VREDE, VREDE? NEE, DIS OORLOG!

"Daar is ’n vrede wat die dood is en daar is ’n oorlog wat die lewe is.  Die volk wat nie waardes het nie, wat geen geloof het nie, so ’n volk gee oor, want hy het niks om voor te veg nie en niks om te verdedig nie.  So ’n volk word in oneer van die aarde afgevee."

Hierdie diepdeurdenkte woorde van Jaap Marais moet 'n keer goed deur reggeaarde volksgenote oordink word: dan sal ons dalk die erns van ons huidige toestand begin besef en ophou om die doodsheid waarin ons volksgees verkeer as 'n vredestoestand sien, en ons sal begin besef dat ons uit hierdie doodsheid moet uitbeur juis nie om sogenaamde vrede nie, maar om 'n weerstandsoorlog te voer wat weer vir ons lewe in hierdie land sal bring. Dan sal ons begin verstaan; en dan sal ons glo dat as ons dit nié doen nie, ons reeds oorgegee en ons niks meer het om voor te veg nie. En dán moet ons weet dat ons in geheel as 'n volk van hierdie aardbol afgevee gaan word – ons sal onthou word as die volk met die kortste bestaan van alle volkere voordat hy verdwyn het.

 

Victor Frankl, een van die min oorlewendes uit 'n Russiese tronk het ná die tyd gesê as sy mense geweet het hoé erg dit sou wees, dit wat in die tronke vir hulle gewag het waar hulle een-een gesterf het van die onmenslike marteling, dan sou hulle, toe hulle nog IETS gehad het om voor te veg voordat hulle gevange geneem is, selfs al het hulle nie meer goeie wapens gehad nie, dit met stokke, grawe en vuurherdysters beskerm het – selfs tot die dood toe, wat baie genadiger sou wees as die verskriklike lyding in gevangeneskap.
Sal die Afrikanervolk nie maar die bietjie wat hy nog het nóú met stokke, grawe, vuurherdysters en selfs alles meer wat ons nog besit, in geloof beskerm en verdedig nie, in plaas daarvan om die laaste wat ons het ook voor die swyne te gooi en in groter lyding te sterf?

Emiliano Zapata het eenmaal gesê dat dit beter is om op jou voete te sterf as om op jou knieë voor jou vyand te leef – as hy jou sou spaar. Maar as hy jou spaar sal dit die "vrede" van die dood wees – 'n sogenaamde vrede, een van marteling en lyding – tot 'n veel erger dood toe.

Ons moet weet, soos Langenhoven sê: om dood te gaan is geen kuns nie: die slegste kry dit reg. Om te lewe is 'n kuns: die beste kry dit nie goed reg nie. Moet dus nie die dood vrees nie, vrees vir jou lewe en sorg dat jy só leef dat jy die held is.

Laat ons opstaan en die oorlog van die lewe gaan voer – ons is dit aan ons kinders verskuldig!