Ds A.E. vd Berg
“Ek kan jou nie vergoed of kos gee nie. Al wat ek jou kan bied, is honger, dors, stryd en die dood. Volg my net as jy jou volk met jou hart en nie met jou eie lewe liefhet nie!” (Garibaldi)
Die geskiedenis getuig van mense wat weens hul geloof in Christus en liefde vir hul volk kragtige instrumente in God se hand was. ʼn Gelowige se eer is sy volk se eer en verdedig hy dit wat vir hom kosbaar is. Daarom is gelowiges se liefde vir God en hul volk te groot om enigsins eerbied vir verraaiers te hê en net te belangrik om hul toekoms aan volksvyandige agendas oor te laat.
Volksliefde beteken ʼn verknogtheid aan ʼn betrokke volk, maar nie noodwendig aan die regering van die dag nie. Dit hou die voordeel in dat dit wat so ʼn persoon vir sy land doen, hy ook vir homself doen. Dit kan met die liefde van ʼn man vir sy vrou vergelyk word – hy soek net die beste vir haar.
Enige volksliefde wat op eerbare beginsels geskoei is, is deugsaam. Indien dit niks anders nie as ʼn opwelling van blinde gevoelens is, kan dit selfs gevaarlik wees. Iemand het by geleentheid gesê dat ongesonde volksliefde so erg soos koors is, genadeloos soos die dood, blind soos ʼn mol en daarby ook so onredelik soos ʼn afkophoender!
Volksliefde gaan met stryd gepaard. Gelowiges se hartstog vir die waarheid en sin vir geregtigheid laat hul nooit die stryd vir hul volk gewonne gee nie. Hulle koester ʼn lewenslange verantwoordelikheidsgevoel teenoor hul volksgenote en ontplooi nooit hul seile in verraderlike winde nie.
Wie sy volk liefhet, moet gedurig vuur uit die vyand se linie verwag. Wie die vryheidsvlam aan die brand hou, steek volksverraaiers altyd dwars in die krop.