ONS VRYHEID – DIE GEVAAR VAN VERRAAD

                                                                                    Leon Schoeman

Ons is almal deeglik bewus van die redes waarom ons vandag ‘n verknegte volk is. U weet almal van die verraad wat deur FW de Klerk gepleeg is en dat ons as gevolg daarvan in 1994 sonder slag of skoot oorgelewer is aan ‘n terroristebende.

Maar ons is ook bewus van die grondliggende redes agter hierdie gebeure wat die eintlike redes is waarom die verraad plaasgevind het.

Ten eerste die geldsug van die Internasionale geldmag wat nie kon wag om hul lang vingers op ons land se mineralerykdomme te lê nie;

En tweedens, die feit dat die Afrikanervolk met sy sterk godsdiensoortuiging en vaste vertroue in die Almagtige God, vierkantig gestaan het in die pad van diegene wat strewe na ‘n eenwêreldregering. ‘n Volk wat in sy Volkslied verklaar: “Knegte van die Allerhoogste – teen die hele wêreld vry”.

Die omverwerping van die Blanke bewind hier aan die suidpunt van Afrika was ‘n voorvereiste vir die bereiking van hierdie twee doelwitte.

Maar ons weet dat ons volk nie in die eerste plek sonder rede deur die Hoër Hand hier aan die suidpunt van Afrika geplaas is nie. En ons weet ook dat God ‘n pad stap met ons volk - soos wat die gebeure met die Gelofte van 1838 ook aan ons bevestig.

God het ons met ‘n bepaalde doel hierheen gebring en nadat Hy ons hier gevestig het, het Hy geweier dat ons deur die elemente van ‘n vreemde kontinent oorweldig of uitgewis word.

So het ons volk bly staan en ontwikkel – deur Britse oorheersing aan die Kaap, Bloukrans, Weenen, twee Vryheidsoorloë en vele ander – en helaas ook teen verraad uit eie bodem.

Dit is duidelik vir enige waarnemer dat God ‘n pad stap met hierdie volk wat Hy gekies het, en dat ons daardeur as gelowige volk van God, ons verantwoordelikhede teenoor Hom moet nakom.

Daarom kan ons nie berus daarin dat ons vreemdelinge en verknegtes in ons eie land geword het nie. Daarom kan ons nie vlug, en ons heenkome elders gaan soek nie. Daarom moet ons hier pal staan – vir ons geloof en vir ons volk, omdat ons weet dat deur God se genadige beskikking, in die woorde van dr. Verwoerd, die vryheidson weer oor ons sal skyn.

Ons weet ook dat op hierdie pad na die herwinning van ons vryheid, vele struikelblokke lê. Ons volksgenote is voosgeslaan deur die skuldgevoel wat met behulp van leuen-propaganda op hulle gelê word, propaganda wat juis dit ten doel het, want ‘n volk wat skaamkry oor sy verlede en alewig moet om verskonig vra, kan geen selfrespek hê nie – en dan is daar van volksnasionalisme geen sprake nie.

Hierdie verlamming word verder in ons volk vasgelê deur die vernedering van 24 jaar se swart bewind – ‘n intelligente wit ras wat moet kniebuig voor ‘n onbeskaafde, ‘n barbaar wat kan afbreek, verbruik, misbruik en vernietig, maar by wie die vermoë tot bestuur en effektiewe regering totaal ontbreek.

Die tweede struikelblok is die probleem rondom ons volk se geloof. Waarin stel ons mense hul vertroue? Dalk in die paar randjies in die bank, of in die feit dat die sekuriteitskompleks waarin ek woon my darem teen die alledaagse misdaadsituasie beskerm. Of ploeter ek soos die meeste van my volksgenote dag-vir-dag voort in die hoop dat ek darem hierdie maand finansieël sal oorleef terwyl die hoogtepunte van my bestaan daarin setel dat wanneer ek aan die einde van die week uitgeput voor die televisie neerval ek darem die vooruitsig het van ‘n hele naweek se rugby wat my kan wegvoer uit die krisis van my bestaan.

Sport – die instrument wat deur die volksvyand aangewend is om ons op die glybaan na selfvernietiging te plaas, wat nou nog aangewend word as opium vir die siel – om ons te laat glo dat alles darem nie so sleg is nie.

My plesier, my sport, my veiligheid, my gemak...

Die humanisme het ons God geword!

Waar is daardie opregte geloof in die God wat aan ons volk wondere gedoen het?

