverwagte lang oorlog sedert 11 Oktober 1899 en met verlies van 34 000 vrouens en kinders in konsentrasiekampe waar hulle onmenslik deur Brittanje behandel was.
31 Mei 1910
"Gewond ̶ maar Onoorwonne" was nie net lippetaal nie. Slegs agt jaar later het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom toe die Boere saam met Engelse met Suid-Afrikaanse harte selfregering ontvang het. Die Britse oorloggeneraals was uiteraard teleurgesteld omdat die Boere bewys het dat hulle in werklikheid die oorlog gewen het. Daar was net 'n rusperiode voordat die Boeregeneraals die oorlog en hulle vryheid op die spits gedryf het.
30/31 Mei 1918
C J Langenhoven skryf die eerste drie verse van die Stem van Suid-Afrika in sy huis Arbeidsgenot op Oudtshoorn. Die vierde vers is daarna bygevoeg. Weer eens is die strewe en opregtheid van die Afrikaner in hierdie volkslied weerspieël.
31 Mei 1928
Die vlag wat Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring het, was die Prinsevlag; Oranje Blanje Blou. Dit is destyds in samewerking met die Engelsprekendes in Suid-Afrika tot 'n unievlag verwerk deur die vlae van Transvaal, Oranje Vrystaat en Brittanje daarop aan te bring. Die Britse vlag was verteenwoordigend van die Kaapprovinsie en Natal.
31 Mei 1938
Op hierdie dag is die Unievlag vir die eerste keer saam met die Union Jack in Kaapstad gehys. Terselfdertyd is Die Stem van Suid-Afrika die eerste keer deur die volk gesing. Dit was so beplan om saam te val met die 100-jarige herdenking van die Groot Trek van 1838. Die vlag en Die Stem is eers in Mei 1957 alleen as as amptelike simbole aanvaar en nie meer gesamentlik met die "Union Jack" en "God save the queen" nie.
31 Mei 1961
Die lang pad na die langverwagte Republiek van Suid-Afrika het ten einde geloop. Selfs in hierdie stadium moes die Afrikaner steeds vir sy eie toekoms veg, want die Statebond het alle moontlike pogings aangwend om die regverdige en billike binnelandse beleid te verander. Suid-Afrika het die stukrag uitnemend behou en reguit aan die Statebondslande vertel dat hulle kan gaan vlieg. Hoewel die Statebondlande foutiewelik van mening was dat hulle 'n oorwinning behaal het (Suid-Afrika sou as gevolg van druk ten gronde gaan), was die eerste vyf jaar na republiekwording uiters voorspoedig. Die Afrikaner erken geen druk nie omdat ons mense eerlik en opreg optree.
26 Mei 1948
Hierdie datum so naby aan 31 Mei en besield met die waarde van 31 Mei, moet ook hier vermeld word. Op hierdie verkiesingsdag het die dryfkrag van opregte Afrikaners meegebring dat Suid-Afrika al hoe meer onafhanklik van buitelandse invloed op die binnelandse beleid van Suid-Afrika geword het. Die strewe na 'n republiek het 'n groot hupstoot gekry totdat dit verwesenlik is.
Dieselfde volkvreemde regering wat alles probeer vernietig wat die Afrikaners tot stand gebring het, aanvaar die vryheid en belangrikheid van 31 Mei. Die huidige regering baai in die vryheid wat apartheid teweeggebring het, afgerond deur dr Verwoerd. Die sogenaamde, maar onverdienstelike leiers, verlustig hulself in die onafhanklikheid wat dr Verwoerd deurgevoer het en aanvaar met graagte die presidentskap se aansien. As dit nie vir apartheid was nie, sou Suid-Afrika onder heerskappy van Brittanje gebly het. Hoe kan die volkvreemde regering apartheid veroordeel as hy die voordele aangryp?
Ongelukkig word die belangrike datums deur die volkvreemde regering op die agtergrond verskuif en gee hulle voorkeur aan onwettige betogings en opstande wat tot wanorde lei. Beloftes soos dat geweld teen apartheid manna sal laat reën en gratis onderrig wat nie verwerklik nie, stook onrus. Met kenmerkende vasberadenheid volhard ons mense om ons volkseie te behou en wat verlore geraak het, met sekerheid terug te kry. Eerder as om ledig te sit en te wag dat wonderwerke sal gebeur, sit ons skouer aan die wiel en werk hard. Die volkvreemde regering is al hoe meer bewus van ons daadkrag. Verskeie Afrikaners bou nie verniet onvermoeid op die vaste fondament nie.
Steeds moet ons bou aan ons voorouers en ons eie strewe na vryheid met 'n eie regering deur Republiekvierings te reël en by te woon. Daar vind ons mekaar se medewerking en ondervind geestelike sterkte sodat ons nie stoepsitters word nie. Die atmosfeer by sodanige byeenkomste is wonderlik.