WAAR STAAN JY!

Johan Hack

Pof. Johan Bosman het ‘n artikel geskryf in die APK se Junie 2019 uitgawe van die Boodskapper, oor Christelike plig tot gewapende verset:

Ons lees nou meer gereeld oor ons Christelike plig om oor te gaan tot gewapende verset. Dit is iets wat deel uitmaak van ons geskiedenis, ons ontstaan en wat uiteindelik gelei het tot ons voortbestaan, eerstens as Christen en dan as Afrikanervolk. Het die Voortrekkers nie ook die wet van die Britse ryk verontagsaam toe daar ‘n beperking geplaas is op die hoeveelheid buskruit wat saamgeneem kon word tydens die trek nie?

Hoeveel van ons is moeg vir die wetteloosheid in ons land, die onregverdige behandeling omdat ons blank is en dan verder vertrap word omdat ons Afrikaans is. Let op die veragtende kyk van anderskleuriges wanneer ons verby hulle loop of ry, veral van die jonger geslag wat nie eers apartheid ervaar het nie en steeds vashou aan hierdie ‘onreg’ wat hulle glo aangedoen is. Die Psalmdigter skryf ook in Psalm 123:3-4 van so ‘n veragting. “Wees ons genadig o Here, wees ons genadig, want meer as versadig is ons van veragting; meer as versadig is ons siel van die spot van die oormoediges, van die veragting van die trotsaards!”  Let op die uitroepteken aan die einde van vers 4.

Hoeveel moet ons nog verdra? Of sal ons soos ‘n kreef onwetend in ‘n al warm-wordende pot tot ons einde kom. Hierdie aanslag is ook teen ons Christelike geloof geloods, ook deur mede blankes en erger, Afrikaner-blankes. Nog ‘n les wat vandag se skole nie meer aan ons kinders oordra nie is hoe hierdie einste ‘Burgers’ in die verlede die ‘Hanskakies’ en ‘Joiners’ geheet het. ‘n Skandvlek op ons Christen Afrikanervolk wat moes veg vir Vryheid en soveel opgeoffer het.

Hoeveel van ons sal oorbly as die wat selfdegeslag huwelike, rasvermenging, aborsies en integrasie aanvaar en nog bevorder, gevra word om eenkant toe te staan?

Hierdie einste liberaliste en hoofstroom kerke met hulle Kairos ideologie haal graag aan uit Matt. 22 :39: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Hier volg n uittreksel uit Ds C R Kotze se preek soos dit hier verskyn op die Gelofteland webwerf onder BYBEL EN VOLKSTRYD (4) Lees gerus weer die volledige preek.

Elkeen moet vra : Wat is in my binneste ? Die kennis, die waarheid, die oortuiging, die regsgevoel. Dis my eie, dis my innerlike self. Ek moet in my binneste inkyk. Ek moet my aandag gee aan die innerlike self. Hoe lyk my innerlike self? Wat het God daarin, geplant ? Ek moet daardie innerlike self waardeer, versorg, bewaar, beskerm. Ek moet die self liefhê. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, en jy moet jouself liefhê soos jou naaste.

Ek moet myself liefhê, soos ek my naaste liefhet.Die Heiland sê dat hierin is die samevatting van die wet! As ek my naaste liefhet, sal ek hom nie vermoor nie, nie besteel nie, nie beskinder nie, nie sy goed begeer nie. As ek my naaste liefhet, sal ek hom lewe, gesondheid en geluk gun, sal ek hom al sy besittings gun, sal ek hom sy goeie naam gun, sal ek nooit wens om van sy goed te kry nie.

Nou sê die Here dat ek myself netso moet liefhê. Al wat ek as Christen vir my medemens gun, moet ek vir myself ook gun. Gun ek vir my naaste sy kerk, sy godsdiens, sy taal, dan gun ek vir myself ook my eie kerk, my eie godsdiens, taal. Gun ek vir my medemens sy land, sy vryheid, sy vrede, dan gun ek vir myself ook my land, my vryheid, my vrede.

So waar laat dit ons ? Saam met Gideon nog in die parskuip? Want duidelik staan ons nog nie by die fontein van Harod nie!