Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg – Prediker 12.
GELOFTEFEES 2018
Leon Schoeman
Geagte Volksgenoot, dit is vandag presies 180 jaar gelede dat die Slag van Bloedrivier plaasgevind het. Op daardie dag in 1838 het die Voortrekkers wat by die Slag betrokke was, nie kon droom watter belangrike stuk geskiedenis hulle besig was om te skryf nie.
Ja, die Slag van Bloedrivier was ‘n bepalende oorlog, dit het die voortbestaan van ‘n volk bepaal. En die gebeure van daardie dag speel vandag nog ‘n rol in die lewe van die Afrikanervolk. Dit het die ontluikende jong Afrikanervolk wat toe reeds gekenmerk is deur hul diepe geloof in en afhanklikheid van ons Hemelse Vader, bevestig as ‘n verbondsvolk wat in noue verbintenis tot God staan.
Ons kan dus met reg sê dat die gebeure daardie dag ‘n vormende invloed op ons volk gehad het. Want dit het daartoe gelei dat hierdie volk deur die plegtige gelofte wat voor God afgelê is nou bekend sou staan as ‘n volk wat God se ontferming in hul diepste nood ontvang het toe hulle Hom daarom gesmeek het.
Vriende, in die Bybel lees ons maar van een ander volk, die Israeliete, waarby God so tasbaar betrokke was.
Maar net soos Israel ook telkemale hul rug op God gekeer het – dink maar aan hulle murmurering in die woestyn, kort nadat hulle op wonderbaarlike wyse uit Egipteland bevry is, so neig ons volk ook om te vergeet dat God ons op wonderbaarlike wyse tot hier gebring het. As ons na baie van ons volksgenote kyk, lyk dit soms asof hulle nie dieselfde diep geloofsband deel nie.
En as ons dan sien dat hulle geen erg het aan die onderhouding van die Gelofte nie, en hoor dat hulle van mening is dat hulle nie deur die Gelofte gebind is nie, dat hulle nie direkte nasate is van die nagenoeg 470 man wat daar geveg het, of dat die Gelofte nie meer vandag geldend is nie – dan sidder mens by die gedagte aan wat die Heilige God daarvan dink. Hy was immers die ander party in die gelofte.
Hy, wat sy kant van die gelofte gehou het. Hy wat nooit verander nie. Hy by wie daar geen omkering van gedagte is nie, Hy wat trou bly, selfs al is ons ontrou....
Ja, volksgenote, as mens kennis neem van die afvalligheid onder van ons mense dan dink mens onwillekeurig aan NP van Wyk Louw wat in sy Dieper Reg pleit dat ‘n volk nie in die newels moet verdwyn nie:
Ek kom om vir ‘n volk te pleit
wat klein naas al die volke staan,-
dat hulle naam nie sal verklink
en tot die stilte gans vergaan;
maar dat hul sterk voor God durf kom
- rein is die mens wat suiwer streef –
en deur hul reg ‘n nageslag
in verre eeue nog kan leef
Voorsitter, ons volk is tog hier deur God geplant met ‘n bepaalde doel. Ons kan nie maar net handdoek ingooi en sodoende in die vergetelheid verdwyn nie. Sou die Here ons Voortrekker-voorsate dan so wonderbaarlik die Kaapkolonie uitlei, deur tallose ontberinge heen, ons beskerm en veilig vestig in hierdie wyd uitgestrekte vaderland van ons, net om ons minder as 200 jaar later in die niet te laat verdwyn? Ons weet tog – soos dit ook in ons Republiek-Grondwet vervat is, dat Hy die beskikker is oor die lotgevalle van volkere en nasies.
Daarom sê dr. HF Verwoerd in 1958 by Bloedrivier die volgende:
Ons is nie doelloos hier geplant nie. Waarom is dit alles – die Vryheidsoorloë, Bloedrivier, nasieskap - aan ons gegee as daar nie ‘n doel was nie? Ek glo dat die doel is dat ons hier vir die Westerse beskawing en vir die Christelike godsdiens ... ‘n anker moet wees.
Ja, as gelowige volk glo ons dat die Here nog nie klaar is met ons volk nie. Dat ons deel uitmaak van sy Plan en dat ons hier ‘n bepaalde doel het om te vervul.
