Die land wat nou so verniel word, is tot die sterkste staat in Afrika gemaak, danksy die Afrikanervolk se wil tot eie volkskap en toewyding aan hulle vaderland. Op elke gebied dra die ontwikkeling en prestasies die stempel van die Afrikanervolk.
In die landbou, algemeen, en in die besonder die wynbou, die graanverbouing, die vrugtekweek en die teël van grootvee en kleinvee, was dit Afrikanerboere wat meestal die ontwikkeling gelei en die prestasies behaal het.
Dit was Afrikaners wat met die transportwaens in die vorige eeu die vervoerdiens verskaf het waarop die mynbou en nywerheid gegrond was. Die spore van Afrikaners se ossewaens is onuitwisbaar in die ontwikkeling van hierdie land ingepers.
Op die kulturele gebied het die volk vermag wat min ander in soortgelyke omstandighede sou kon doen. Hy het 'n eie taal ontwikkel as sy hoogste onderskeiding. Op sigself is dit 'n merkwaardige prestasie. Maar wat die merkwaardigheid verhoog, is dat die taal hom moes handhaaf teen twee sterk gevestigde tale: Hollands en Engels. Nie net het hy daarin geslaag nie, maar gaandeweg die taal ontwikkel tot 'n medium waarin poësie geskryf is wat naas die skoonste in die wêreld kan staan. Op die gebied van drama en toneelkuns is groot werk gedoen, vanaf die vroeë toneelgeselskappe wat die platteland met baie moeite, maar met onblusbare geesdrif deurreis het, en die eertydse radiodramas, tot die skepping van die groot werk van Van Wyk Louw en Dirk Opperman. Ook Die Stem van Suid-Afrika is 'n Afrikaanse skepping en 'n toonsetting deur 'n Afrikaner. Geen ander groep in Suid-Afrika het iets om daarnaas te stel nie.
Die volk het ook sy eie kerke gestig en ontwikkel vanwaar die Evangelie op 'n eie wyse uitgedra is. Ander Blanke gemeenskappe in Suid-Afrika het nie die drang gehad nie. Hulle was tevrede met die oorsese vorme wat hierheen oorgedra is.
Op die gebied van die onderwys — van die stigting en instandhouding van plaasskole, tot die stigting en uitbouing van Afrikaanse universiteite en die publikasie van wetenskaplike handboeke, tot later die daarstelling van universiteite vir die ander rasse- en volksgroepe — was dit die Afrikaners wat deur opoffering en toewyding en deur versiendheid beslag gegee het aan 'n opvoedkundige bestel wat in harmonie is met die veelvolkige en veelrassige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing.
Op nywerheidsgebied is die groot ontwikkeling geloods deur die Afrikaanse politieke leiers: genl Hertzog met Yskor in die twintigerjare, en Sasol, Krygkor, die Raad op Atoomkrag, Foskor deur die Nasionale Party van 1948 tot 1966. Dit het die grondslag gelê vir die ontwikkeling van Suid-Afrika as die industriële reus van Afrika. Die Nywerheidsontwikkelings-korporasie (NOK) is deur die bewind ook tot 'n krag uitgebou.
In die sakewêreld is Volkskas deur Afrikaners gestig en ontwikkel tot 'n groot faktor in die bankwese voordat dit in die latere monopolievorming in ABSA verdwyn het. Ander suksesvolle ondernemings soos SANLAM, SANTAM, Nasionale Pers is vanuit die Afrikanervolk geloods en tot groot omvang uitgebou, maar het vervreem geraak van hulle wortels in hulle groter verbintenis aan die georganiseerde geldmag as aan die waardes van hulle volk. Talle ander Afrikaner-ondernemings van kleiner omvang het teen sterk teenstand en met beperkte middels suksesvol gegroei weens die bekwame leiding en bestuur van Afrikaners, waaronder die naam van wyle mnr WT Marais van Omnia-kunsmis van betekenis is in die geselskap van Afrikanernasionaliste.
Die volk se mense het ingegroei in die land, en die land het hulle aan sy aarde geanker. Vir hulle was die land nie 'n grondgebied waarvan die minerale rykdom uitgebuit kon en moes word nie, maar 'n vaderland, waarin hulle duisende myle verwyder was van dié met wie hulle in gees en bloed verwant was, en digby vele van wie hulle in gees en bloed duisende myle verwyder was. Hulle het hulle siel as 'n volk apart gevind in die land. En in 'n intuïtiewe vasbinding aan die land, die naam van die land deel van hulle naam gemaak: Afrikaners. Dit is die volk wat nou as 'n miskende en verstote "minderheid" moet aanskou hoe in gruwelike onreg hierdie vaderland wat deur hulle opgebou is, geplunder word en verval tot wat die Engelse skrywer, Paul Johnson, noem " 'n industriële rommelhoop, beestelik, bloedig en bankrot".
Wie daarvoor verantwoordelik is, is nie dié wat met 'n beleid van apartheid die land regeer het nie, maar anderrassiges en andertaliges wat daarná gekom het en met behulp van die hendsoppers en verraaiers soos die De Klerks, die Pik Bothas, die Roelf Meyers en hulle meelopers van hierdie eeu die land laat verval het tot die multi-kriminele staatsashoop-in-wording. Terwyl 'n klein groepie Swartes op die vet van die aarde leef en 'n klein groepie Blanke geldvrate superrykes geword het en hulle rykdom uit die land neem.
Dit is wie die Afrikaner is – dié volk wat alles wat in Suid-Afrika van betekenis is, tot stand gebring het.