ONS VOLKSVYANDE VREES DIE HERLEWING VAN ONS NASIONALISME
"As ek tog maar my volk bymekaar kon bring!" – Genl CR de Wet
Ons volksvyande ken geen perke in hul aanslag teen ons nie. Noudat die Afrikanervolk in sy grootste krisis ooit verkeer en dit van lewensbelang is dat dié wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort om die Afrikanervolk se voortbestaan te verseker, bymekaar moet bly, word daar gepoog om ‘n wig tussen behoudende Afrikanernasionaliste in te slaan, met argumente dat hier te lande twee blanke volke ontspring het. Daar word waaragtig sovêr gegaan om te probeer bewys dat daar genetiese verskille tussen Boer en Afrikaner is. Daar is egter al boeke vol geskryf waarom dit so is dat 'n Afrikanernasionalis ook trots Boer is maar nou kom ons volksvyande en probeer nog hiermee 'n verdere wig in ons geledere indryf.
Hoe sal ‘n Afrikanernasionalis dan nie ook trots Boer kan wees nie? Natuurlik is ons! Die beproewings en lyding wat ons voorsate as “Boers” onder die Engelse juk moes verduur as gevolg van Brittanje se barbaarse gierigheid kan mos nie vergeet word nie! Noem ons Boere. Noem ons Afrikaners. Dit is dieselfde mense binne dieselfde volk van wie ons praat. Is ‘n Brit en ‘n Engelsman dan nie ook dieselfde persoon van wie daar gepraat word nie? Is die een dan noodwendig ‘n skelwoord en die ander reg?
Die woord Afrikaner en Afrikanervolk is volop deur ons Boeregeneraals gebruik soos genl. De Wet sowel as kommandant Gideon J Scheepers, waarvan hierdie enkele voorbeelde:
* “Ek voel my einde kom. Soos die Here wil. As ek die dag op my sterfbed lê en my verstand het, sou ek sê: Doen geregtigheid, maar bly Afrikaners. As ek tog maar my Volk bymekaar kon bring – mý Afrikanervolk! En almal wat in die siel by ons is, al is dit ‘n Engelsman. Dan sal ons die hand om sy nek sit, nes hy ‘n gebore Afrikaner sou wees.” (Genl. Christiaan R. de Wet) .
* “Hoe heerlik is dit nie om ‘n gekruisigde gemaak te word vir ons land en veral vir ons godsdiens! Hoe die vyand ook al mag juig, die Afrikanervolk sal lewe en nie sterf! Slagtersnek roep om wraak…” (Kommandant Gideon J. Scheepers).
* “Die Afrikaanse Volk moet die verlede nie vergeet nie… Wee hom wat die verlede nie voor oë hou nie! Die Afrikaanse Volk word gebou op sy geskiedenis. Wee hom wat hierdie opbou van die Afrikanervolk wil verstoor! Ek sê: Wee hom! En dit sê God ook!” (Genl. Christiaan R. de Wet)
Hoe daar ook al betoog word, is dit ‘n onbetwisbare feit dat Afrikaner en Boer een volk is. Moet nie toelaat dat die vyand ook met hierdie verdelingsaksie slaag nie! Dit is baie belangriker dat ons, ons energie moet gebruik om almal wat hulself beskou as Boer óf Afrikaner saam te bind onder die vaandel van Afrikanernasionalisme.
Ons moet nie toelaat dat die vyand wat ‘n gevaar sien in die herlewing van Afrikanernasionalisme, nou met die gedagte van twee volke in eie geledere, verdere verdeeldheid saai tussen volksgenote wat bymekaar hoort nie – WANT HIERDIE POGING TOT VERDEELDHEID HET SY OORSPRONG ALLEENLIK BY ONS VOLKSVYANDE!!