Die derde struikelblok wat ek wil toelig, is die verdeeldheid in ons geledere wat maak dat ‘n reeds verslae volk boonop verwar word ook. So waarsku oud-President Paul Kruger ons volk in 1904 vanuit Switserland juis hierteen as volg: Hy sê: Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woorde: Verdeel en Heers nie.

Hoor u daardie woorde? Verdeel en heers is werkwoorde wat dui op´n aksie wat spesifiek beplan word.

Ons politiek is maar nog altyd regs of links; liberaal of konserwatief. En daarin lê ‘n baie eenvoudige keuse vir die man wat sy opsie moet uitoefen. Ek kies een van twee op grond van my oortuiging en sienswyse. Verdeeldheid in volksgeledere gaan dus nie primêr oor hierdie natuurlike verdeling tussen links en regs nie, maar juis om verdeeldheid aan die regterkant van ons politiek.

Hoor nou weer die woorde van pres. Kruger – verdeel en heers, dan verstaan mens dat hier ‘n doelbewuste aksie geloods word ten einde mense tot so ‘n mate te verwar of te mislei dat die ideale en strewes van hul politieke sienswyse effektief vernietig word.

Ons het dus te make met die lelike monster van verraad.

‘n Skynregse organisasie word geskep waardeur mense mislei word – maar met die spesiefieke einddoel die immobilisasie en vernietiging van juis daardie ideale wat kwansuis deur die organisasie voorgestaan word!

U ken sekerlik almal die beskrywing van die aksie van verraad soos wat dit deur die Romeinse filosoof Marcus Tullius Cicero al voor Christus se geboorte gedefinieer is:

‘n Volk kan sy dwase oorleef en selfs ook dié wat ambisieus is. ‘n Volk kan egter nie staande bly teen verraad vanuit sy binnekring nie. ‘n Vyand buite die hek is minder grotesk en gevaarlik as die verraaier, want die vyand is bekend as vyand en dra sy banier openlik. Die verraaier beweeg egter tussen sy mense, sy listige fluistergesprekke ritsel in die gange en vind weerklank tot in die vergadersale van die regering. Want die verraaier lyk nie soos ‘n verraaier nie. Die verraaier praat in die taal en idioom wat bekend is aan sy slagoffers, hy lyk soos hulle en hy deel hul argumente – hy beroep homself op daardie beginsels wat diep in sy mense se harte lê. Hy verrot die siel van sy volk, hy werk in die geheim en ongesiens in die nag om die volk se standvastigheid te vernietig. Hy besmet die volk sodat hulle nie weerstand kan bied nie. Selfs ‘n moordenaar is minder te vrees as hy.

Ons het verraad sien plaasvind in die eens behoudende Nasionale Party van dr, Verwoerd. Hoe dit stelselmatig gerysmier is deur die gif van die geheime Broederbond om uiteindelik daardie eens trotse party te laat opgaan in ‘n regering van nasionale eenheid met die kommunistiese ANC. Dit is hoe effektief verraad is.

Ons het gesien hoe die Broederbond-bevlekte kerkleiers lustig daaraan meegedoen het om hul lidmate tot instemmende oorgawe te sus deur hulle te laat glo dat hul as ondersteuners van die beleid van Apartheid verlore sondaars is. Ons moes twyfel aan ons verlede en ons vorige leiers en oortuig word dat alles wat ons tot nog toe geglo en geleef het verkeerd was.

Onthou u hoe die kultuurorganisasies een vir een hul deure begin oopgooi het vir ‘Afrikaanses' – as sou hulle ons kultuur deel – en daarmee het hulle hul deel tot die verraad van ‘n volk bygedra. Want hulle het daaraan meegedoen om ons volk van sy identiteit en selfrespek te beroof.

Dan die groot EEN – wat die finale nekslag moes toedien – die Idasa-komplot van Frederick van Zyl Slabbert met sy Conservative Dialogue Programme en die generaals, wat die KP, die TLU en die Boere Krisis-aksie pens en pooitjies deelgemaak het van hul veraad ten einde ‘n gladde oorgawe aan ‘n onwettige Swart regime te verseker.

Wat leer ons hieruit? Dat verwarring en misleiding deur verraad bekonkel, die resep is waarmee die liberalis sy doelwit bereik. Want ons volk wat inherent konserwatief is sou op geen ander wyse beweeg kon word om sy Vryheid vaarwel toe te roep nie.

Vanuit hierdie gemors moet ons nou opstaan, heel word en weer begin stry vir ons vryheid in ons vaderland.

Ons weet immers dat hierdie bestel in duie sal stort en het mnr. Jaap Marais gewaarsku dat ons wanneer dit gebeur ons nét één kans sal hê om ons vryheid te herwin!