U sien, op die behoudende Afrikaner rus die dure plig om steeds suiwer te streef na die ideale van ons voorsate. Toe hulle die onbekende ingetrek het, was die dryfveer die soeke na vryheid en die behoefte om oor hulself te kon regeer. Vandag beleef ons weer dieselfde situasie – ons is ons vryheid ontneem en ons word deur vreemdelinge regeer. Ja, op ons wat vandag hier sit, soos die derduisende volksgenote wat elders ook die Gelofte eer, op óns rus die plig om te strewe na die herstel van ons land en die herwinning van ons volk se vryheid.
Ons moet die fakkeldraers van die nasionalisme wees. Daarom moet ons die valse skuldgevoel wat op ons afgeforseer is deur die liberale media en ander vyande van die Afrikanervolk van ons afwerp. Want ons staan met ‘n skoon gewete voor God oor ons volk se verlede. Oor ons geskiedenis wat geanker is in ons vaste geloof in Hom. ‘n Geskiedenis wat vertel van ‘n trotse heldedom, van ‘n gelowige volk wat in afhanklikheid aan God en in diepe geloof in Hom alles aangepak het, soos wat die gebeure by Bloedrivier getuig.
‘n Geskiedenis waarin breedvoerig opgeteken is die strewe na die billike behandeling van alle volke in hierdie land. Van leef en laat leef, van gun aan ‘n ander wat jy aan jouself gun. Dít is die geskiedenis waaroor ons in die beskuldigdebank geplaas word!! Nee, geagte volksgenoot – u het niks om oor skaam te wees nie. Ten spyte van wat die tydsgees u probeer wysmaak.
Nou is dit die tyd dat ons weer die hoofde moet lig om ten spyte van die neerdrukkende situasie waarin ons as Blankes verkeer, met trots te verklaar dat ons hier is om te bly, dat ons, as die regmatige eienaars van hierdie land, weier om te gaan lê. Dat ons steeds in verset sal bly teen die onregmatige diefstal van ons Godgegewe erfenis, ons land Suid-Afrika. Moenie vir u laat vertel dat ons indringers hier is en dat ons die grond nie regmatig bekom het nie. Volksgenote, ons het nie ‘n halwe morg van enigiemand gesteel nie. Die herhaling van ‘n leuen het ongelukkig die effek dat dit dan later vir die waarheid aangesien word. Ons mag nie toelaat dat dit met ons gebeur nie. Ons het lank genoeg gebukkend gegaan onder leuens en valse propaganda, ons moet ophou om verskoning te vra, en erger nog, skuldig te voel oor sogenaamde onregte in ons verlede – daar was geen sprake daarvan nie. Om ‘n liefde en ‘n voorkeur vir jou eie te koester is ‘n natuurwet en geen oortreding nie.
Voorsitter, dit is ‘n bekende feit dat die geslaagdheid van die politieke beleid van ‘n landsregering in die ekonomie van ‘n land weerspieël word. In die hoogtepuntjare van die apartheidsbeleid het die landsekonomie ongekende en ongeëwenaarde voorspoed beleef. Met ‘n groeikoers van 6% en inflasie van 2 persent. Dit was ‘n klinkklare bewys dat die apartheidsbeleid geslaagd was. Wat beleef ons tans, noudat die vettigheid van Blanke nalatenskap weggeteer is deur die bodemlose put van Swart hebsug, korrupsie en wanadministrasie? Die ekonomie staan op die randjie van ‘n ineenstorting. ‘n Kennelike bewys dat die huidige regeringsbeleid rampsalig is.
En u moet om verskoning vra oor die verlede? Oor die voorspoed wat deur alle volkere beleef is, die orde, die vreedsaamheid, die rasse-harmonie, die veiligheid...
Nee Voorsitter, omdat die bitttereinderbloed deur ons are vloei, mag ons nie berus in die verslae situasie waarin ons tans verkeer nie. Ons moet steeds in verset bly daarteen. As daar volksgenote is wat maar berus en “probeer om die beste te maak van ‘n verlore saak” moet ons optrede sodanig wees dat dit hulle weer kan bemoedig. Ons wil en gedagtes moet steeds in verset bly. Ons mag nie berus en aanvaar nie, selfs al kan ons nie onmiddellik die onwettige regime omverwerp nie. Die sekere wete dat hierdie land ons land is en die dwingende behoefte na vryheid moet ons deurentyd bemoedig tot verset.
