ONS SÁL WEER OPSTAAN!

Vryheidsvegter

"Alhoewel ons vandag onder 'n vreemde vlag verkeer wat ons nie kan liefkry nie, moet ons altyd daaraan dink hoeveel jare Israel 'n verdrukte volk was. God het vir hulle 'n Rooi See gehad, en dit was hulle redding. Ons volk is vandag ook opweg na 'n Rooi See... wat ook in twee sal oopgaan om ons in staat te stel om daardie vryheid tegemoet te gaan."   - Christiaan Rudolph de Wet, 7 Oktober 1919, sy verjaarsdag.

Hierdie woorde van genl De Wet kan net sowel vandag aan dieselfde volk gesê word want daar is reuse storms aan die opwel binne die see waar hierdie volk tans verkeer en dit kan sy einde beteken, maar daar waai ook 'n bries bo-oor ons wat verklik van die Genade wat hierdie volk sal ontvang midde in die nood wanneer ook sý Rooi See in twee sal skei om vir hom 'n pad na vryheid te baan.

Op Vrydagmiddag 3 Februarie 1922, kort voor twee-uur, was Christiaan de Wet se seuns Kotie, Isak, Christiaan en Hans met hul eggenotes om sy bed byeen. Cornelia sy vrou, het by hom gesit. Hy het haar hand gedruk en vir laas sy oë toegemaak. Hy was nie meer by hulle nie.

'n Troue en geliefde eggenoot en 'n dierbare en voorbeeldige vader moes grafwaarts gedra word, en die wêreld en die Afrikanervolk moes van genl De Wet afskeid neem.

Afskeid sou dit egter vir sy volk nooit wees nie want op wie is die Latynse spreuk meer van toepassing as op Christaan Rudolph de Wet:

Non omnis moriar! – Ek sal nie geheel en al sterf nie!

"Ek doen 'n kragtige oproep tot elke Afrikaner om die vryheidsgees nie te laat uitsterf nie. Al is ons vandag nog in bande en al rus die verdrukking nog op ons, tog moet ons altyd dink aan wat Israel moes deurgaan... Daar moet 'n einde kom aan alle verdeeldheid onder ons: die tyd het aangebreek dat die Afrikanervolk vreedsaam bymekaar moet kom in een kraal..."

Hierdie woorde het genl De Wet met die ondertekening van die Verdrag van Versailles in Julie 1919 waar genls Botha en Smuts nie geneë was om groter vryheid vir die Unie van Suid-Afrika op te eis nie, hom gedring gevoel om aan 'enige Blanke wat Suid-Afrika as sy vaderland aangeneem het', 'n oproep te rig. Daarom het hy dié pleidooi vir Afrikanereenheid so sterk gerig en daarby gepleit vir die behoud van die Afrikaner se taal en tradisies wat in stand gehou moet word anders sal die volk grafwaarts gaan.

Laat ons vandag in herinnering aan die lewe en nalatenskap van 'n groot man, 'n krygsman, volksleier en gesinsman, Christiaan de Wet, weer uitroep:
Non omnis moriar!