Noudat hierdie ineenstorting so kennelik naderkom bemerk ons egter dat ‘n nuwe verraad op die horison broei. Nou sal mens met reg kon vra: Maar waarom dan? Ons volk is dan reeds verkneg en verslaan – ons vryheid ons ontneem? Onthou dan die waarskuwing van mnr. Marais – dat daar net één kans sal wees wanneer die bestel ineenstort.

Mag ons toelaat dat veraad ons hierdie kans ontneem – en belangriker nog – is ons gereed om die verraad betyds te ontmasker en aan die kaak te stel?

Die Solidariteitsbeweging saam met sy filiaal Afriforum en die FAK is vandag besig met hul sogenaamde Toekomsberaad. Dit is ‘n opvolgeberaad van die Krisisberaad wat in Meimaand die vorige jaar deur hulle gehou is.

Op vandag se beraad wil hulle die aksieplan bekendstel wat ‘n omvattende strategie vir die toekoms inhou. Deelnemers aan die beraad word opgeroep om vooraf deur verskeie dokumente te werk ten einde sinvol aan die besprekings te kan deelneem – dit is alles op hul webwerf beskikbaar gestel in ‘n sogenaamde biblioteek, en nou moet u fyn luister. Die biblioteek word as volg beskryf:

“Heelwat werk is al plaaslik en internasionaal oor die kwessie van veral groter selfstandigheid /outonomie vir minderheidsgroepe gedoen”.

Kom ons kyk na ‘n paar van die onderwerpe:

  • Assessing the spatial conditions for non-territorial autonomy
  • Autonomy and minority groups
  • Conflict management in divided societies – uses of territorial self governance
  • Grondwetlike ruimtes tot ons beskikking (Willie Spies) met die beskrywing: geleenthede tot selfbeskikking vervat in die grondwet van SA

Hierdie is niks anders as die nuutste vorm van ‘n volkstaatgedagte wat nou al in elke denkbare formaat aan ons volk opgedis is.

U weet, die verloopte HNP het met die Volksraadsverkiesingskommissie die volkstaatperd opgesaal en ook by die swart regime gaan bedel om ‘n stukkie van ons eiendom terug te kry. Die steun wat hulle hiervoor onder volksgenote kon monster was egter so minimaal dat beide die VVK en HNP waarskynlik binne afsienbare toekoms ‘n stille dood sal sterwe soos die KP en NP destyds.

Maar waarom dan alewig die volkstaat-gedagte? Omrede dit so effektief aangewend kan word – dit spreek tot die hart van die volk omdat dit die sentiment van volksvryheid en selfregering/selfbeskikking dra. ‘n Eie stukkie grond waar ons oor onsself kan regeer!

Waarom is dit egter onaanvaarbaar?

Want Suid-Afrika is ons volk se Godgegewe eiendom. Dit is bekom deur offers van bloed en lewe – in vaste vertroue en geloof in die Almagtige God is dit verkry.

Sonder dat hierdie wettige eienaars wat so duur moes betaal daarvoor daarin geken is, is dit onkonstitusioneel van hulle gesteel. Hulle was die enigstes wat daaroor kon beskik as die regmatige eienaars – wat ook internasionaal so erken is – maar hulle is nooit die geleentheid gebied om dit te doen nie. Deur verraderlike geknoei is dit op onwettige wyse van ons vervreem.

Deur te gaan onderhandel met die regime om maar ‘n gedeelte daarvan weer op te eis word daardie regime erken as sou hulle nou die wettige eienaars van ons eiendom is. Dít is HOOGVERRAAD. Om met hulle te onderhandel is om te verklaar dat jou voorgeslagte die land onwettig regeer het en dat jy nou in ‘n ondergeskikte posisie berus.

Hierdie HELE land is ons land – waarom sal ons by ‘n onwettige regime gaan pleit om net ‘n klein deeltjie daarvan te kry!

Daarom tree die Solidariteit/Afriforum konkoksie nou na vore om nuwe stamina aan ‘n holruggeryde perd te gee. Die verraad deur misleiding MOET slaag, want as die Afrikanervolk sy vryheid herwin sal dit die grootste knou wees wat die bewerkers van ‘n eenwêreldregering hulself kan bedink.

U sal verstom staan ten aanhore van wat agter die skerms by Solidariteit/Afriforum aangaan. Selfs voordat hulle Radio Pretoria gekaap het , was hulle reeds politieke bedmaats met die FAK, Dagbreek Trust, Orania-beweging, die Afrikanerbond en helaas ook die FW de Klerk Stigting.