Soos die handvol Trekkers teen die oormag Zoeloes baie benoud moes voel omdat die uitkoms so onseker, die getalle-oorwig so oorweldigend was, so lyk dit ook nie vandag vir ons moontlik om weer ons vryheid te herstel nie. Maar die geloof in God se vermoë - wat alles wat vir ons onmoontlik is - kan laat gebeur moet ons vandag besiel soos wat dit hulle laat veg het, eerder as om oor te gee of te vlug. Want wat vir ons onmoontlik is word moontlik wanner Hy ons daartoe bemagtig, net soos by Bloedrivier.
Vir Hom is enigiets moontlik, en sy Hand is nie te kort om te help nie.
Voorsitter, ons moet weet dat die skrif reeds aan die muur is vir die duistere magte wat ons tans regeer. Niks kan in wanorde bly voortbestaan nie. En wanneer hierdie bestel in duie stort moet ons slaggereed wees. Dit kan ons net doen as ons aldeur in verset bly en weier om maar gedweë in te val by die Nuwe Suid-Afrika.
Laat ons soos die Trekkers in voorbereiding op die Slag van Bloedrivier ook slaggereed word. Soos hulle die veghekke ontwerp het om die vyand buitekant die laer te hou, moet ons ook werk aan ons vermoë om fisies weerstand te bied. In stille vertroue op die God wat die oorwinning gee moet ons steeds ywer om onsself in gereedheid te bring. Meer nog, moet ons terugkeer na ons God, die God van Bloedrivier wat steeds dieselfde God is, aan Wie ons vanoggend weer ons volk se Gelofte kom aflê het.
Dan hoor ons Hom duidelik in Jeremia vir ons sê:
Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede, en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle my aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal my deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar ek julle in ballingskap weggevoer het.
Geagte Voorsitter, in ‘n tydperk wat gekenmerk word deur humanistiese, selfgesentreerde opvattings en denke, waar die eie ek die norm is, is dit nodig om weer by ons voorgeslagte uit die Voortrekkertyd te gaan leer. Van omgee vir my medemens, van ontferming oor my broer, my mede-volksgenoot wat in ellende of nood verkeer. Van nie net my eie belang voorop stel nie, maar kyk na die groter geheel, na die belang van die ganse volk.
Dan kyk ek vir ‘n slag by myself verby, en ek dink aan ‘n nageslag wat nog moet kom. Dan eers kan ek weer met trots in die Volkslied sing: laat die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly. Want dan eers besef ek dat ek maar ‘n skakel in Gods plan is, dat ek ontvang uit sy hand vanaf die voorgeslagte, ‘n dure pand wat ek as kosbare kleinood weer aan my nageslag moet oorhandig. Ons durf nie hierdie dure opdrag versaak nie!
Voorsitter, ek sluit af met die pragtige gedig:
Waarheen Blank Suid-Afrika?
Elke nuwe dag van môre
sal soos gister kom en gaan.
Maar ons dade, goed of euwel,
bly vir nageslagte staan.
As ons lewenswa gekom het
by die uitspan op die pad,
sal ons nageslag dan trots wees
om die tou by ons te vat?
Sal ons weet dat ons getrou was
in die uitvoer van ons plig?
Of sal hul wat ons moet opvolg,
hulle vinger op ons rig?
Sal hul stemme, vol van sorge
hierdie wanhoopsvraag moet vra:
"Waar is nou ons trotse erfenis?
WAAR IS BLANK SUID-AFRIKA?"
As ons steeds in verset bly oor die onreg waarin ons volk tans moet leef, sal daardie verset aangroei tot op die punt waar dit instrumenteel sal wees in die herwinning van ons vryheid.
Laat ons moed skep en ons verantwoordelikheid nakom. Ons is dit verskuldig aan die Trekkers van Bloedrivier soveel as aan ons ongebore nageslag! Soos die geskiedenis wat geskryf is deur die helde van Bloedrivier, moet ons optrede en handeling nou weer die bepalende geskiedenis skyf vir die komende geslagte.
Mag hulle trots wees op ‘n geslag wat nie gekapituleer het nie, nie bly lê het nie, maar geveg het vir ons reg en vir ons Godgegewe erfenis!