Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons mag soos Dawid bid: "Red my van my vyande HERE! ...En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om... Slinger bliksem en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle!... Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose." Ps 143,144,145.
WAT DIE AFRIKANER VAN DIE JEUG VERWAG?
Dr JJ Snyman
Daar is al baie artikels geskryf oor wat die jeug van hulle ouers verwag. In hierdie artikel wil ek die prentjie omdraai sodat gekyk kan word na die jeug (of dan die jonger geslag) se rol en spesifiek met betrekking tot die voortbestaan van die Afrikaner.
Ter aanvang moet dit gestel word dat hoofsaaklik vanweë ‘n liberale aanslag, daar ‘n groot mate van vervreemding tussen die Afrikaner-ouer, en jonger geslag ontstaan het.
Dit is amper of die jonger geslag vandag verwytend staan teenoor die ouer geslag. Dit het ‘n historiese breuk veroorsaak wat uiters nadelig is vir die Afrikaner se voortbestaan. As ‘n geslag verwytend teen die vorige geslag staan ontstaan daar skeptisisme en verwydering. Wat dit vererger is wanneer die ouer geslag boonop (onder druk) erken dat hulle verkeerd was.
Selfveragting en disassosiasie is die gevolg van daardie verwyt. Maar daarby ‘n selfrespek wat skade ly en ‘n soeke na ‘n nuwe identiteit.
Die aanslag teen die Afrikaner was om te hervorm en te verander sonder om ooit aan te dui wat die eindproduk sou wees nie. Nou het ons ‘n situasie waar die Afrikaner totaal uitgelewer is aan die meerderheid se wense en grille onder die dekmantel van demokrasie, menseregte, billikheid en broederskap.
Wat moet die jeug dan doen? Wel, kom ons kyk na die vernaamste punte.
Eerstens moet besef word dat die Afrikaner ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die totstandkoming van Suid-Afrika. Hy het vir homself ‘n plek opgeëis deur stryd en selfs in oorloë om homself te beskerm. Sonder vrees vir teëspraak kan gestel word dat hy daardeur ‘n regmatige plek ingeneem en verwerf het. Die geskiedenis moet dus behoorlik bestudeer word om die Afrikaner se rol en plek vas te stel.
In die Afrikaner se kontak met ander volkere is gesien dat skeiding vrede bring. Skeiding, vanweë verskeie verskille waaronder ras, taal, kultuur, geloof, tradisies en toekomsverwagtinge.
En hierdie aspekte is nie bloot oppervlakkig nie maar het te doene met die identiteit van ‘n volk.
En wat voormelde betref staan die Afrikaner nie alleen nie. Alle volke wat hulleself wou handhaaf moes noodwendig grense trek en skeiding bewerkstellig. Dit spruit dan ook uit ‘n voorkeur vir die eie en ‘n afkeur vir die vreemde. Jy kies dus een ter uitsluiting van ‘n ander. In Suid-Afrika is dit “diskriminasie” en “rassisme” gedoop. Feit is, as jy nie ‘n voorkeur vir jou eie kan uitoefen nie, kan jy nie jouself nie beskerm nie. Voorkeur vir die eie is ‘n basiese reg, ‘n wet van die natuur, dog word dit die Afrikaner geweier – hy moet verswelg word in ‘n identiteitslose massa.
Die beleid van skeiding en afsonderlike ontwikkeling, ook genoem apartheid het sy beslag uit voormelde realiteite gekry. Nou is dit so dat dit vandag ‘n skeldwoord is.
Maar wat was dit werklik?:
- dit het ag geslaan op die volkeverskeidenheid met al sy verskille;
- dit het op grond van basiese grondregte gebiede geïdentifiseer vir die volke van Suid-Afrika. Soos Lesotho, Swaziland en Botswana vir Sotho’s, en Swazi’s en Tswanas geïdentifiseer is. Waarom kan hulle “tuislande” hê, maar Zoeloes, Xhosa’s en andere nie? Dink bietjie mooi na oor die eintlike beweegrede;
- dit het vrede tussen volkere beoog en verseker deur vreedsame naasbestaan;
- dit het ingesien dat die internasionale aanslag verskuilde oogmerke gehad het. Die eintlike oogmerk was om die Afrikaner te vernietig. Daardie strewe om die Afrikaner te vernietig is so oud soos die Afrikaner self.
Ten aansien van laasgenoemde veral is die jongmens deur propaganda uit links-liberale geledere vertel dat die doel eintlik “edel” was – gelyke regte vir almal. Daardie gelyke regte se resultaat is nou blatante diskriminasie teen die Afrikaner; ook in naam van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. En dit het geen sperdatum nie!
Kan die jongmens hom regtig identifiseer met hierdie regering en hierdie bestel? Wat is die waardesisteem, die gemeenskaplike deler van hierdie bestel?
Hoe leeg is die begrippe “demokrasie” en “menseregte” nie. As die resultaat algehele verval is nie? Die enigste volstrekte standaard wat hier in die naam van gelykheid bereik en nagestreef word is ‘n ronde nul. En die gemeenskaplike deler is die laagste gemeenskaplike deler.
Nie gelyke geleenthede nie maar gelykheid in uitkomste is die doel. As jy mense en verskillende volke gelyke geleenthede gee is die uitkoms ongelykheid juis omdat hulle verskil in intelligensie, aanleg en werksywer.
Gelyke uitkomste onderdruk dié wat juis daardie vermoëns ten volle wil uitleef. En as jy mense dwing om gelyk te wees, ontneem jy hulle vryheid en is daar geen geregtigheid nie. En dit is wat nou in Suid-Afrika gebeur.
Die ware stryd in Suid-Afrika is tussen die internasionalisme en nasionalisme. Die internasionalisme beoog met sy globalisme en verskuil agter liberale opvattings, ‘n wêreld waar identiteit vernietig word en die maghebbers geen opposisie sal kry uit ‘n beginsellose, ruggraatlose massa wat geen hoër lewensdoel sien as sy onmiddellike materiële behoeftes nie. Die boek van George Orwell, 1984, is “verpligte” leesstof!
Die nasionalisme is die teenpool van die internasionalisme – wat ag slaan op die Godgegewe verskeidenheid, die soewereiniteit van state, die doeltreffende beskerming van volkere deur grense en die reg van elke volk tot die volle uitlewing van sy waardes en beginsels.
Nou is die vraag: Het die jeug die internasionalisme verkies? Ek glo nie. Ek dink die jeug het deur die fisiese belewing van diskriminasie as die verval en misdaad gesien dat wat sedert 1994 gebeur het, beslis nie aan hulle vertolking van die begrip geregtigheid voldoen nie.
Wat die ouer geslag dus van die jonger geslag verwag is om te herbesin oor die propaganda wat in hulle kele afgedruk is en self ondersoek in te stel oor die twee groot magte wat hom in die wêreld afspeel, naamlik die nasionalisme en internasionalisme.
Ek is oortuig dat in so ‘n geval met nuwe waardering na nasionalisme gekyk sal word.