LEWENS- BESKOUING VAN 'n AFRIKANER

Deur Christina Vorster van die Afrikaner Nasionalistiese Beweging

Iemand het onlangs opgemerk dat Afrikaners haat verwar met patriotisme. Ons is glo só verward… Ja, inderdaad is daar verwarde Afrikaners, maar dit is ook so dat die meerderheid propaganda glo in stede van om by eenvoudige definisies van belangrike begrippe te hou.

Drie definisies is hier belangrik:

  • Volk: die wat in dieselfde gesinsverband/familieverband/taalverband/kultuurverband en rasverband gebore is.
  • Rassisme ('n term wat maar redelik onlangs uitgedink is): Haat teenoor 'n ander volk/land/kultuur/taal of ras.
  • Nasionalisme/patriotisme (eeu-oue begrip): Liefde vir eie volk, land, kultuur, taal of ras.

Is dit nie eerder so dat sommige Afrikaners en andere patriotisme, oftewel liefde, verwar met rassisme, oftewel haat, nie?

As 'n man sy vrou en kinders, sy ouers en sy familie se belange beskerm teen die wat hom en hulle benadeel/bedreig is hy dan 'n rassis? As 'n man liefhet dit wat eie aan homself is en dit beskerm teenoor die wat hom en sy naastes haat en bedreig, is hy dan 'n hater? Nee! As ek die wat die naaste aan my is (myne) liefhet bó die wat verder of verste van my af is (ander s'n), beteken dit nie dat ek daardie ander haat nie. Dit beteken wel dat ek myne liefhet.

Haat verteer. Liefde voed. In dieselfde asem kan ook gesê word kommunisme, sosialisme en liberalisme verteer, maar nasionalisme en patriotisme voed. Ons kan sien dat ons volk en die ganse wêreld 'n groot donkerte tegemoet gaan, maar weet nie meer waarvandaan die donkerte kom nie, omdat hulle die geskiedenis nie meer ken nie. Dit maak ons wel verward. Ons weet nie meer wie ons grootste vyande is nie en baie onder ons erken selfs nie dat daar so iets as 'n vyand is nie. Alles is maar net omstandighede en foute wat mense maak. Ons plaas ons lewens in die hande van juis dié wat ons ondergang soek. Dan kan ons nie verstaan hoekom ons doodgewurg word nie.

Ons doen ons bes om op te hou om Afrikaners te wees en dan kan ons nie verstaan hoekom daar oor ons geloop word nie. Natuurlik het die vyand geen respek vir ons nie – watter vyand kan respek hê vir 'n opponent wat sommer net oorgee, sy wapens laat val en smeek: Sê tog net wat kan ek nog doen, sodat jy van my hou? Boonop het ons geen respek vir onsself nie – ons kruip dan voor die wat op ons trap.

Waarom moet die Afrikanervolk sy identiteit en lewenbeskouing prysgee? Omdat die vyand dit eis? Ons kan maar netsowel dapper wees en onsself wees en ons land en ons volk en ons taal liefhê, sonder om ons te skaam daarvoor. Dan sal ons weer ons selfrespek herwin. Dan sal ons weer 'n kans hê om te oorleef en ons lewens te red, letterlik en figuurlik.

Ons is ook verward omdat ons die geskiedenis vergeet en die leuens glo. Ons vergeet van die Houtperd van Trojé, en Piet Retief in Dingaan se kraal – vergeet hoe slim mense die vyand se leuens geglo het, hulle wapens neergelê het en gevolglik vernietig is. Daar is 'n rede hoekom ons voorouers gesê het: Liewer bang Jan as Dooi Jan. Jy kan die vyand nie vertrou nie. Nooit nie. Moenie hom glo as hy sê hy is nou vriend nie, veral nie as hy jou begin beskuldig van dit wat hy doen nie.

As hy skreeu: “Jy is onverdraagsaam!” Probeer hy sy eie onverdraagsaamheid verberg. As hy skreeu: “Jy haat my!” Probeer hy sy eie haat wegsteek. As hy skreeu: “Jy is my vyand!” Is hy jou vyand. Ons, die Afrikanervolk, sal nooit iets kan reg doen in die oë van ons vyande nie. Juis omdat hulle óns haat en nog altyd gehaat het. Die Afrikaner was in sy hele verlede nooit rassisties nie. Daar was nie in ons volk se geskiedenis ooit 'n geval van: "First they fell on their knees, and then they fell on the Aborigines" nie. Ons het nie Indiaan-dorpies omsingel en bly skiet tot almal binne, man vrou en kind, uitgewis is nie. Ons het nie vrouens en kinders in helkampe saamgehok soos diere, sonder kos, water en sanitasie om hul mans 'n les te leer nie. Ons het nie 'n A-bom op 'n Hirosjima en Nagasaki gegooi nie. Ons het nie 'n Duitsland opgekerf in stukkies en ons krygsgevangenes as 'other losses' laat sterf sonder kos en klere, agter doringdraad, nie.

Ons het nie 'n "Kill the Boer, Kill the Farmer"-kultuur nie. Ons het nie massas onskuldige lewens op ons gewete nie. Die teendeel is eerder waar. Ons het 'n Piet Retief, wat grond gaan kóóp het by die (Swart) hoof van daardie land. Ons het 'n Mamelodi (Paul Kruger se bynaam onder die Swart volk) wat gekeer het dat die Swartmense van Modjadji mekaar verder 'opeet' en hulle van die Here geleer het.

Ons het 'n Verwoerd, wat gesorg het dat die Swartmense wat sy land binnegekom het op soek na werk, uiteindelik nie net kos en klere gehad het nie, maar ook hospitale, skole, fabrieke, paaie, handelskole, universiteite, huise, besighede, rioleringstelsels… Ons het selfs ons eie Wit mense van hul erfgrond afgehaal en hervestig, ten einde tuislande te skep waar Swart mense hulself kan regeer.

Hoe kan ons dan alles vergeet? So gou? En die vyand se leuens glo? So maklik? Ja, ons is verward. Ons weet nie meer in wie ons glo of wat ons ware doel op aarde is nie. God het volke en tale en kulture gemaak om orde te skep. God se vyand wil volke tale en kulture vernietig, om die orde te vernietig, in die hoop om God ook te vernietig. Die Lig moet gedoof word. Daar moet duisternis wees. Die getuienis mag nie meer gehoor word nie. Daarom is God se vyand, ook die Afrikanervolk se vyand. Daarom is ons taak om die Lig te laat brand, nie te help uitdoof nie. Sodat die getuienis steeds gehoor kan word, en daar Lig sal wees, en nie duisternis nie.