U weet dat organisasies met duistere motiewe altyd ‘n front voorhou waaragter hulle skuil sodat hulle ware bedoelings nie op die voorgrond is nie. So gebruik die Vrymesselaars, die Round Table, die Rotariers en andere, liefdadigheidswerk as hul openbare front. Die Illuminati en sy vele vertakkinge kruip weer weg agter omgewingsbewaring.

Net so word ons mooi taal Afrikaans aangewend as die sluier waaragter vele onderduimse organisasies hul verskuilde doelwitte bedryf.

Die Suid-Afrikaanse Taalraad is in 2008 in die lewe geroep met hoofborge die Dagbreek Trust, Naspers en Sanlam.

En wie is almal hierby betrokke?

Afriforum, die Afrikanerbond, Orania, Solidariteit, Vryheidsfront +, ATKV, Voortrekkers, Fedsas, die FAK – herken u dalk hier ‘n paar outjies wat ons volksaak al erg skade berokken het?

Die Dagbreektrust – waarvan die 2de en 3de voorsitters onderskeidelik adv. Hans Strijdom en dr. HF Verwoerd was – met sy berekende bates van meer as ‘n miljard rand, deel kwistig fondse uit aan verskeie van hierdie organisasies.

Dit, in weerwil van die feit dat die oprigtringsakte van die trust bepaal dat fondse aangewend sal word tot uitbouing van Afrikanerbelange.

Dit is natuurlik nie maklik om inligting te bekom oor die trustees nie, maar Theuns Eloff (wat ook trustee is van die FW de Klerk stigting) is na die beste van my wete voorsitter van die trust, terwyl Flip Buys van Solidariteit ook ‘n lid is. Die uitvoerende hoof van Afriforum, Kallie Kriel, is ook ‘n trustee van die Dagbreek Trust. )

Die intriges hou aan en aan en dink ek dat die groot voordeel vir hierdie ouens is dat deur bloot ‘n skamele 8 of 10 van hulle bymekaar te kry kan hulle sommer met een slag bestuursvergadering hou vir:

Afriforum – die FAK – Maroela Media – Kraal Uitgewers – Pretoria FM – die FW de Klerk Stigting – Oraniabeweging – Solidasriteit en die Taalraad!!

Solidariteit het 140 000 lede wat elk R98 per maand lidmaatskapsfooie betaal. Dit gee ‘n verstommende inkomste van R13,4 miljoen per maand!

Afriforum spog met 110 00 lede.

Asof dit nie genoeg is nie, geniet hulle gereelde en prominente mediadekking as sou hulle die enigstes wees wat vir Afrikanerbelang in die bresse tree.

Sien u waarmee ons nou te doen het en vanuit watter oord hierdie nuwe aanslag van verraad kom? Ons vyande weet ook van die ineenstorting wat kom en daarom is hulle besig om die slagordes op te stel.

Ons verantwoordelikheid is groot en die taak voor ons geweldig veeleisend. Hierdie mense is nie misleides wat die gemors van die nuwe Suid-Afrika probeer regmaak deur sypaadjies te herstel en rioolaanlegte te versien nie. Hulle is misleiers wat meewerk aan hul kunstig bereide plan om enige hoop op die herstel van Afrikanervryheid in die kiem te smoor.

Ons moet ‘n sterk boodskap aan die volk uitdra waarin ons hulle bewus maak van die gevaarklike weg waarop hierdie instansies hulle wil lei.

As die saak van die herwinning van ons Vryheid ons erns is sal ons die slap hande en lam knieë moet oprig. Ons sal moet leer – ook by hierdie vyande van ons saak, dat effektiewe organisasie die grondslag lê tot die bereiking van die sukses.

Hul ledetal het nie vanself gegroei nie.

Die vele aksies waarmee hulle doenig is vra opoffering en tyd en geld.

Ons weet, dat wanneer God besluit dat Hy ons vryheid herstel, GEEN mag dit sal kan stuit nie, maar dit beteken nie dat ons agteroor kan sit en nie ons verantwoordelikhede nakom nie.

Die tyd is min – die werk te veel. Laat iedereen homself beskikbaarstel vir die stryd. Verset vereis aksie. Laat ons in diepe geloofsvertroue hierdie stryd aanpak.

Laat die woorde van president Kruger ons bemoedig: “Dit is waar”, sê hy ná die 2de Vryheidsoorlog, “...veel van wat opgebou is, is nou vernietig, verniel en het geval. Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat nou daar platlê.”