GELOFTEDAG IN DIE NUWE SA

IS DAAR NOG PLEK VIR GELOFTEDAG IN DIE NUWE SUID-AFRIKA?

Dr Pieter Swart

Die Afrikaner moet altyd bereid wees om te stry vir sy lewe en behoud.

Dr HF Verwoerd

Soos alle ander dinge wat vir die Afrikaner kosbaar is, het Geloftedag ook in die spervuur gekom. Ook uit eie geledere. Vandag is dit ‘n vraag, gegewe die realiteite van ‘n rasgemengde Suid-Afrika waar die Afrikaner tot ‘n regeerbare minderheid verdoem is en sy ganse geskiedenis as een stuk onreg uitgebeeld word, of daar nog ruimte is om Geloftedag te vier.

Op die oog af lyk dit onsinnig indien die diepere betekenis van dié dag oppervlakkig beskou word. Ja, laat ons maar terugdink aan wat was. Maar die situasie het onomkeerbaar verander, dan nie? Ons sal tog nooit weer as ‘n vrye volk in ‘n eie land kan leef nie. Dis tog realiteit? Of nie?

Met dit as agtergrond moet gekyk word na die betekenis van Geloftedag en die rol wat dit gespeel het in die ontplooiing van die geskiedenis.

Seer sekerlik het daar in 1838 by baie van die Trekkers wanhoop geheers; of dan geweldige onsekerheid. Die reeks gebeurtenisse by Moordspruit, Bloukrans en Weenen en die mislukte poging van die strafkommando moes sekerlik twyfel geskep het.

Maar dan vind ‘n enkele gebeurtenis plaas wat die gang van die geskiedenis verander. Onbewus was daardie Trekkers van die geweldige ingrypende betekenis van hulle daad.

Wat was hierdie daad? Eerstens om aan God ‘n belofte te maak. In hulle smart en teenspoed smee hulle ‘n band met mekaar en as Godgelowiges ‘n oproep tot God. Dit is nie ‘n gewone oproep nie. Dit is ‘n gelofte, ‘n plegtige onderneming. En hulle betrek hulle nageslag by daardie onderneming.

Waarom sou hulle dan ander betrek wat met die Slag van Bloedrivier niks te doene gehad het nie? Omdat dit so is dat ‘n groep mense deur goddelike beskikking in ‘n brandpunt geplaas word om namens ‘n volk of die nageslag te praat. Die geskiedenis het bewys dat Geloftedag ‘n keerpunt was. Met stelligheid sou mens kon aanvoer dat sónder Geloftedag daar niks van die Afrikaner se geskiedenis, soos dit daarna ontplooi het, tereg sou kom nie.

‘n Volk se bestaan is nie beperk tot ‘n enkele geslag nie. As lid van ‘n volk is jy die verlengstuk van jou verlede. Jy kan jou daarvan distansieer, soos baie graag wil doen, maar jy kan nie daarvan loskom nie.

Geloftedag het die Afrikaner dié sentrale rigtinggewende mag in Suid-Afrika gemaak. En die Afrikaner het hom hoe later, hoe meer, met die Gelofte vereenselwig. Dit was meer net as gevolg van ‘n verwoede vyandige aanslag dat sekere Afrikaners hulle van Geloftedag gedistansieer het.

Die aanslag het geslaag omdat die Afrikaner, anders as in 1838, deur sy leiers in die steek gelaat is. Dit is waarom baie dalk nou glo dat daar nie meer plek is vir Geloftedag in die nuwe Suid-Afrika nie.

Binne ‘n volk is daar altyd diegene wat hulle volkskap meer intens aanvoel as ander, wat ‘n sterker historiese bewustheid het en nader aan die sentrum van ‘n volk leef. Dit is aan hierdie groep opgedra om daardie rol te bly vervul en nie toe te laat dat die buiterand, die verwarde en geïndoktrineerde Afrikanerdom die leiding moet neem nie.

Sonder vrees vir teenspraak kan gestel word dat die buiterand hulle geloofsvertroue verloor het. Want Geloftedag is bewys daarvan dat God ‘n doel het met ons volk. God sal die grense van hierdie doel bepaal (Hand 17:26). Ons plig is om te bewaar wat aan ons toevertrou is.

Dr Verwoerd het in 1958 by Bloedrivier dit soos volg gestel:

Ons is nie doelloos hier geplant nie. Waarom is dit alles (die Vryheidsoorloë, Bloedrivier, nasieskap) aan ons gegee as daar nie ‘n doel was nie. Ek glo dat die doel is dat ons hier vir die Westerse beskawing en vir die Christelike godsdiens ‘n anker... moet wees.

Hy stel ook dat die groot gevaar vir ‘n volk dit is wat in sy gees aangaan: sy innerlike verswakking en verkeerde begrip van wat sy taak op aarde is.

‘n Volk stry vir iets groter as hyself. Hy doen dit vir sy nageslag. Hy kon dit alleen doen as daar die wil tot stryd, die weiering om oor te gee, die weiering om te berus en die gehegtheid aan ‘n ideaal van vryheid in ‘n eie vaderland bestaan.

Die Afrikaner het nie opgegee nie. Hy is verraai. Die Afrikaner se rol is nie vervul nie. Daar is nog lank nie met hom afgereken nie. Sy wortels lê te diep, sy historiese posisie te oorheersend, sy onwrikbare wil te onbreekbaar en sy ontwyfelbare geloof te rotsvas om hom uit hierdie land te verwyder of weg te dink.

Laat ons vashou aan die ideaal. Laat ons geanker bly in die geloof. Die geskiedenis van die Afrikaner is nie in ‘n dag geskryf nie, dit sal ook nie in enkele jare tot niet gaan nie. En die sogenaamde onomkeerbaarheid van vandag se toestand kan in ‘n oomblik verander word. Soos by Bloedrivier.

Ek sluit af met die woorde van dr Verwoerd:

Mag u krag hê, volk van Suid-Afrika, om die doel te dien waarvoor u hier gestel is.