GEHOORSAAM AAN GODLOSE OWERHEID?

Johannes Uys

Dr Danie Theron het in ‘n artikel die tradisionele standpunt gehandhaaf wat teoloë en Afrikaners oor jare voorhou oor die betekenis van Romeine 13.

Ek wil egter ‘n paar klippe in die spreekwoordelike bos gooi oor dié belangrike saak. Miskien kan mens dan opnuut ‘n nuwe benadering oorweeg, eerder as die tradisionele.

Ons sien in Suid-Afrika, en ook in baie ander lande hoe outoritêr regerings hand oor hand toeneem. Dit groei inderwaarheid uit ons midde!

Waarom is dit so? Ek is van oordeel dat dit juis vanweë die waninterpretasie van Romeine 13 is.

Onderdanigheid het in die praktyk swyg beteken. ‘n Godlose owerheid en Gods-miskende grondwet het die Afrikaner tot stommiteit geslaan. In dié proses het die owerheid al hoe meer vyandiger geword. Wat die Afrikaner nie besef nie, is dat hy as vyand gereken word van die bestel.

Die owerheid is die termometer wat lesings moet neem van die idees en beginsels van die populêre mening. Maar hy is ook die termostaat wat die sedes van die samelewing transformeer.

Wat behels die idees, beginsels en sedes van die Afrikaner vandag? Sport, vermaak, materialistiese besittings?

Die punt is: Waar is die teenspraak teen ‘n regering wat kennelik nie sy pligte nakom nie:

-          dienaar van God te wees die onderdaan ten goede (Rom 13:4)

Hoe kan enigsins van hierdie owerheid gesê word dat hy ‘n dienaar van God is?

Ontvang die Afrikaner enige lof vir die goeie wat hy doen? (Rom 13:3) Beslis nie! Trouens, die Afrikaner word steeds uitgekryt as misdadigers en al wat sleg is.

Ja, so het die duiwel self sy gesag begin afdwing in hierdie land mét ons goedkeuring. Feit is mens kan nie ‘n bose regering in hierdie teksgedeelte wil plaas nie. Toe Dawid teen Saul opgetrek het en Elia teen Agab en Isebel, was hulle optrede dan nie ook ‘n oortreding van Rom 13:1 en 2 nie? Was die Groot Trek nie ook nie?

Die punt is dat ‘n owerheid die beskerming van Romeine 13 verloor as hy nie ‘n “dienaar van God” is, sy onderdane “ten goede” nie.

Opstand teen ‘n tiranie is gehoorsaamheid aan God. ‘n Tirannie kan nie as ‘n owerheid soos bedoel in Romeine 13 beskou word nie.

In 1 Tim 2:2 word die resultaat van die ideale owerheid se werk gesien – ‘n rustige lewe in alle godsvrug en waardigheid. Van ‘n rustige lewe in hierdie misdaadnes is daar nie sprake nie. Die Afrikaner se waardigheid word elke dag afgekraak. Die vervolging wat teen ons plaasvind en die uitwissing daarmee gepaard, is te wyte aan ons verloëning van ons Christelike opdrag – om weerstand te bied teen die bose!   Ook die bose owerheid wat teen ons opgestel is.

Ja, kom ons herbesin oor Romeine 13.