Hendrik Pretorius
Ons lewe in 'n wêreld van knoppies-druk en kitsoplossings. Sommige mense sal sê: “Maar gelukkig kom my kind uit 'n sterk huis met 'n stewige Christelike fondasie.” Moontlik is dit so, maar het u al gedink dat u kind 6 tot 12 ure per dag vir vyf dae 'n week en meer, met bose filosofieë ondermyn word.
Die beste gedeelte van elke dag, wanneer u kind vars en so ontvanklik as moontlik is, behoort aan ander mense om u kind op te voed. Vanaand wanneer u moeg en geȉrriteerd by die huis kom en u kind moeg is, dan wil u dit wat 'n hele dag geneem het om te bou, nou gaan evalueer en die leuens uitsif. Meeste mense dink maar net hul weet wat hul kinders leer en besef geensins wat werklik in die klaskamer plaasvind of in hul handboeke staan nie.
Met dertig minute op 'n Sondagoggend wil ons in die Sondagskool 'n buffer bou teen ten minste 30 ure en meer, se verkeerde bouwerk tydens die weeksdae. Verstaan mooi, nie alles wat in die klaskamer geleer word is verkeerd nie, maar dit verg slegs 'n klein persentasie gif om al die meel te vergiftig.
Gesien in die lig van die ware feite is Christelike skole nie 'n opsie nie, maar definitief 'n noodsaaklikheid. Die vraag is of u werklik die waarde van u kind se siel besef. Mag u genade vind om die regte besluite te neem.