ROEMLOSE OORGAWE

Suid-Afrika 1990

J A Marais

WAT teen Julie 1990 in Suid-Afrika aanskou is, was 'n gevorderde fase van 'n onvoorwaardelike oorgawe van die NP-Regering aan 'n vyand wat die oorlog nie kon wen nie.

Die ANC sou in 1990 die terroriste-oorlog met moeite kon voortsit na die ineenstorting van kommunistiese regerings in Oos-Europa en die ekonomiese verval in sogenaamde Frontliniestate in Afrika. Die logiese verloop van die terroriste-oorlog in Suider-Afrika moes gewees het dat van Suid-Afrika se kant die stryd teen die terroriste op alle fronte verhe­wig sou geword het om die oorlog beslissend te wen. Dog, die teendeel is deur die Suid-Afrikaanse Regering gedoen. Die stryd is gewonne gegee, en nog voor die vredesonderhandelings begin het, het die Regering 'n reeks toegewings gemaak aan die ANC-eise—vrylating van Nelson Man­dela en ander langtermyngevangenes, ontbanning van die ANC en die SAKP, herroeping van wette waarop die ANC en die SAKP aangedring het, en aanvaarding van die beginsel van een mens, een stem. Dit terwyl van die ANC-kant geen gebaar van toegewing gemaak is nie, presies soos 'n oorwinnaar teen 'n oorwonnene optree.

Die Afrikanervolk met sy trotse rekord van heroïese stryd om sy vry­heid is stap vir stap deur 'n Afrikanerbemande regering gelei tot 'n roemlose en eerlose onvoorwaardelike oorgawe aan 'n bende terroriste.

"Vrede sonder oorwinning", is die voorskrif waarvolgens gehandel is — die ANC se terroriste-mag durf nie verslaan word nie: dit was die eis van die Amerikaanse maghebbers, die kommunistiese state en die Afrika van Swart diktators, wat hoofsaaklik onder Britse invloed gestel is.

Die oorlog moes beëindig word deur 'n revolusie, waarin die politieke, militêre en ekonomiese mag verplaas word na die kant wat die oorlog nie kan wen nie. En die belofte was dat as die oorlog deur 'n onomkeerbare re­volusie beëindig word, die Blankes van Suid-Afrika as onderworpenes aan 'n Swart regering dan in die uitgelese geselskap van "die vrye volke en bevryde nasies" ontvang sou word! Die griewende bedrog wat daarmee gepaard gegaan het, is egter dat die Afrikanervolk moes bely dat hy verant­woordelik was vir die uitbreek van die oorlog en daarom die prys van "die vrede" moet betaal.

Omdat dit Afrikaners is wat die politieke mag gehad het en ter wille van "vre­de" die oorlog moes staak wat gewen kon word, roer daar in baie van die Afri­kanervolk die verontrustende vermoede dat hulle verraai is.

Die geskiedenis wat gelei het tot die vredesonderhandelings tussen die NP-regering en die ANC-SAKP, is die verhaal van inboeting deur die De Klerk-regering van een beginsel na die ander, en die versinsel van een verskoning na die ander om elke onreg wat die Afrikanervolk aangedoen word, as reg voor te stel.

Om hierdie gevaarlike punt te bereik, het meer as twintig jaar geduur, en het aangevang met die sluipmoord op dr. HF Verwoerd.

Dit het 'n proses geword van vernietiging van die Afrikanervolk se geestelike grond­slae, van ondermyning van sy moreel, van verwerping van sy waardes, en van verwarring van sy denke.

Deur alles van die Afrikanervolk in twyfel te trek en of te breek, is 'n leegte gelaat waarin 'n gemoedstoestand, 'n dampkring vir 'n skuldgevoel geskep is om Afrikaners aanhoudend en oor elke strydvraag in die be­skuldigdebank te plaas.

Die aanspraak is dat verandering van alles moet geskied — niks is bly­wend en duursaam nie; alles is blootgestel aan twyfel. Alle waardes en standaarde van moraliteit en gedrag moet bevraag, betwyfel, verander en vervang word.

Elke afwyking van beginsel is gerasionaliseer deur 'n beroep op veran­derde omstandighede, en elke aandrang op handhawing van beginsel is afgemaak as versteuring van eenheid, as weiering om die werklikheid te erken en as wantroue in die bedoelings van leiers wat uit 'n Afrikaans na­sionale agtergrond kom.

As alles betwyfel word, vir niks ontsag betoon word nie, alles verander moet word, dan is die slotsom onvermydelik: 'n volk wat niks geldigs het nie, wat niks heilig ag nie, waar alles hervorm moet word, het niks om voor te veg nie en word die prooi van sy vyand.

Solank 'n volk vervul is met selfrespek, met eerbied vir sy geskiede­nis, met trots op sy heldedom, sal sy koers op die regte weë bly. Maar wanneer die leiers en beleidmakers die grondslae van 'n volk vernietig, word nasionale selfrespek vernietig, saam met die wil om die vyand te stuit. En vandaar word die vyand toenemend nie meer beveg nie en groei vyandigheid teen dié van die volk wat nog teen die vyand veg.

Dit is waar die Afrikanervolk te staan gekom het na twintig jaar van lei­erskap wat onder liberale invloed stap vir stap ons volk se selfrespek en selfvertroue afgetakel het, sy denke verwar, sy geloof ondermyn, sy be­ginsels verloën en sy idealisme verknoei het.

Die revolusie wat sedert Februarie 1990 baie aan momentum gewen het, is die werk van 'n Afrikanerleierskap wat nie opgewasse was nie en politieke verraad gerasionaliseer het deur die verskoning van "verandering".

In plaas van die oorlog te veg en te wen, het die Regering Suid-Afrika in 'n binnelandse krisis gedompel, wat aan die revolusionêre ANC/SAKP die geleentheid gegee het om die liberale binne die "Nasionale" Party ter wille van vrede aanvaar te kry. Die regering het "die vrede" aan ons vyan­de toevertrou.

So is die Afrikaner deur sy Afrikanerleierskap verraai.